Skip to content

Vrydagaand-song XXXIII: Benedikt Sebastian en supermarionasie

November 23, 2012

Ek bedank Skryfblok wat ‘n tydjie terug die erg luisterbare musiek van Benedikt Sebastian onder my aandag gebring het. Ek het voor die tyd glad nie van die sanger geweet nie. Ek het sy video’s op YouTube gaan deurluister en was aangenaam verras deur die vars bydrae wat hy maak tot die eentonige doef-doef, poef-poef wat binne die Afrikaanse tegno genre opgedis word. My gunsteling video was Reisiger van Tyd. Eietyds, maar met ‘n nostalgiese terugblik na dit wat was. Die gebruik van ou Interster beeldmateriaal pas baie goed by die musiek en is baie treffend.

Interster was in die vroeë tagtigs ‘n Afrikaanse supermarionasiereeks op SAUK-televisie (supermarionasie is die gesofistikeerde gebruik van marionette, wat deels rus op die gebruik van elektronika om die marionette te beweeg). Die Britse vervaardiger, Gerry Anderson was in die sestigerjare ‘n pionier van hierdie genre. Twee van sy reekse is in die sewentigerjare in Suid-Afrika vertoon, naamlik Thunderbirds (in Afrikaans oorgeklank as Redding Internasionaal) en Stingray. Ek het so te sê met Redding Internasionaal groot geword en as seuntjie was dit van my gunsteling kykstof op televisie. Lady Penelope in haar uitspattige uitrustings en pienk Rolls Royce het ‘n blywende indruk op my gemaak. Teen die tagtigerjare was die Britse kulturele verbod teen Suid-Afrika in volle swang en kon Anderson se produksies nie meer bekom word nie.

Interster is vervaardig deur min-of-meer dieselfde tegniese span wat vir die gewildeLiewe Heksie gesorg het. Op die ou-end was Interster meer gesofistikeerd as die vroeëre Anderson produksies en word tot vandag toe erken as een van die beste supermarionasie reekse wat ooit vervaardig is. Die model van ‘n futuristiese Kaapstad was indrukwekkend en so ook die poppe self, lugskepe, die dekor en tegnieke wat gebruik is. Natuurlik was die reeks deurspek van Afrikaner-simboliek, verstaanbaar binne die tydswrig waarbinne dit vervaardig is (oa was die hoofkarakter genaamd De la Rey en die gevegstuie het die naam Impala gedra – dieselfde naam as die van die Italiaanse Aermacchi-vegvliegtuie, wat op daardie stadium deur die Suid-Afrikaanse Lugmag aangewend is).

Maar die tydswrig tersyde, Interster was vir sy tyd ‘n produksie van wêreldgehalte waarop die vervaardigers met reg trots was. Dit het ook ‘n belangrike bydrae gelewer tot die redelike arm genre van Afrikaanse wetenskapfiksie. Karakters soos die robot, Pikkie, Prins Karnati en Gorman het huishoudelike name geword en op skool was een van ons onderwysers (met ‘n prominente dubbelken) se bynaam Gorman. Hy kon nooit weer van die bynaam ontslae raak nie. Nou nog kan ek ‘n redelike goeie Gorman-impersonasie doen. Die interplanetêre booswig se mees bekende woorde was:

“Dis alweer daardie vervlakste De la Rey!”

Bekostigbare rooi genot

November 14, 2012

Ek het al talle kere vantevore genoem dat, agv belastings en aksyns, wyn ‘n baie duur kommoditeit hier in Korea is. Elke keer as ek Suid-Afrika besoek dat verwonder ek my aan hoe goedkoop wyn in Suid-Afrika is, hoewel Suid-Afrikaners self nie aldag dit besef nie. Kaapse wyn in Suid-Afrika bied ongelooflike waarde vir geld.

PA274278

Hier in Korea moet mens egter baie uitgeslape en opportunisties te werk gaan om waarde vir geld in die hande te kry. Oor die algemeen is gehalte wyn van Suid-Afrika (wanneer jy dit kry), die VSA en die Europese lande baie duur (ons praat hier van niks onder die ekwivalent van R200 ‘n bottel nie). Gehalte Australiese wyn se pryse is effe meer billik, maar die beste waarde vir geld hier plaaslik te koop, is by verre Suid-Amerikaanse wyn. En tussen Argentinië en Chili, vind ek dat laasgenoemde land bo uitkom. Die waarde vir geld van gehalte Chileense wyn is soms so goed, dat mens amper soos ‘n dief voel. Oorspronklik het ek gedink die pryse is so billik agv die vryhandelsooreenkoms tussen Korea en Chili, maar toe besef dat Korea ook so ‘n ooreenkoms het met die VSA en die EU. Hoe die Chilene dit dus regkry, gaan my verstand te bowe, maar hulle doen dit.

Geen pryse dus vir diegene wat raai dat die meeste wyn wat ek hier drink uit Chili afkomstig is. En van al hierdie Chileense wyn, is daar een naam wat oor die afgelope paar jaar uitstaan vir die ongelooflike kwaliteit wat dit teen die prys bied. Hierdie wyn se naam is Palo Alto.

PA274286

Die naam van die kelder is afkomstig van die populêre benaming vir ‘n doringboom inheems tot Chili en die silhoeët van hierdie boom, domineer ook die etiket op Palo Alto se bottels. Die kelder is geleë in die Maule Vallei, ‘n substreek van die Sentrale Vallei – die wynstreek in Chili wat verantwoordelik is vir die meeste wynproduksie in die land (Chili is die negende grootste wynproduserende land, net agter Suid-Afrika).
Ek het die afgelope paar jaar al my kwota van Palo Alto Reserva deurgewerk. Die wyn is ‘n rooi versnit van Cabernet Sauvignon (50%), Carmenere (30%) en Shiraz (20%). Die gewone kleinhandelsprys ter plaatse is ongeveer die ekwivalent van R100, maar heel dikwels kry mens die wyn teen afslag vir omtrent sowat R70 (gewoonlik wanneer ek toeslaan!). Die houtverhouderde versnit is sommer veel meer as ‘n braaivleis wyn en bied ongelooflike waarde vir geld.

Heel onlangs raak loop ek toe weer die Palo Alto op afslag raak. Maar dit is nie al nie. Palo Alto se nuwe versnit, genaamd Reserva II, pryk toe ook op die rak teen dieselfde prys. Ek dog toe nou eers dit is slegs ‘n nuwe etiket en naam vir die nuwe oesjaar van die Reserva, maar nee! Dit is ‘n splinternuwe versnit, aanvullend tot die Reserva. Die Reserva II is ‘n baie interessante versnit van Merlot (70%), Shiraz (23%), Tempranillo (5%) en Viognier (2%). Bloot uit die verskil in kultivars tussen die twee versnitte, reken ek moes toe dat ‘n vergelyking tussen die twee versnitte, interessante leesstof sal maak.

Eerste aan die beurt is die Palo Alto Reserva 2010. Die kleur van die wyn is intens dieprooi, met rante wat nog ondertone van pers vertoon. Soos te wagte, domineer die Cabernet Sauvignon op die neus, met geure van bloekom en swartbessies. Mens tel ook die geure van gerookte salami en ‘n peperagtigheid op (afkomstig van die Shiraz). In geheel, ‘n uitlokkende, vleserige neus. Hierdie geurprofiel vertoon ook op die tong, met pragtige skoon, donker bessiesmaak op die middelpalaat en ‘n goeie nasmaak, met ‘n effense speseryagtige nuanse. Die tanniene is aanwesig, maar lieflik onderbeklemtoon. Die kultivars en komponente van die wyn is soomloos geïntegreerd en getuig van goeie gehalte vrug en die pragtige hantering van hierdie vrug deur die wynmaker. ‘n Wonderlike mondvol.

PA274280PA274283

Nou vir die Palo Alto Reserva II 2011. Die wyn is effe ligter van kleur as die Reserva, met ‘n pers skynsel, wat op die jeugdigheid van die wyn dui. Soos te wagte, is die wyn op die neus ‘n heel ander proposisie as die Reserva. Omdat Viognier so erg aromaties is, het selfs ‘n klein toevoeging van die kultivar ‘n impak op ‘n wyn se geurprofiel. In hierdie geval is die sweempie van gemmer en gedroogde appelkoos te bespeur op die neus, onderliggend aan die meer prominente geure van framboos, donker sjokolade en vanielje. Die mondgevoel van die wyn is minder kompleks as die van die voorafgaande wyn. Daar is ‘n aangename smaak van sappige, amper soet, kersies op die tong, maar ongelukkig is die nasmaak nie talmend nie. Die tanniene is te verstane ook nie so sag soos die in die Reserva nie. Die smaakprofiel is effe onafgerond, met die suur, tanniene en alkohol wat (nog) nie goed geïntegreerd is nie. Miskien sal die wyn na nog ‘n jaar in die bottel beter vertoon, maar op hierdie stadium is die Reserva definitief die smaakliker en beter wyn.

Nog ‘n najaar in die vreemde…

November 9, 2012

Ek het die afgelope paar jaar met ritualistiese reëlmaat oor herfs geskryf – oa hier, hier en hier. Omdat hierdie my gunsteling seisoen is en so treffend gedefinieerd manifesteer in die Noordelike Halfrond, word ek jaarliks daartoe gedring om iets van die ervaring te deel.

framef8bbedc635a8f053c11e631340888ad6a6e292b7

Hierdie jaar – so het ek gedink – sal ek nie iets skryf nie, want my beskrywende woordeskat tov herfs is so te sê uitgeput. Ek was besig met ander dinge en hierdie herfs het my meestal verbygegaan. Ek het nie eens die moeite gedoen om my lens in te span nie…wel, tot gister.

frameb7d8184f7dbfc0bb8ce588d94b69191f3b551f9a

Elke dag stap ek langs die rivier en vang die kwynende kleurespel en kalerwordende takke my oog. Gistermiddag kon ek nie verder die versoeking weerstaan nie en het ek kamera gaan gryp, so terwyl die namiddag se laaste bietjie flou hitte in die lug bly hang.

frame719d19f28c4ca112ad04d4e5b50fc4869f978c85

Dit is hoofsaaklik die pragtige goudgeel van die ginkgo-bome wat my aandag getrek het. Dit is eenvoudig so ‘n ryk en diep geel, dat ek net nie kan weerstaan om dit onder lens te neem nie. Baie van die herfs se kleuredos is reeds afgeskud, maar tussen die kaal bome, is daar vele bome wat steeds krampagtig vasklou aan hulle herfsgewaad.

framefb20c5e6e34dfb2add182273f61f860e9e599a92

Benewens die bome, is die paadjies en grond bedek in ‘n veelkleurige gewaad van droë blare en tussen die kleure, staan ‘n naakte tamatiepruimboom, met ryp oranje vrugte geëts teen die lug. Dit is so dat dit nou elke dag ongemaklik kouer word en daar is ‘n bepaalde hartseer in die lug as die bome hul kaal takke begin wys en die wêreld om jou begin vervaal. Onwillekeurig draai Koos Doep se woorde in my kop:

Nog ‘n najaar in die vreemde, met my drome sonder tal.
En ek weet die winter kom weer, met sy sneeu wat ewig val.

Dis die seisoen van heimwee, nostalgie en verlange. Dis die seisoen van verlore geliefdes en glimlagte wat was; van herinneringe aan die vreugde van lente en die somerhitte. Maar dis ook die seisoen van refleksie, van asemhaal en van vrede.

frame50fff2f144bd5b82cacafcc47f76f4e9ec21b604

Want ondanks die verlies en verlange, bring die seisoen ‘n onbeskryflike gevoel van berusting, wat ek afwesig vind in die ander seisoene. Binnekort sal die koue my omsingel en die wêreld kaal, kleurloos en lelik laat. Nou is daar egter nog kleur en ek geniet die laaste paar dae van die statige seisoen…

Maar hier buite sterf die somer, en ek sien die blare val.
En iewers skyn die somerson, op die velde van Transvaal.
En êrens dreun die branders, aan die strande van Natal.
Ek sit soms en ek luister, of ek dalk in die wind.
Die Vrystaat en die Boland, se stemme terug kan vind.

Ek sal altyd ‘n deeltjie van Jeju saamdra

November 5, 2012

Aan die suidelike kus van Jeju-eiland, in die omgewing van die stad, Seogwipo, is daar ‘n verskeidenheid pragtige watervalle. Nou is dit nie noodwendig die omvang van die watervalle wat ‘n besienswaardigheid is nie, maar eerder die spesiale natuurskoon van die omgewing waar die valle aangetref word.

PA023585

Cheonjiyeon waterval is geleë in ‘n pragtige park, waar mens met klippaadjies en oor klein bruggies stap tot daar waar die water na benede stort. Dis ‘n skone omgewing, omring met digte bosse en groot rotse, met die waterval wat die prentjie vervolmaak. As mens neffens die diep poel onder die waterval staan, voel mens sommer lus om in te spring, maar swem is ongelukkig hier verbode. Ek dink dis die perfekte plek om in die donkerte van die nag, as niemand kyk nie, te gaan skinny dip!

PA023572

Jeonjabong, nie ver van Cheonjiyeon af nie, is uniek in die sin dat dit enigste waterval in Asië is wat direk in die see stort. Dis ook die eerste keer in my lewe wat ek ‘n waterval sien wat vars water in soutwater stort. Waar Cheonjiyeon prenteboek mooi is, is Jeonjabong meer dramaties genestel tussen die omliggende kranse. Mens kan omtrent gemerseriseerd staan en kyk hoe die water in die see stort, terwyl die ligte windjie ‘n skaars voelbare ragfyn sproei oor jou waai.

PA023714PA023721

PA023699

PA023719PA023712

Neem mens die pragtige, kronkelende pad van suid na noord op die eiland, ry mens oa verby die glasmuseum, oftewel Glass Castle, om nou die amptelike naam te gebruik. Dis egter nie soseer ‘n glaskasteel, as wat dit ‘n uitgebreide glastuin is nie. Hierdie tuin lyk soos ‘n plek waar Alice in Wonderland tuis sou gewees het. Byna alles hier is van glas gemaak. Behalwe die pragtige glaskunswerke en ornamente, is die tuin vol helderkleurige glasblomme, glasbome en nog vele ander konstruksies van glas.

PA023701PA023720

PA023707

PA023705PA023711

Dit is eintlik ongelooflik om die verskeidenheid van voorwerpe te aanskou wat van glas gemaak is. Ek weet nie hoeveel ure en ure se glasblaas in die konstruksie van die tuin ingegaan het nie, maar die resultaat is manjifiek. Natuurlik is vele van die ornamente te koop, maar ongelukkig (en heel verstaanbaar) is die pryse ook manjifiek.

PA023736

As mens verder die pad noord volg, verby Hallasan, kom mens uiteindelik uit by die pragtige strande van Geumneung en Hapyeo, wat reg langs mekaar lê. Die sand is fyn en spierwit en die groenblou water is net so skoon en helder soos Jeju se lug. In die verte rus ‘n rotseiland en aan die rand van die strand staan skeefgewaaide palms wag. Mens wil net daar en dan op die strand gaan sit en in die helder water gaan baai. Voorwaar ‘n idilliese strand, maar ek ril eintlik as ek dink aan hoe volgepak die strande in die middel van die somer nie moet wees nie!

PA013385PA013391

PA023801P9303384

Van hier af is dit nie ver terug na my herberg langs die see nie. Hier, uit die stad, begrens deur klipmure en veld, kon ek elke aand aan die slaap gesus word deur die klank van branders teen die rotse. Hier kon ek elke namiddag sien hoe die sakkende son die wêreld karmosyn maak; die vissersdorpie se ligte in die nag; in die oggend die bleek maan en die daeraad wat wolke verf met skakerings van rooi. Ek was inderdaad besonder geseënd om hierdie eiland van kraters en klip in volheid te ervaar. Iewers binne my, sal ek altyd ‘n deeltjie van Jeju saam met my dra.

Die krater waar die son opkom en ander ontdekkings

Oktober 30, 2012

Seongsan Ilchulbong (letterlik: Sonsopkomspiek) is die tweede grootste vulkaniese krater op Jeju-eiland en geleë reg aan die oostekant van die eiland. Dit is een van Jeju se verteenwoordigende beelde en mens sien baie keer die volgende foto in toeristebrosjures en op webwerwe wat na Jeju verwys:

P9303274

As mens egter na Jeju reis, is hierdie nie die beeld wat jy sien nie. Want om hierdie afstand van die krater te verkry moet mens die lug in met ‘n vliegmasjien. Die sal jou nie net ‘n arm en ‘n been kos nie, maar sommer ‘n lewer, ‘n nier en ten minste een long op die koop toe. Dus moet jy maar, soos die res van die gepeupel, van onder af die krater uitstap en dan met die volgende beeld van die krater tevrede wees:

P9303245

Maar, moet mens nou bysê, dit gaan nie net daaroor om die krater (per slot van sake baie minder indrukwekkend as die krater bo op Hallasan) te sien nie, maar ook die pragtige uitsig wat mens het op Seongsanhawe en omliggende gebiede. Op die kort voetslaanroete (die krater is maar 182m hoog) kom mens ook die pragtigste vulkaniese rotsformasies tee en groen velde teen die hange waar perde rustig staan en wy. Van bo af is dit regtig prentjiemooi en dit maak die steil paadjie die moeite werd om uit te stap. Soos op Hallasan, het mens egter weer eens te doen met skares toeriste en bo-op die krater het mens skaars ‘n plekkie om vir ‘n oomblik te sit en die omgewing te waardeer.

P9303198P9303272

P9303229

P9303257P9303199

As mens egter wegstap van die krater, strandlangs in Seopjikopji se rigting, is mens weer op jou eie en kry mens ruim tyd om die krater op ‘n afstand te aanskou en foto’s te neem, met die mosbedekte swart basaltrotste wat die prentjie afrond. In die laatmiddagson is dit regtig ‘n besondere beeld wat voor jou oopvou. Miljoene jare hou Seongsan Ilchulbong al wag oor die ooste van die eiland en ek is seker oor duisende jare van nou sal die krater steeds trots staan teen die see en die elemente – ‘n ewige nalatenskap van die natuur se krag en majesteit.

P9303292

Maar dis nie net die oreums (kraters) van Jeju wat mens na mens se asem laat snak nie, maar ook die talle indrukwekkende rotsformasies, veral langs die eiland se suidkus, wes van die hawestad, Seogwipo. Hier tref mens talle uniekgevormde rotse aan. Eerste op die lys is die alleenstaande vingerrots, genaamd Oedolgae. Hierdie rots staan fier en trots in die see en is inderdaad ‘ n baie fotogenies. As mens met die paadjie verby die rots stap, net nog so entjie om die kus, kan in die verte ook die talle grotte gesien word waar die Japannese, tydens hulle kolonialisering van Korea, verdedigingsposte opgestel het.

PA023607PA023603

PA023595

Vyftien minute later langs die pragtige suidelike kuspad, tref mens die rotse van Jusangjeolli aan. Mens hoef net so ‘n entjie met die pad af na die see te stap om hierdie unieke gesig te sien. Hierdie is basaltkollomme wat gevorm is toe die rooiwarm lawa die koue oseaan ontmoet het. Daar is ‘n uiters korrekte wetenskaplike verduideliking wat gebeur het om hierdie kolomme te vorm, maar vir my is dit genoeg om slegs die perfeksie van die natuur te sien, sonder om my kop te breek oor hoe dit nou eintlik gebeur het. Feit van die saak, die swart kolomme lawarots staan soos ‘n klomp netjies omgekeerde potlode in die oseaan, simmetries perfek gevorm. Dit gaan inderdaad mens se verstand te bowe hoe die chaotiese mag van ‘n vulkaniese uitbarsting uiteindelik sulke perfekte rotsvorms kon teweegbring. Soos hulle in Engels se “the mind boggles”.

PA023619PA023620

PA023632

‘n Hele ent verder aan met die kuspad, neffens die berg, genaamd Sanbang, vind mens die kranse van Yeongmori aan. Hierdie rotsformasies kan te voet verken word, maar slegs tydens laagwater. Mens stap seelangs met kronkels en kinkels op die rotse en verwonder mens aan die canyonagtige formasies, gevorm nie net deur vulkaniese rotsvloei nie, maar ook die aanhoudende kragte van water en wind waaraan die rotse deur die eeue blootgestel was. Die vloeiende lae in die rotse en verskillende kleure en skeure van die rots is werklik besonders. Dit lyk ook of dit ryk viswaters is, te oordeel aan die aantal hengelaars wat stok in die hand, hoopvol op die rotse staan. Mens sien ‘n groot skool blinklywe net onder die oppervlak flink rondswem en weet sommer die see lewe hier.

PA023660PA023656

PA023676

PA023787PA023652

En skemerig in die verte, die wrak van ‘n Sjinese vissersboot wat tydens die onlangse tifoon op die rotse geloop het en die dood van verskeie vissermanne tot gevolg gehad het. En so word mens herinner dat die see sy lewe en rykdom gratis skenk aan die mens, maar dat hierdie skenkings ook soms teen ‘n dure prys kom. Want soms neem die see ook.

PA023646

In my laaste inskrywing oor Jeju-eiland, sal ek vertel van watervalle, wit strande, ‘n tuin van glas en ‘n herberg by die see.

Die Kaap is weer Hollands!

Oktober 28, 2012

WPRugby-Header2011

Min het dit verwag, min het geglo, maar baie het gehoop. En hierdie keer het die hoop nie beskaam nie.

Ek klim die krater uit

Oktober 25, 2012

Nadat ek vroeër vanjaar in die berge van Seoraksan en Jirisan gaan stap het, was een van my doelwitte met my besoek aan Jeju-eiland, om Hallasan aan te durf. Teen 1950m, is Hallasan die hoogste berg in Korea en dit was nog altyd my doel om die berg uit te stap. Om Hallasan te klim, sou dan ook beteken dat ek die drie belangrikste berge in Suid-Korea kon baasraak.

Cheju etm 2000097 lrg

Ek het beplan om reeds op die eerste dag van my besoek Hallasan te takel, maar die dag was bewolk, winderig en onaangenaam. Ek het dus die daaropvolgende dag aan die voet van Hallasan gestaan en my eerste tree gegee op wat ‘n daglange staptog sou wees. In vergelyking met Jirisan en Seoraksan, is Hallasan se hellings baie geleidelik, maar sodoende ook baie lank om te stap tot bo. Aan die onderkant van die berg, begin die paadjie baie gelyk en rustig, maar weldra raak dit steiler en stuur jou voete die boodskap aan jou brein dat hierdie nie sommer net nog ‘n ou stappie is nie.

PA013397PA013398

PA013461

PA013417PA013415

Op hierdie stadium van my vertelling, wil ek net vinnig stilstaan by die een ding wat my Hallasan-ervaring minder aangenaam gemaak het as wat dit kon gewees het. Om die waarheid te sê, tel dit eintlik vir my hele ervaring van Jeju. Dis natuurlik die troppe en troppe toeriste wat binne seisoen die eiland inval en oorneem. My idee van voetslaan in die natuur, is om die natuur en natuurlewe in volheid te ervaar. Om die stilte in te drink; om fyn op te let na die unieke plantlewe, insekte, voëls en die diere. Daarom is dit ook lekker om rustig en in stilte voet te slaan. Op die pad na Hallasan se krater, was dit my egter nie beskore nie.

PA013430PA013455

Die verkeer met die pad op na die krater, was van vroegoggend af op ‘n spits. Omdat die paadjie maar plek-plek nouerig is, is daar van stilstaan en waarneem maar min sprake. Agter jou is daar ‘n string stappers en voor jou is daar ‘n trop en in die teenoorgestelde rigting, af met die berg, is daar ook ‘n gedurige vloei van ywerige Koreaanse voetslaners in hulle bontkleurige stapuitrustings (Koreane is baie gesteld daarop om die regte uitrusting en handelsmerkname te dra vir hulle voetslaan. As jy stap, het jy jou stappakkie aan en niks meer of minder nie). Dus het jy heel pad op die probleem om verby stadige stappers voor jou te kom en weer die vinnige stappers agter jou te laat verbygaan, sonder om ‘n kop-aan-kop botsing te veroorsaak met die wat van voor af kom.

PA013424PA013426

Maar as dit nou maar net die aantal mense was wat die probleem is. Kyk, soos meeste lesers hier weet, het ek baie tyd vir die Koreane, hul kultuur, gebruike en hulle algemene ingesteldheid teenoor die lewe. Maar as daar nou een plek is waar hulle my irriteer, is dit wanneer daar in die natuur voetgeslaan word. Mens kry die idee dat dit nie vir hulle soseer oor die natuur gaan nie, maar eerder maar net oor die oefening en net om te kan sê hulle het ook die berg uitgestap.

PA013448

In die eerste plek is daar die stapstokke. Nou soos skiërs twee stokke het, glo die Koreane vas daarin dat mens nie sonder jou twee stapstokke stap nie. Dis deel van jou voetslaanpakkie en vir hulle is dit haas ondenkbaar om sonder stokke te stap. Dit alles goed en wel, maar die stapstokke se aluminium punte wat heeltyd teen die klippe kletter en tik is uiters irriterend. En dan plek-plek word die stokke sommer so oor die klippe gesleep om die verbreking van die stilte nog luider te maak. Dus op met die berg tik-tik-tik die heeltyd voor jou en agter jou en af met die berg tik-tik-tik.

PA013452PA013441

Maar die stapstokke is nog eintlik hanteerbaar. Die slimfone wat saamstap, minder so. Dis goed en wel dat rook verbied word in Korea se nasionale parke, maar wanneer gaan hulle selfone verbied? Laat die ou voor my en agter my maar sy dampie maak. Ten minste maak dit nie ‘n geraas as jy rook nie. Maar wragtig, hierdie slimfone. Ons is in die mooiste, wonderlike natuur, maar nee, die oproepe word deurentyd gemaak en geneem en dan word daar sommer luid en lekker gesels. Dus is die irriterende deuntjies van fone wat lui deel van jou voetslaan-ervaring. En teksboodskappe word ook gestuur, so al stappenderwys. Maar dis nie waar dit eindig nie. Heelparty stappers vind dit goed om hul fone op luidspreker te stel, in hulle sak te prop en dan heelpad met luide musiek te stap wat hulle vrylik met almal om hulle deel. Al gehoor van oorfone? Nee, blykbaar nie!

PA013439

Laastens, maar definitief nie die minste nie, is die groepe stappers, en spesifiek die groepe ajummas (ou tannies), wat luidrugtig gesels en lag. Soos groepies krysende kraaie kom jy hulle heelpad tee, besig om land en sand te gesels en elke denkbare voël en lewende diertjie weg te jaag wat mens sou kon waarneem. Ek het nie eens ‘n eekhorinkie gesien nie!

PA013456

Maar terug by die berg. Stadig en uitasem het dit party plekke gegaan, maar na ongeveer 4 ure en 10km se sweet, het ek die spits bereik en die pragtige Baengnokdam krater aanskou. Baengnokdam is die enigste kratermeer in Suid-Korea. Tydens my ekspedisie was die meer taamlik leeg, maar die krater is een van die mooiste gesigte wat ek nog in Korea kon ervaar. Daar staan mens, hoog bo die wêreld en dink aan die geweldige vulkaniese magmakragte wat miljoene jare gelede hier die aarde met geweld oopgeskeur het. Maar behalwe hierdie manjifieke gesig, is daar die vergesigte oor die eiland, met die honderde oreums wat soos karbonkels op die groen landskap le, vaag en geheimsinnig in die verte daar onder. Dit was maar effe bewolkerig en sodoende was die uitsigte beperk. Maar mens het tog daardie gevoel van vryheid en vrede ervaar so bo-op Jeju se dak.

PA013451PA013484

PA013503

PA013525PA013546

Lank het ek egter nie bo vertoef nie, want daar was omtrent ‘n honderd ander raserige wesens wat die stilte besoedel het saam met my daarbo. Dus het ek my watertjie gesluk, toebroodjie geëet en taamlik geïrriteerd sommer weer die pad, aan die anderkant van die berg, begin afstap. Gelukkig was hierdie pad (wat die moeiliker pad is) relatief stiller met minder verkeer. Die pad gee mens ‘n blik op die anderkant van die krater, waar majestueuse vulkaniese rotsformasies uitgestal word.

PA013489

Die pad wentel af in ‘n pragtige vallei, en die eerste tekens van herfs se kleurespel is oral sigbaar. Maklik is dit nie af nie. Dis baie steil en die rotse en klippe sorg dat jy baie meer moet konsentreer om reg te trap as met die pad op. Een verkeerde voetval op ‘n losserige rots kan ‘n verswikte enkel of gebreekte been beteken. Dus het die aftog ironies genoeg langer geneem as die opstap, maar meer as 4 ure en 9km later was ek, behoorlik moeg, natgesweet en voetseer, onder. Die roete af was egter baie mooi en – met minder mense – balsem vir die siel.

PA013418PA013422

PA013519

PA013513PA013543

Tydens my tog het ek een of twee voëlspesies vlugtig gewaar, maar nie die tyd of spasie gehad om hulle behoorlik waar te neem nie voor die ander stappers hulle verwilder het. Ek was ook bevoorreg om ‘n wilde takboklam te sien en ‘n gestreepte veldmuis. Beide die bok en die muis was egter gans te vinnig vir my kamera, synde dat ek nou nie alleen en in stilte hulle kon waarneem nie. Hier en daar (hoofsaaklik op die stiller paadjie af) kon ek die mooi van Hallasan se natuurlewe darem met my kamera vasvang.

mosaic94bbf722973432a872f2287e9686615d1516313a

Hallasan is ‘n fris berg en om die krater uit te stap verg ‘n sekere mate van fiksheid. Dis in geen taal ‘n grap om by die 19km op een dag op en af te stap nie. Maar dis oor en oor die moeite werd, selfs saam met die leërskare om jou. Die krater is ‘n gesig om te aanskou en die natuurskoon pragtig. Ek dink egter as mens dit buite seisoen aandurf, sal die stap soveel lekkerder en meer betekenisvol wees sonder die hordes ander stappers om jou.

PA013492

In my volgende inskrywing vertel ek van nog ‘n pragtige krater en die indrukwekkende rotsformasies regoor die eiland.

%d bloggers like this: