Skip to content

Nog ‘n najaar in die vreemde…

November 9, 2012

Ek het die afgelope paar jaar met ritualistiese reëlmaat oor herfs geskryf – oa hier, hier en hier. Omdat hierdie my gunsteling seisoen is en so treffend gedefinieerd manifesteer in die Noordelike Halfrond, word ek jaarliks daartoe gedring om iets van die ervaring te deel.

framef8bbedc635a8f053c11e631340888ad6a6e292b7

Hierdie jaar – so het ek gedink – sal ek nie iets skryf nie, want my beskrywende woordeskat tov herfs is so te sê uitgeput. Ek was besig met ander dinge en hierdie herfs het my meestal verbygegaan. Ek het nie eens die moeite gedoen om my lens in te span nie…wel, tot gister.

frameb7d8184f7dbfc0bb8ce588d94b69191f3b551f9a

Elke dag stap ek langs die rivier en vang die kwynende kleurespel en kalerwordende takke my oog. Gistermiddag kon ek nie verder die versoeking weerstaan nie en het ek kamera gaan gryp, so terwyl die namiddag se laaste bietjie flou hitte in die lug bly hang.

frame719d19f28c4ca112ad04d4e5b50fc4869f978c85

Dit is hoofsaaklik die pragtige goudgeel van die ginkgo-bome wat my aandag getrek het. Dit is eenvoudig so ‘n ryk en diep geel, dat ek net nie kan weerstaan om dit onder lens te neem nie. Baie van die herfs se kleuredos is reeds afgeskud, maar tussen die kaal bome, is daar vele bome wat steeds krampagtig vasklou aan hulle herfsgewaad.

framefb20c5e6e34dfb2add182273f61f860e9e599a92

Benewens die bome, is die paadjies en grond bedek in ‘n veelkleurige gewaad van droë blare en tussen die kleure, staan ‘n naakte tamatiepruimboom, met ryp oranje vrugte geëts teen die lug. Dit is so dat dit nou elke dag ongemaklik kouer word en daar is ‘n bepaalde hartseer in die lug as die bome hul kaal takke begin wys en die wêreld om jou begin vervaal. Onwillekeurig draai Koos Doep se woorde in my kop:

Nog ‘n najaar in die vreemde, met my drome sonder tal.
En ek weet die winter kom weer, met sy sneeu wat ewig val.

Dis die seisoen van heimwee, nostalgie en verlange. Dis die seisoen van verlore geliefdes en glimlagte wat was; van herinneringe aan die vreugde van lente en die somerhitte. Maar dis ook die seisoen van refleksie, van asemhaal en van vrede.

frame50fff2f144bd5b82cacafcc47f76f4e9ec21b604

Want ondanks die verlies en verlange, bring die seisoen ‘n onbeskryflike gevoel van berusting, wat ek afwesig vind in die ander seisoene. Binnekort sal die koue my omsingel en die wêreld kaal, kleurloos en lelik laat. Nou is daar egter nog kleur en ek geniet die laaste paar dae van die statige seisoen…

Maar hier buite sterf die somer, en ek sien die blare val.
En iewers skyn die somerson, op die velde van Transvaal.
En êrens dreun die branders, aan die strande van Natal.
Ek sit soms en ek luister, of ek dalk in die wind.
Die Vrystaat en die Boland, se stemme terug kan vind.

21 Kommentaar leave one →
  1. Riko permalink
    November 9, 2012 6:46 nm

    Daardie 5 reels aan die einde is pragtig, bib. Dit resoneer hier diep binne my siel.

    “Ek sit soms en ek luister, of ek dalk in die wind.
    Die Vrystaat en die Boland, se stemme terug kan vind.”

    Amen.

  2. November 9, 2012 7:51 nm

    Ek is so bly jy’t vir die stemmetjie in jou kop geluister en jou kamera ingespan! Jy skryf só mooi dat ek ook sommer ‘n vredige gevoel in my binneste ervaar. 🙂

  3. November 9, 2012 8:33 nm

    Die fotos is asemrowend mooi!

  4. November 9, 2012 9:15 nm

    Dankie vir die positiewe kommentaar!🙂 Hoewel ek nie dink die fout word gemaak nie, wil ek dit darem net duidelik stel dat die aanhalings in kursief natuurlik die woorde is uit Koos du Plessis se lied en nie my eie woorde nie.

  5. November 9, 2012 11:00 nm

    koos weet hoe om met woorde te praat, wat jou siel voed…
    die pics net so pragtig en vind aanklank by die pragtige woorde

  6. brieweuitdievreemde permalink
    November 9, 2012 11:16 nm

    My studente het my altyd vertel dat in Korea is herfs die mans se seisoen en lente die vrouens s’n. Die mans met wie ek gepraat het hieroor, het – interessant genoeg – baie dieselfde soort ding gese oor herfs as wat jy hierbo doen. Het ‘n baie mooi gedig van Koreaanse digter Ko-un gehad oor herfs maar het ongelukkig die vertaling iewers verloor.

    • November 10, 2012 4:02 nm

      Ja, ek het dit ookal gehoor en voorheen nog nooit so daaroor gedink nie. Maar maak eintlik baie sin.

  7. kyker permalink
    November 9, 2012 11:51 nm

    Jou nuwe land se najare is skilderagtig mooi, gemeet aan al jou inskrywings.

    Miskien is vaderslandsvelange soos goeie wyn: Die ervaring word net meer intens soos die jare aanstap.

    • November 10, 2012 4:04 nm

      Ek glo elke land het sy eiesoortige natuurskoon – mens moet maar net daarvoor soek. Is ook reeds eintlik my “ou” nuwe land.🙂 Ek dink die verlange na die geboorteland is baie keer meer ‘n verlange na die verlede as uitsluitlik na ‘n land.

  8. Namaste permalink
    November 10, 2012 4:03 vm

    en hier is dit die mooiste groenste persste somer ooit… so draai die aarde…

  9. November 10, 2012 4:04 nm

    Pers….in Pretoria, neem ek aan?

  10. November 10, 2012 9:35 nm

    Pragtige pragtige post, dankie!

  11. Afrikola permalink
    November 11, 2012 5:36 nm

    Ek dink daai laaste vyf strofes bring kiekies en klanke na die meeste bannelinge se harte. Die bangte vir die donker koue winter, en tog is dit n tyd wat diep meditasie na vore bring. En in dele van S.A. is dit totaal afwesig.Ek het altyd gedink Durban is soos n groen robot,wat nooit oorslaan nie.Ek het jare terug iets in Engels geskryf oor hierdie tyd, “As the autumn rain, washes the last colours down the stream,every tree,faces the naked truth”. Maar dit is net n wandeling,want hierop volg die trasformasie,soos Opperman dig, ” In die lente , is self die knorrigste boom, ewe jonk ” En daai tamatiepruim foto is Zensational !

  12. November 12, 2012 5:55 nm

    Nee, ek dink ons stem saam oor hierdie seisoen. “Durban soos ‘n groen robot wat nooit oorslaan nie”🙂 Inderdaad. Hoewel, hier in die vreemde moet mens mos maar van “traffic light” praat, anders kyk mense jou snaaks aan.

  13. November 13, 2012 11:41 vm

    Beslis die lieflikste seisoen in Korea. Aai, ek sien nie uit na die koue vanjaar nie. Dit is alreeds te koud na my sin, en ek verlang nou baie na Durban se warm “groen robot”.

  14. November 13, 2012 2:13 nm

    Bly vir jou part en dankbaar dat ons dit kan deel, dat jy tog die vingers losgemaak het om kiekies te neem en stories te tik oor die helfs. Mooi woorde oor herfs veral die “gevoel van berusting”.

    Mmm…interessant. Die manlike/vroulike seisoene. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie. Ek neem dus aan dis dalk moontlik dat Lente beide manlike en vroulik is as ‘n mens dink hoe viriel en uitspattig die natuur is in Lente met al die ereksies en resurreksies van nuwe jaarlinge en meerjarige plante soos hulle voort beur uit die grond uit. En tydens die aanbidding van die son en sy hitte en “general much happiness in the air”, maak al wat blom is hulself mooi, blomblare gekleur en wyd oop gesprei vir maksimale inname van massas fluffy stuifmeel as ultimate bevrediging vir rede van bestaan en voortbestaan. Maar herfs manlik? Interessant! Oh well…

  15. luthien permalink
    November 13, 2012 5:43 nm

    Jy beskryf di gevoel van herfs in Korea presies soos ek dit ervaar.in Korea defnitief di seisoen met di meeste gevoel en emosie.

  16. Mari permalink
    Desember 26, 2012 11:01 nm

    Magtig maar jy kan ‘n woord goed raakvat. Mari

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: