Slaan oor na inhoud

Wanneer sal die professor dit regkry?

Junie 29, 2007

Ek vind myself selde genoop om iemand se standpunt direk en krities aan te val, maar nadat ek hierdie artikel raakgelees het, kan ek nie anders as om te reageer nie:

http://www.news24.com/Sake/Rubrieke/0,,6-103_2137831,00.html

Die denkfoute, veralgemening en onkritiese idealisme wat hierdie artikel kenmerk sou ongesiens by my verbygeglip het, as ek nie raakgelees het wie actually hierdie artikel geskryf het nie. Daar is baie sulke ongenuanseerde, onkundige artikels, wat my gewoonlik koud laat. Die feit dat ‘n professor aan die Universiteit van Stellenbosch hierdie artikel geskryf het, plaas egter die swak onderbou van die artikel in ‘n ander lig. Dis ook nie enige professor nie, maar Prof. Lizette Rabe, Departementshoof van Joernalistiek. Ek haal uit die artikel aan:

’n Ruk gelede het die Britse nuustydskrif The Economist die opskrif “Will Africa ever get it right?” by sy berig oor die Nigeriese verkiesing gepubliseer. As jou bloeddruk gesak het ná die lees van dié opskrif en sy blatante chauvinisme, selfs rassisme, en dalk nog verstokte kolonialisme (die tydskrif is nie verniet 160-plus jaar oud nie) en jy weer rasioneel dink, moet jy jou afvra: Wat is verkeerd met die opskrif? Hoekom raak dit ons? En wat kan daaraan gedoen word?

Hoekom laat die waarheid jou bloed kook? Die Nigeriese verkiesing was volgens “Afrika standaarde” ‘n sukses, maar selfs in Suid-Afrika sou so ‘n verkiesing nie as ‘n sukses beskou gewees het nie. Dit gaan my verstand te bowe dat ‘n professor in joernalistiek oa chauvinisme (huh???) en rassisme en dalk nog verstokte kolonialisme in hierdie artikel raakgelees het. Ek neem egter aan dat mens seker wil raaklees wat jy graag wil raaklees. Ek dink in hierdie geval laat die objektiwiteit van die leser haar lelik in die steek. The Economist word ook sommer met ‘n bree hand uitgehaal. Miskien ‘n geval van suur druiwe dat Suid-Afrika en Afrika nooit die gelyke van so ‘n goeie tydskrif sal sien nie? (Jammer, die oorlee’ Insig tel nie).

Wat verkeerd is, is hoe Afrika dikwels in die media voorgestel word. Dit raak ons omdat dit óns kontinent is. En ja, ons kan iets daaraan doen. Die chauvinistiese eerstewêreldse snedigheid oor die hopelose, armoedige ou spul in Afrika – moenie vergeet nie: die “donker” kontinent – is ’n handboekvoorbeeld van stereotipering en raming (“framing”). Dit kom nie net uit Britse geledere nie. Amerikaanse en Europese media sing gereeld hartlik saam aan die Afrika-klaaglied.

Hierdie juweeltjie van subjektiwiteit maak dit vir my moeilik om nie in eksplisiete woorde te reageer nie. Hierdie Afrika-apologetiese argument is soos ‘n ou flou-geslaande, brandsiek donkie. Daar is nie iets met Afrika verkeerd nie, maar met die manier wat Afrika in die media “voorgestel” word – huhhh? Klink vir my eerder na iets wat Mugabe sou gese het! Chauvinistiese, eerstewereldse snedigheid, stereotipering en raming…die Afrika klaaglied?????? Lyk my ons het hier te doen met ‘n media-sameswering wat die Illuminati soos ‘n klompie prettige kleuters laat lyk. Ek is jammer ek moet so reguit wees, professor, maar bestudeer asseblief eers Afrika se geskiedenis, gaan toer deur Afrika en sien wat werklik aangaan op die kontinent. Ek weet ons wil almal graag Afrika romantiseer en ook bietjie “goedvoel” oor “ons” kontinent, maar ons kan nie hierdie strewe so ver voer dat ons die waarheid begin ontken nie.

Want buiten dat ons vanselfsprekend onsself moet inlig oor wat op ons kontinent aangaan, moet ons veral ons kontinent se stories aan die res van die wêreld vertel. Veral aan hulle wat in ’n kolo­nialistiese tyd­vakuum vasgevang is en vra: “Will Africa ever get it right?”

Kolonialistiese tydsvakuum??? Ek dink die vraag Will Africa ever get it right is uiters relevant en kontemporer en moet aanhoudend gevra word. As Afrika dit wel “regkry”, sal hierdie vraag irrelevant wees. Ek hoor nooit dat die hierdie vraag byvoorbeeld oor ander voormalige kolonies gevra word, soos Indie of Maleisie nie. Hoekom nie? Want hulle is besig “om dit reg te kry”, anders as Afrika. Terloops Maleisie is vanjaar saam met Ghana 50 jaar onafhanklik. Die verskille tussen die twee lande skreeu ten hemele!

Natuurlik is daar probleme in Afrika. Maar ons moet nie meedoen aan Afro-pessimisme nie. Ons hét al die d’s: “death­, despair, destruction, disease”. Baie daarvan is die nagevolge van die “Scramble for Africa” toe Europa en Brittanje grense getrek het waar Afrika voorheen geen grense geken het nie. “Divide­ and rule.” En Afrika ly nog daaronder­, want ons “divide” en “rule” steeds, sommige lekker korrup daarby, soos die koloniale leermeesters so mooi gewys het.

Hierdie kostelike, vereenvoudige Afrika-geskiedenislessie is so…wel…so “gister”. Die “probleme” en die “d’s” word terloops genoem, terwyl die res van die paragraaf gewy word daaraan om die blaam uit deel aan…raai wie?…die ou koloniale leermeesters natuurlik! Dis so gerieflik om Afrika se huidige posisie met ‘n paar woorde toe te dig aan die “kolonialiste”. (Dit verbaas my eintlik dat die woordjie “neo-kolonialisme” nie hier ingeglip het nie!) Ons moet nie meedoen aan Afro-pessisme nie – hel, ons probeer, maar dis maar moeilik. Eish!

‘n Paar paragrawe word geskryf oor die noodsaaklikheid van persvryheid in Afrika, maar net as mens begin dink die geskrewe stuk word effe beredder, sluit dit soos volg af:

Voordat dít gebeur, gaan ons kontinent verder deur die Weste vir eie gewin uitgebuit word. En gaan talle Westerse media dink dit is in orde om so ’n neerhalende opskrif soos die een hierbo te skryf (verwysend na “Will Africa ever get it right”).

Slagoffer-sindroom. Dis die Weste, die Weste, die kolonialiste, apartheid, kapitaliste, Jode, die gode, die voorvaders, die sendelinge, die son, die maan, die sterre ens. ens. Dit was nooit ons nie. Ons het geen aandeel in die gemors waarin hierdie kontinent rondploeter nie. Dit was nog altyd iemand anders…

Professor Rabe, ek ken jou glad nie en as ons sou ontmoet, sal ons miskien van mekaar hou en lekker kan gesels. Ek val jou ook nie aan as persoon of trek jou bevoegdheid as opvoeder in twyfel nie. Dis net dat ek baie meer balans verwag het van ‘n professor in joernalistiek.

19 Kommentaar leave one →
  1. Junie 29, 2007 6:05 vm

    Na my mening kon die economist artikel nie meer gebalanseerd en selfs positief gewees het nie. Beslis die moeite werd om te lees. Anders as sommige ander Britse publikasies is die Economist ‘n ware vriend van Afrika – realisties en akkuraat maar nie op die neerbuigende, inmengerige en helperige manier van die Britse NROs en wit armband brigade nie.
    Ek het al met Nigeriers te doen gekry wat ywerige Economist lesers is. Hulle het ook nie tyd vir die helpendes wat Afrika van die wal af in die sloot wil help met simpatie en idealisering nie.
    Wat prof Rabe betref, miskien voel sy dis nodig in die huidige klimaat om so te skryf as sy haar pos wil behou.

  2. Junie 29, 2007 7:49 vm

    dit is jammer dat prof Rabe die artikel in Afrikaans geskryf het, dit is amper soos skinder in iemand se afwesignheid as jy in ‘n taal kommentaar lewer waarin die gekritiseerde nie kan terug-kommunikeer nie.

    ek stem saam met jou boer. ons moet ophou om victims te wees en verantwoordelikheid aanvaar. daar is genoeg voorbeelde van onwikkelende lande/subkontinente wat nie heeltyd agtertoe kyk nie, maar vorentoe kyk en ‘n groot verskil maak.

    verder stem ek absoluut saam, die economist is nie bang om ‘n spade ‘n spade te noem nie en is regverdig in sy oordele oor afrika in die algemeen. ek is mal oor die manier wat hulle manto se afwesigheid as ‘n silver lining gesien het

  3. Junie 29, 2007 2:58 nm

    Ek lees graag The Economist. Ek vind hulle berigte gebalanseerd en gewoonlik insiggewend. Die prof moet dalk maar weer die berig lees.

    Boer ek stem saam oor die slagoffersindroom. Solank dit deel bly van Afrika se denke, sal Afrika sukkel.

  4. marat permalink
    Junie 29, 2007 3:02 nm

    My beskeie mening (nie so geleerd soos julle nie): Afrika sal altyd sukkel solank as daar teruggestaan word en gewag word dat iemand anders iets doen.

  5. Junie 29, 2007 5:14 nm

    Myns insiens is die antwoord op die vraag “Will Africa ever get it right” juis opgesluit in ons eie slagoffersindroom.

    Afrika sal dit regkry sodra ons begin om verantwoordelikheid vir ons eie probleme te neem. Die kolonialiste, ou regime, rassiste, nuwe regering, weste,voorvaders, tokkolosh, Bush, Blair, eskom, telkom, vodacom. . . en wie ookal nog die skuld kry, gaan ons nie help as ons nie onself wil help nie

  6. Salige Rus permalink
    Junie 29, 2007 8:22 nm

    Self het ek my vooruitsigte vir Afrika onlangs van “min hoop” tot “geen hoop” aangepas. Ek dink nie dit het al ooit goed gegaan op die vasteland nie en dit sal seker ook nooit nie. ‘n Werklike tragedie.

  7. Thea permalink
    Junie 29, 2007 10:22 nm

    Ek het toevallig Woensdagaand ‘n stukkie gelees oor Lizette Rabe in ‘n boek genaamd “Vroue wat inspireer – Die nalatenskap van 16 bekende vroue”. Die boek is in 2002 uitgegee deur Struik Christelike Boeke en sy is een van die vroue wat ‘n hoofstuk in die boek geskryf het. Sy rig ‘n brief aan haar 3 seuns as nalatenskap en noem dit “‘n lappieskombers van liefde”.

    Ek haal daaruit aan:
    “Vroue – en die wêreld – het te lank gely onder mans se onnadenkende en selfsugtige patriargie en chauvinisme. Die gevolge daarvan is al die probleme waarmee ons wêreld vandag te kampe het: kolonialisme en die gevolge van kolonialisme, oorloë en die gevolge van oorloë, magstryde en die gevolge daarvan, paternalisme en die gevolge daarvan, chauvinisme en die gevolge daarvan. Klein en groot, internasionaal en nasionaal. In ons samelewing, gemeenskappe, gemeentes en huise. Julle word grootgemaak met die veronderstelling en die oortuiging dat julle tot alles in staat is. Onthou dat vroue ook tot alles in staat is. En behandel hulle soos julle behandel wil word. Gelykes. Met ’n goeie dosis vive la difference daarby. “

    Ek gaan my hoegenaamd nie daaroor uitspreek nie aangesien ek heeltemal te onkundig oor die onderwerp is, maar ek het net gedink om dit vir julle deur te gee aangesien dit julle dalk kan interesseer. Haar naam het my opgeval omdat ek weet dat sy redakteur van Sarie was en ek is ‘n Sarie leser. Sy is in 1994 daar aangestel (die eerste vrou in dié posisie) en in 2001 het sy die eerste vroueprofessor en voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch geword, aldus my boek.

  8. Junie 30, 2007 1:42 vm

    Eintlik wil ek my kommentaar kwalifiseer, veral na Johannes se aanstootlike “geen hoop”-stelling.
    Die goed waarvan prof Rabe skryf bestaan. Rassisme, “verstokte kolonialisme”, die meerderwaardigheid van die kolonialis, sy arrogante wanvoorstellings van die Afrikaan en die verlammende minderwaardigheid wat dit kan veroorsaak. Al hierdie dinge bestaan – dis net dat die Economist artikel nie ‘n voorbeeld daarvan is nie.

  9. Junie 30, 2007 6:03 nm

    Thea, dankie vir die toeligting. Ek sien in hierdie stukkie kry mans sommer die skuld vir alles op aarde. Nou verstaan ek miskien beter. Sy het dit teen al die sosiale euwels, want dis als deur mans veroorsaak…?

    Alleman, ek wonder nou sommer…wat sou die verskil wees tussen “aanstootlik” en “afstootlik”?

  10. Johan permalink
    Julie 1, 2007 1:54 vm

    Nou ja … op die aanhaling wat volgens “Thea Said” hierbo deur Prof. Rabe in haar bydrae in ‘n boek: “Vroue wat inspireer – Die nalatenskap van 16 bekende vroue”. gemaak is, en wat chauvinisme oorloë en kolonialisme (o.a) sommer so in een sin die gevolge van mekaar maak, kan ek net se “one small step for man, one GIANT leap for objective conjecture”.
    groete
    j

  11. Julie 1, 2007 9:05 vm

    aanstootlik en afstootlik? Ek het nou nie toegang tot ‘n goeie woordeboek nie, maar ek sou se aanstootlik geld meer in die wereld van idees. My opinies is seker ook vir sommiges aanstootlik.
    Afstootlik is meer fisies – bv ‘n man wat kaalbolyf in ‘n koswinkel rondloop.

  12. Julie 1, 2007 5:10 nm

    Itv die hele Afrika-debat, was hierdie vandag vir my ‘n vars briesie:

    http://www.news24.com/Rapport/Standpunte/0,,752-823_2139295,00.html

  13. Julie 2, 2007 2:24 vm

    BIB, die Rapport artikel is baie waar – dit is altyd interresant dat daar soveel opwag gemaak word van die “koloniale moontlikhede” wat Afrika so uitgeroei het. Tog hang Afrika aan die selfde vorige “sogenaamde verdrukkers” se geldbeursies en uitgifte. Met die groot 7 of 8 berade is een van die hoofagenda punte wat deur die Afrika lande ingestuur word altyd “hulp aan Afrika”. Afrika vir Afrika was ‘n tyd gelede baie gehoor – veral in die militere kringe – om ons interne Afrika struwelinge self op te los en te hanteer. Maar dit het slegs 2 jaar gehou, toe roep ons weer die ander moonthede om te kom help, toe kan ons nie meer nie, en ekonomie was nie die hoofoorsaak nie. Sit nou en wonder, miskien as ek daai professor ontmoet het sonder die artikel, sou ek van haar gehou het – sou egter my genade vir ‘n jaar moes opgebruik.

  14. Johan permalink
    Julie 2, 2007 5:26 vm

    My mening is ietwat anders as wat ek meestal lees. Daar is twee probleme met Afrika. Die eerste is direk die gevolg van kolonialisme en die ander is direk ‘n Afrika probleem.
    Robert Ruark, die skrywer van die boek Uhuru, het in een van sy ander boeke die spreekwoord aangehaal wat min of meer so lui: “If you take away something from someone, you must give him back something of value”, of woorde tot die effek. Nie een van die koloniale state het hierdie goue reël in Afrika respekteer nie. Hulle het bloot net hulle goed gevat, en op ‘n datum wat vir hulle goed was, ontsnap aan hulle verpligtinge. In die proses het hulle lande agtergelaat sonder regering sonder wette, en veral sonder moraal of morele waardes, behalwe daardie deeltjies van die korrupte waardestelsels van die weste wat die koloniale lande gebodder het om hier agter te laat.
    Die waardestelsels was nie gemaak om vir mense wat kinderlik die Uhuru slagspreuke nageskree het, te werk nie.

    Daarna was die Afrikamense bloot net aangewese op watse kwaliteit leiers ookal uit die chaos en as van die post-koloniale Afrika opgestaan het. En hierdie leiers is slaafs na gevolg. Dit is die een probleem. En daarvoor kan net die Britte, Franse, Portugese, Duitsers en Italianers pa staan.

    Dit is ook my mening dat dit die een rede is hoekom die Afrikaner nooit skaam hoef te wees vir wie hy is en hoe hy hierdie land na demokrasie geneem het nie. Dis nou as mens die soms lawwe argumente van of die volle demokratisering in Suid-Afrika en Namibië 2 maande of 2 jaar of 10 jaar vroeër moes gebeur het, negeer.

    Die tweede probleem wat Afrika nou nog die grond in ry, en vir ewig sal indien Afrika homself nie hiervan bevry nie, is die feit dat hulle nie leer uit die foute van die verlede en ontslae raak van die “soldate” in die regerings van hul lande nie. Soldate/vryheidsvegters of wat mens hul ookal wil noem, is opgelei om dood te maak en af te breek en te verwoes, NIE om op te bou en te laat groei nie. Mens kan die miltêre regimes wat by die koloniale lande oorgeneem het nog vergeef, want daar was niks en niemand anders beskikbaar nie. Maar vandag is daar werklik geen regverdiging voor vir die mense van Afrika se genooptheid om miltêre regimes waarin die s.g vryheidsvegters “dien”, aan bewind te hou nie.

    Demokrasie/kapitalisme met al hul tekortkominge, is en bly die politieke ideologië van die dag. Ander ideologië is uitgedien. En minstens het demokrasie die voordeel dat die Afrikamense van die regeringa ontslae kan raak indien hulle nie presteer nie. Ongelukkig word van die een korrupte, magsbehepte, bloedorstige spul onbevoegde leiers beweeg na die volgende. En dit het die tweede groot probleem tot gevolg – dat die gaping in die skepping van onderhoubare, ekonomiese welvaart gemeet tussen die weste en Afrika-ekonomië, eintlik reeds onoorbrugbaar is en sal bly, behalwe as die weste weer in een of ander katastrofe soos ‘n wêreldoorlog verval. Na my mening is daar darem lig in die donker. Daar is lande, Mosambiek, Botswana, Egipte, Ghana en andere, waar die beginsels van kapitalilsme/demokrasie blyk tot ‘n meerdere eerder as mindere mate, na gevolg te word. Dit is hierdie lande wat met hardeware eerder as westerse geld, onderteun eerder as gehelp behoort te word deur die ex-koloniale state wat baie het om voor pa te staan.
    groete
    j

  15. Julie 2, 2007 3:40 nm

    lol – ek ruik weer sigare!!! 😉

  16. Mary Jane permalink
    Julie 2, 2007 7:12 nm

    hey Boer, ek dink jy vat dit so raak saam! Ek wil net noem dat ek regtig geskok is dat ‘n PROFESSOR in joernalistiek soo ongelooflik polities korrek is. joernaliste is JUIS veronderstel om die ‘watchdogs of society’ te wees (en ek weet, want ek is ook ‘n joernalis). In elk geval, die artikel is uit emosie geskryf, nie uit kennis nie. Daar is ‘n GROOT verskil! Ek geniet juis jou kennis , Boer. Laat ek net my joernalistieke 2c val. Ek het dit al 1000x gesê… Afrika het nie simpatie of net nog meer geld nodig nie. Dis JUIS prof rabe se politieke korrektheid wat maak dat Afrika bly waar hy is. Behandel Afrika vri EEN maal soos ‘n gelyke met normale standaarde wat nie verskonings vir als maak nie en gee Afrika GELYKE geleenthede – wat sal beteken dat politieke korrektheid by die deur moet uit – en DAN sal Afrika verander, maar dis juis hierdie dubbele standaarde wat rabe voorstaan dat ons nie Afro-pessimisties moet wees nie, wat maak dat ons ALTYD ander standaarde vri Afrika sal hê! Die ironie is, dit wat rabe wil verhoed/voorkom is juis wat sy indirek voor baklei deur ander standaarde vri Afrika te bepleit!
    Die aanhaling uit haar boek het ek besonder insiggewend gevind! Wat het die vrou teen die wêreld??!??? genade ons, mens sou sweer sy was uin ‘n konsentrasiekamp!?!?

  17. Julie 2, 2007 10:23 nm

    Johan, dankie vir jou volledige kommentaar. “Objective conjecture” inderdaad!
    Ek stem in wese saam met jou siening van die “tweeledige” probleem – die een wat in die verlede le en die een wat vandag nog bestaan. Ek wil net op een of twee kleiner punte van jou verskil. Dit is so dat meeste van die koloniale state “hulle goed gevat het en ontsnap het van hulle verpligtinge”. Daar is egter GROOT graadverskille tussen die hoe die voormalige koloniale moondhede dit gedoen het. Ek weet jy wil dit seker nie hoor nie, maar die Engelse het in hierdie geval die beste reputasie. Hulle het redelike strukture in plek gelos en tot ‘n groot mate met omsigtigheid te werk gegaan in die de-kolonialisering van oa Ghana, Tanzanie, Botswana en Kenia. Die ander state se reputasie is egter nie goed nie. Die Franse het letterlik oorgegee en geloop (behalwe natuurlik in Algerie). Maar die ergste was die Portugese wat te lank vasgeklou het en letterlik OORNAG die hasepad gekies het. Angola en Mosambiek se treurige verhaal sedert 1975 getuig van hierdie aksie. Ek sal dus nie al die koloniale magte oor ‘n veralgemeende kam skeer nie. Ek glo ook natuurlik nie, soos baie kommentators, dat kolonialisme NET sleg was nie!

    Jou opsomming van Afrika se huidige probleem is vir iets waarmee ek kan saamleef. Maar jy ken die ou gesegde van “‘n volk verdien die leier wat hy kry?” Swak leierskap inderdaad, maar in Afrika speel etnisiteit en gepaardgaande lojaliteit ‘n geweldige rol. Dus ondersteun burgers ook baie keer hulle eie groep se kandidate, afgesien van hulle bevoegdheid, al dan nie. Politiek word as ‘n zero-som spel gesien en lojaliteit word verhef tot die belangsrikste kriterium van mag (ook in SA). Hier haal ek onlangse woorde van Nicolas Sarkozy aand (en hoop hy regeer daarvolgens!):
    “Loyalty is good, but efficiency is better”. Nou as Afrika-politici net hierdie eenvoudige waarheid wil besef, is daar baie hoop!

    Daar is inderdaad ligpunte in Afrika, soos jy uitwys, hoewel ek met jou sal verskil oor Egipte, wat na my mening nie regtig ‘n demokrasie is nie. Maar nou-ja, ek dink die dinamika in die Maghreb-state verskil ietwat van Sub-Sahara Afrika.

  18. Julie 2, 2007 10:33 nm

    MJ!

    Jou kommentaar haal die woorde so uit my mond! Inderdaad is dit een van die GROOT probleme. Een stel standaarde vir die wereld en ‘n ander standaard vir Afrika. Dis JUIS waar die bankrot-argument vandaan kom dat die Nigeriese verkiesing glad, eerlik en suksesvol was en ditto vir talle ander verkiesings in Afrika, insluitend Kenia, Malawi, Zambie ens. Maar jy sien, daar was al soveel staatsgrepe en geweld in Nigerie, dat die res van die wereld maar net se “dankie!” dat magsoorname plaasgevind het sonder ernstige geweld!

    Ek kom nou maar weer terug na een van my ou helde, naamlik Steve Biko…ai, daardie man is te vroeg dood! Hy het die regte idee gehad: “Africans, you’re on your own!”. Hy het gepoog om die onderdrukte (SA) Afrikane se gedagtes te bevry van ‘n minderwaardigheidsgevoel en hy wou hulle leer dat hulle trots moet wees en vir hulleself iets moet doen, eerder as om op blanke hulp staat te maak. Hierdie was nie rassistiese denke aan sy kant nie, maar bloot ‘n strewe om te bewys dat Afrikane dit self kan “regkry”. En ek glo Afrikane kan, maar dan het ons meer Steve Biko’s nodig…

  19. Julie 2, 2007 10:33 nm

    Rene….dis sigarette, Gauloise, om presies te wees…

Lewer kommentaar op alleman Kanselleer antwoord