Skip to content

Korea se eerste eerste vrouepresident?

Desember 10, 2012

Oor minder as twee weke besoek Koreane die stembus om ‘n keuse uit te oefen oor wie hulle volgende President sal wees. In Suid-Korea word die presidentskap beperk tot een, vyfjarige termyn. Hierdie tradisie spruit uit die feit dat die land tot en met 1987 ‘n diktatorskap was. Die demokratiese wysgere het besluit om in die toekoms al die gekose leiers se termyn te beperk om sodoende te verhoed dat hulle te geheg raak aan hulle magsposisie. Om elke vyf jaar ‘n nuwe president te kies, het beide sy voor-en nadele, maar daarop sal ek nie hier uitbrei nie.

180px-Democratic United Party logo

Hoe dit ook al sy, hierdie jaar is daar sewe kandidate wat meeding om die volgende President van Korea te word. Soos oa onlangs in die VSA die geval was, is daar egter net twee kandidate wat enigsins ‘n realistiese kans staan om die volgende President te word, nl Park Geun Hye (van die regerende Saneuri Party) en Moon Jae In (van die opposisieparty, die Democratic United Party). Tot onlangs toe was daar ‘n sterk derde mededinger in die wedloop wat as onafhanklike deelgeneem het, nl. Ahn Cheol Soo (‘n mediese doktor, akademikus en sagteware entrepreneur). Omdat Moon en Ahn hoofsaaklik kiesers uit dieselfde poel trek, het Ahn (wat veral gewild is onder jonger kiesers) besluit om terug te staan en Moon te ondersteun om sodoende nie die opposisiestem te verdeel nie.

200px-Saenuri Party logo

Anders as byvoorbeeld in ‘n land soos Suid-Afrika (en selfs die VSA) wil dit (vir my as buitestaander) nie voorkom of verkiesings werklik so ‘n saakmakende rol speel itv die koers wat die land vorentoe inslaan nie. Jy moet fyn kyk om werklik dramatiese verskille tussen Moon en Park se beleidsrigtings te bespeur. Selfs hulle voorgestelde beleid tov Noord-Korea is baie eenders. Moon wil die voormalige progressiewe President, Roh Moo Hyun, se toenaderingsbeleid teenoor Noord-Korea hervat en glo dat die nuwe Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Eun, gehelp kan word om die Noorde te hervorm dmv dialoog en ekonomiese samewerking. Hoewel Park haarself distansieer van die huidige president, Lee Myung Bak, se sterk beleid teen Noord-Korea, glo sy dat toenadering tot Noord-Korea deels voorwaardelik moet geskiet. Beide sy en Moon het egter aangedui dat hulle bereid is om ‘n spitsberaad met Kim Jung Eun te belê. Die Korea Herald sit die verskille tussen Park en Moon soos volg uiteen:

20121128001254 0

Ironies genoeg gaan hierdie verkiesing egter meer oor wat in die verlede gebeur het as die twee kandidate se toekomsplanne. Park is die dogter van Park Chung Hee – die outokraat wat in 1961 mag deur ‘n staatsgreep oorgeneem het en tot en met die sluipmoord op hom in 1979, die land regeer het. Mens sou dadelik dink dat hierdie stuk bagasie Park sal laat struikel. Maar dan verloor mens uit die oog dat Korea ‘n geweldige liefde-haat verhouding het met Park Chung Hee en sy nalatenskap. Want, hoewel hy ‘n outokraat was wat politieke afvalligheid swaar gestraf het, erken historici dat Park Chung Hee se beleidsrigtings sentraal gestaan tot die fenomenale ekonomiese groei wat Korea gedurende Park se bewind beleef het. Daarom bly Park steeds die vader van die “Koreaanse wonderwerk”, soos dit bekend staan, ondanks sy swak menseregte-rekord.

Park-Geun-Hye

Aan die eenkant vra Park Geun Hye dus om verskoning vir haar vader se magvergrepe, maar aan die anderkant neem sy ook krediet vir sy ekonomiese beleidsrigtings. Park is 60 jaar oud en ‘n oujongnooi – iets wat baie vreemd is vir ‘n Koreaanse vrou. Sy het egter al by meer as een geleentheid op navraag gesê dat sy “met haar land getroud is”. Park is ‘n ateïs, maar het ‘n positiewe houding vis-à-vis beide Boeddhiste en Christene (die twee grootste godsdiensgroepe in die land).

Moon Jae In was ‘n politieke aktivis tydens die bewind van Park Chung Hee en het oa ‘n paar keer in die tronk beland. Hy het dus die spreekwoordelike skerppunt van Park se outokrasie ervaar en is daarom soveel meer gedetermineerd om sy mededinger in die verkiesing te klop. Moon was die stafhoof, vriend en vertroueling van voormalige President, Roh Moo Hyun. Roh is na sy uittrede van korrupsie aangekla en het in 2008 selfmoord gepleeg. Hoewel Roh se ekonomiese beleid geprys is en hy verantwoordelik was vir beter betrekkinge tov Noord-Korea, is sy nalatenskap besoedel deur aanklagte van korrupsie wat oor hom, sy familie en vertrouelinge bly hang. Dus moet Moon, nes sy teenstander, krediet neem vir positiewe aspekte tydens sy tyd aan Roh se sy, wyl terselfdertyd hom distansieer van Roh se korrupsie. Moon is 59 jaar oud en getroud, met twee kinders. Hy is ‘n Katolieke Christen.

Moon+Jae+Opposition+Party+Presidential+Candidates+qYZlYkH bD0l

Demografiese veranderlikes wat die grootste invloed uitoefen in Koreaanse verkiesings, is provinsionalisme en ouderdom. Die regerende party (en sy voorlopers) se steunbasis is tradisioneel in die suidoostelike provinsies van Korea, wyl opposisiepartye se steun afkomstig is van die suidwestelike provinsies (‘n area in Korea wat al eeue lank bekend is vir politieke aktivisme en verset). Mbt ouderdom, is ouer kiesers geneig om die Saneuri Party en kandidate te steun, wyl jonger kiesers neig na die Democratic United Party en ander opposisiepartye.

Mees onlangse meningspeilings plaas Park Geun Hye ‘n kortkop voor Moon Jae In. Park kan dus Suid-Korea se eerste vrouepresident word. Dit sal opsigself ‘n prestasie wees vir ‘n Confuciaanse samelewing waarbinne vroue selde in leierskapposisies geplaas is. In Korea se geskiedenis was daar nog slegs twee vroueleiers, albei koninginne tydens die Silla-dinastie (57vC-935), nl. Koningin Seondeok (632-647) en Koningin Jindeok (647-654). Ironies genoeg word Seondeok tot vandag toe gedenk as een van die beste leiers wat Korea nog opgelewer het.

Advertisements
7 Kommentaar leave one →
  1. brieweuitdievreemde permalink
    Desember 10, 2012 9:18 nm

    As jy daar oorkant kon stem, Boer, vir watter een van die twee sou jy gestem het?

    • Desember 12, 2012 6:48 nm

      Sjoe! Ek weet regtig nie…maar ek hou van die feit dat Moon Jae In nie sy hare kleur soos alle ander mans van sy ouderdom nie. 😉

      • brieweuitdievreemde permalink
        Desember 13, 2012 1:26 vm

        OK 🙂

  2. Desember 10, 2012 10:56 nm

    Ek het juis net gister ‘n artikel in Time Magazine gelees oor Park Geun Hye en nou skryf jy oor die verkiesing. En die Noorde bly maar ‘n doring in die vlees in Korea. So sad.

    • Desember 12, 2012 6:49 nm

      Ja, juis vandag het hulle weer hulle missiel geskiet, soos jy seker weet. Ek is bevrees die enigste verandering van die situasie gaan van binne Noord-Korea self kom.

  3. Desember 15, 2012 7:10 vm

    Ek is glad nie iemand vir die politiek nie, ek teken net die stembrief waar vir my gese word: teken hier! ek vra nie vrae nie lol…. ek het ‘n Korean vir ‘n ‘Tutor’ by Brunel, haar aksent is baie erg, gelukkig kry ons ‘n man van Januarie af, maar sy is slim en weet baie – en travel baie om toesprake te gaan hou. Ek sal my kruisie vir die vrou trek. slegs omdat sy ‘n vrou is 🙂 – net in hierdie geval!

  4. Januarie 1, 2013 12:36 nm

    Vir ‘n patriargale samelewing om ‘n vrou as president te verkies is besonders, maar wat ‘n jammerte dat dit hierdie een met haar beleid moet wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: