Skip to content

Riaan Cruywagen: Die gedienstige handpop

November 27, 2012

As ek so na die sosiale netwerke kyk en die Suid-Afrikaanse media dophou, wil dit my voorkom asof ek die enigste Afrikaanssprekende (of in Naspers-terminologie:”Afrikaanse”) is wat nie vreeslik gesteur is deur die (uiteindelike) aftrede van ene Riaan Cruywagen nie. Nou weet ek hoe ‘n persoon wat glad nie in krieket belangstel nie, moet voel oor Faf du Plessis se fenomenale kolfbeurt wat gister die tweede kriekettoets teen Australië gered het. Omdat hulle nie in krieket belangstel nie, verstaan hulle eenvoudig nie die ophef nie.

Is dit dalk omdat ek in die buiteland sit of is dit omdat ek nie belangstel in Afrikaanse nuus nie, of is ek dalk bloot ‘n pretbederwer? Tog nie. Om nou self ‘n vieslike Anglisisme te gebruik: in my lewe was ek al so ‘n paar keer om die blok en ek het al baie soorte mense leer ken en saam met hulle gewerk. Ek vermoed as ek saam met Cruywagen sou werk, sou ons moontlik van dag een af koppe gestamp het. Maar hoekom?

Veel gewag word gemaak van Cruywagen se 37 jaar op televisie, maar min mense dink ‘n bietjie verder en besef wat dit in werklikheid beteken. Dit beteken dat Cruywagen eers vir baie jare die apartheidsregerings se propaganda met ‘n reguit gesig en ‘n glimlaggie gelees het en daarna robotagtig voortgegaan het om die ANC-propaganda te verkondig, asof niks ooit gebeur het nie. Cruywagen het duidelik van die begin van sy loopbaan by die SAUK sy seile na die wind geswaai en besluit dat sy salaris en uiteindelike pensioen veel meer werd is as sy eie onafhanklike opinie.

Kyk, duidelik het die man die essensie van sy taak ernstig opgeneem en ek erken ruiterlik dat hy ‘n goeie nuusleser was. Hy is klaarblyklik ook ‘n baie geliefde eggenoot, pa en oupa. Feit van die saak is net dat dit ‘n baie spesiale tipe mens neem om moeiteloos die oorgang te maak tussen apartheidspropaganda en ANC-propaganda. Die tipe mens wat nooit bevraagteken nie, altyd ja-en-amen vir sy politieke base by die uitsaaikorporasie en wat tot die uiterste sal gaan om die weg van minste weerstand te kies, al sou dit nou ook teen sy gewete indruis. Die soetseuntjie, die klaskaptein, die hoofprefek wat agteroor sal buig om sy base gelukkig te maak. Of om dan nou die gebrek op die naam te noem: ruggraatloosheid. Daar is bloot geen ander verklaring vir die feit nie dat Cruywagen as Afrikaanssprekende blanke man wat die apartheidsregime gedien het, tot nou toe ook die ANC kon dien.

Maar ondanks Cruywagen se duidelike selfdienende loopbaantaktiek, het hy nogtans daarin geslaag om ‘n tipe Afrikaner-ikoon (let wel nie “Afrikaanses”-ikoon nie) te word. Hoe het dit gebeur? Ek glo dis omdat Cruywagen as’t ware die laaste openbare naelstring was wat Afrikaners aan kon vasklou sedert 1994. Alles het verander en ‘n hele nuwe realiteit het om die Afrikaner ontvou, maar Cruywagen het soos ‘n rots bly staan. Die een enkele ding wat Afrikaners kon herinner aan die tyd toe hulle die mag gehad het; toe hulle propaganda geseëvier het en toe die SAUK ‘n instrument in die Nasionale Party se hand was. Dit is ‘n bekende feit dat mense wat aan geweldige sosio-politieke veranderinge blootgestel word, naarstiglik soek na iets bekend – ‘n simbool of ikoon wat onveranderd bly te midde van die storm. Cruywagen op SABC was so ‘n persoon.

En as Afrikaners en Afrikaanssprekendes nou regtig eerlik met hulself wil wees, wie het nog werklik op SABC nuus gekyk? Cruywagen was nog ‘n bekende gesig maar die standaard van die SABC se nuus het al lankal gedaal na die vlak van onbeskaamde propaganda. Meeste denkende mense wat ek ken, kyk al lankal nie meer SABC-nuus nie, want hulle besef van watter swak gehalte dit is. (Hier is sommer ‘n baie resente voorbeeld hoe die SABC vryheid van spraak muilband.)

Maar om af te sluit. Dit is dikwels hardwerkende, eerlike, doodgoeie mense soos Cruywagen wat dit moontlik maak vir outokratiese regimes om die bevolking met propaganda te bedwelm (dis oa die antwoord op die vraag hoe dit moontlik was dat die Duitse volk so deur Nazisme meegesleur is). Goeie mense wat hulle werk goed doen, maar nooit vrae vra nie en hulle oë styf toeknyp teen dit wat hulle dwars in die krop steek. Die gedienstige handpop wat nie omgee om vir die regime se buikspraak aangewend te word nie. Jy sal ver soek om ‘n beter voorbeeld te kry van so ‘n persoon as wat Riaan Cruywagen was.

NS: Voordat julle my dalk in julle kommentaar kruisig ter verdediging van Cruywagen, lees net weer wat ek geskryf het en dink bietjie daaroor.

23 Kommentaar leave one →
  1. November 27, 2012 7:53 nm

    Ek stem saam. Ek hou ook van die man maar het nooit gevoel dat hy op ‘n ander platform ‘n wesenlike standpunt of selfs ‘n bydrae gelewer het. Hy het ook nie eers as regisseur van enige program opgetree nie.

  2. brieweuitdievreemde permalink
    November 27, 2012 11:09 nm

    Goed uiteengesit, Boer, maar… Ekself het gisteraand tjankerig gevoel toe Riaan koebaai se. Reeds om die redes wat jy hierbo uiteensit oor waarom hy ‘n ikoon was. Nostalgiese en/of sentimentele redes. En: was sy werk nie reeds om geen opinie te he nie? Was sy werksbeskrywing nie juis om ‘n handpop / spreekbuis te wees nie, sodat dit nie saak maak wie se opinies hy verkondig nie? Kyk, ek sou ook nie so ‘n werk kon doen nie, agv my persoonlikheid. But it takes all sorts. Sommige beroepe vereis dapperheid, ander empatie, ander geduld en sommiges… wel, ruggraatloosheid? Daar’s my pennie🙂

    • November 28, 2012 5:45 nm

      brieweuitdievreemde, as ek oor jou tjankerige gevoel moet kommentaar lewer dink ek dit is miskien omdat alles wat so bekend en eie aan ons is al hoe minder word, en in die nuut verdwyn…………………………..

  3. November 28, 2012 1:46 vm

    Geldige punte, maar hy het dit self op sy eie Riaan manier gisteraand erken…dat hy bloot die uber-professionle nuusleser was, niks meer nie, niks minder nie. Ekself kyk al, sedert dit beskikbaaar is E-nuus (eers Engels en nou op Kyknet) en verkies Al-Jazeerah bo die Amerikaanse CNN en Britse Sky News propoganda.

    Maar ek dink daar is iets te se vir iemand wat vir 37 jaar sy werk professioneel kan doen. Maar ook vir iemand wat dit op debuut kan doen terwyl ouer hande oor jare ons in dieslfde situasie gefaal het. Ek is seker Australie voel oor Faf soos die meeste van ons oor Steve Atherton (wie se enigste Afrikaanse woordeskat “vakhansie” is)

  4. November 28, 2012 2:22 vm

    Gedienstige handpop vs Onpartydigheid. Dit is een van die vele professionele einskappe van die man wat my opval – hy is waarlik onpartydig. Hetsy dit die ou NP is wat regeer, Madiba se nuwe voetspore of die huidige anargie – sy oordrag daarvan was foutloos en onpartydig.

    Riaan was die konstante vir baie mense in situasies wat nooit konstant was nie.

    Of ek sal kan werk saam met so persoon is ‘n perd van ‘n ander kleur. Ek funksioneer te maklik uit emosie om onpartydig te kan wees in alle situasies🙂

    Ek kyk nie tv nie – dit verveel waarlik sewe soorte swart waks uit my uit – maar 7uur het ek TV aangesit vir my Riaan-fix. Gewoonte? Vasklou aan ‘n bekende? Ek weet nie, maar nou sal ek hou by die aanlyn nuus en my vergaap aan wat gesien word as nuuswaardig.

    Jy maak waarlik ‘n ongelooflike geldige punt BiB en ek het jou skrywe meer as eenkeer gelees om waarlik te lees.

    As ek nie ‘n Riaan-junkie was nie, het ek nou ‘n plakaat gemaak en saam jou geskryf. Dit is die een enkele tipe mens wat die beste in my persoonlikheid na vore bring – die ruggraatlose ja-broers wat alles sal doen om tog net die vrede te bewaar …….
    😉 ek dink Faf het verkeerde tyd gekies om sy stempel met grasie en passie te druk in die geskiedenisboeke van krieket.

  5. November 28, 2012 5:43 vm

    Baie goeie inskrywing. Kyk, die dae toe hy en Marietta nuus gelees het, het ek menige aand gesit en hulle van die kassie verwens. Daardie ‘sarkasme’ waarmee die nuus gelees was en daardie ‘snedige’ en neerhalende glimlag/smile[whatever jy dit kon noem] as daar ‘iets’ van die ‘Afrikaanses’ gese word. Jy kon baie, baie duidelik op hul gesigte lees. Ek het daar en dan [daardie tyd al] my respek vir beide verloor. Hy is ‘n tipiese ja-broertjie.

    • November 28, 2012 5:45 vm

      O ja, wou nog saamstem met wat hy se van ‘ruggraatloos’ – iemand wat nie sy eie opinie oor dinge vorm nie [nie sy ‘eie’ ding doen nie] – skapie skapie almal agterna volg en ja/amen op als antwoord. Die NP het hom seker ‘n goeie paket destyds aangebied en toe weer die ANC.

  6. November 28, 2012 10:23 vm

    Baie goed geskryf, boerinballingskap. Ek dink tog nie dat Riaan ‘n simbool van die goeie ou tye is nie. Soos wat sy baas (kan nou nie sy naam onthou nie) ook op die SAUK se vaarwel-insetsel gese het, Riaan se funksie is eerder om Afrikaners gerus te stel – some things stay the same. ‘n Mens sou verder kon gaan en kon se dat Riaan se hele slagspreuk van “professionalisme” eerder spreek tot Afrikaner-angs betreffende disenfranchisement. Die boodskap van Riaan is, “jong man, maak nie saak wat die syfers se nie, hardwerkendheid en professionaliteit sal altyd bo uitkom.”

    Bogenoemde interpretasie verduidelik beter die nuwe SABC se gewilligheid om Riaan op die lug te hou, sowel as waarom Riaan so geliefd is deur nie net regse Afrikaners nie, maar ook die “verligtes.”

  7. November 28, 2012 4:11 nm

    Yo yo….of eish, (soos ons sê), ek dink nog bietjie ……
    Al ons blogglers probeer nog ons eie stemme ontdek, so? ….So, ek like nogal vandag jou opinie…meer as dit, dat jy dit so goed kan uitspreek, en vang tips!

  8. November 28, 2012 5:40 nm

    Boertjie, ek stem vandag nie met jou saam nie, Dis nie ‘n nuusleser se werk om sy opinie weer te gee nie, dis sy werk om NIE sy opinie weer te gee nie. As hy ‘n opinie wou lug, het hy dit seer sekerlik by die huis gedoen. (Of dalk ‘n blog geskryf).

    Ek dink die meeste mense voel nostalgies oor hom oor dit wat hy vir HULLE verteenwoordig. Vr die meste hul hele lewe voor die kassie. So in daardie opsig meen ek jy’s reg.

  9. November 28, 2012 5:51 nm

    hallo boertjie, jy is nie alleen nie hoor, ek vind wel sy uitspraak goed, en dat hy vlot en foutloos was, maar die ding is, as mens soveel jaar ‘n ding doen en jy is nie vlot en foutloos nie wel……..
    anyway ek sê al lankal die arme bokom moet uit en die jonger geslag ‘n kans gee!!!!!
    dit is vir baie mense hartseer, maar soos ek vir so baie al gesê het dit is nie oor die man self nie maar oor alles wat om ons verander, en allew wat bekend is word weggeneem, en dit kan ek verstaan bring trane en hartseer, so sorry vir al die ou bleekgesig se aanhangers maar ek het nog nooit in hom gevind wat die ander so mildelik uitsaai vir evangelie nie, weereens is dit seker maar omdat ek nie soveel kultuur in my het nie, maar what ever, ek is bly hy is nou uiteindelik af

    • November 30, 2012 8:43 nm

      kindvanafrika, dis nou die tweede keer dat jy noem dat jy “miskien nie soveel kultuur in jou het nie”. Bog, man? Jy drink mos wyn!😉

  10. November 29, 2012 12:32 nm

    Wie is Faf du Plessis?!

    Wat ‘n paar ander nuusbronne betref, verkies ek RT (Russia Today) en Democracy Now, en die Trends Journal. Maar deesdae skrum ek bietjie weg van nuus af; dit maak my depressief. Vir Suid-Afrikaanse nuus luister eenkeer per week na RSG se Kommentaar wat ek as ‘n mp3-aflaai.

  11. November 29, 2012 4:33 nm

    Ek het nooit nuus gekyk nie. En ek hou nie daarvan om ‘n mens verskriklik op te hemel nie. Maar dalk is hy tog ‘n voorbeeld van iemand wat sy werk voluit, met passie gedoen het? Daarvoor eer ek hom.

  12. November 30, 2012 8:55 nm

    Ter opsomming: Ek stem saam dat Cruywagen baie professioneel in sy beroep was en hom goed gekwyt het van sy taak. Ek erken dit ook so in die inskrywing. Ekself kan my nie distansieer van die woorde wat in die openbaar uit my mond kom nie. Ek kan nie onwaarhede, twak en propaganda verkondig omdat ander mense my voorse om so te maak nie, al is dit my werk. Ek kan ook nie werk vir ‘n organisasie met ‘n politieke agenda nie en nog minder vir base waarvoor ek geen respek het nie. Ek kan ook nie werk vir ‘n instelling waarvoor ek my skaam nie. Riaan kon dit egter regkry. Hy kom uit ‘n geslag van Afrikaners wat geleer is om te ja-en-amen en voor gesag te buig en ongeag beginsels of moraliteit aan te hou daarmee totdat hulle genoeg pensioen ingesamel het om af te tree.

    • November 30, 2012 8:58 nm

      sela BiB sela

      (ek like steeds vir riaan😆 )

  13. Desember 4, 2012 1:59 nm

    Goeie inskrywing BiB. Self het ek seker 20 jaar laas SABC se nuus gekyk. Riaan lyk vir my na `n propperse gentleman, miskien eerder ladiesman, wat dalk ook die rede is waarom meeste (negatiewe) reaksies op jou skrywe van die skoner geslag kom?
    Meisies hou van die ou want, gelukkig vir ons manne, kyk hulle soms maar vlak na ons😀
    As ek reg onthou het die SABC hom voorheen een of twee maal in die pad gesteek, en telkens weer aangestel op aandrang van die volk. Hulle self het dus nie veel van die ou gedink nie, maar hom as stooge gebruik om die Afrikaner `n rat voor die oë te draai en hulle eie planne om Afrikaans nek om te draai te verdoesel.
    Ek hoop die man geniet sy pensioen waarvoor hy so hard gewerk het.
    Ns. Hoekom sneeu dit so hier op jou werf?

Trackbacks

  1. Avontuur in die woestyn (3) | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie
  2. Faf du Plessis: ‘n Legende word gebore « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: