Slaan oor na inhoud

Die 2014 FIFA Wêreldbeker: ‘n Sokkerfees in die land van Samba

Junie 3, 2014

733820 695732883775895 938655374 n

Vier jaar terug was dit Suid-Afrika se beurt om die wêreld se grootste sokkerskouspel aan te bied en die gedreun van vuvuzelas, die klanke van Shakira en die glimlagte van die seëvierende Spaanse span, is nog vars in die geheue.

Vanjaar is dit Brasilië se beurt. Wanneer die eindtoernooi van die 2014 Sokker Wêreldbeker op 12 Junie in Sao Paulo afskop, sal die protesoptogte, die stakings, die armoedige hooploosheid in die favelas, die gesukkel met die bou van die stadions, die endemiese geweldsmisdaad in die land, ekstreme ongelykhede en ander probleme, vergete wees. Want maak nie saak hoeveel geweldsmisdaad daar is, hoeveel ongelykheid, hoeveel armoede en hoeveel argwaan nie, Brasilië se nasionale godsdiens wat almal verenig, is sokker. Na 64 lang jare keer die grootste sokkerskouspel op aarde terug na die land wat gedefinieer word deur ‘n enkele sport, soos Nieu-Seeland deur rugby gedefinieer word en Indië deur krieket. Vir ‘n maand lank gaan 32 van die wêreld se top sokkerspanne dit uitspook om te bepaal watter land vir die volgende vier jaar die kroon van wêreldkampioen sal dra. ‘n Smorgasbord van sokker gaan feestelik opgedis word vir ondersteuners en die land van Samba skud sy vere reg om die wêreld te verwelkom, ten spyte van die onderliggende breuklyne en in die Brasiliaanse samelewing.

Hier dan, vir wie ook al belangstel of wil lees, is my vooruitskouing van die 2014 Wêreldbeker.

Nota
1) Weens die statistiese metodes wat gebruik word, is die posisies van die spanne op die FIFA wêreldranglys, nie ‘n korrekte weerspieëling van die kanse van spanne in die wêreldbeker nie. Dit dien slegs as ‘n breë aanduiding van die spanne se posisie in wêreldsokker.
2) Waar die afrigter nie afkomstig is nie van die land wat hy afrig, word die afrigter se land van herkoms aangedui.

Brazil-Flag (1)Mexico-FlagCroatia-FlagCameroon-Flag

GROEP A: Daar is net een span en dis Brasilië

Laat ek sommer met die intrapslag my kaarte op die tafel gooi. Ek glo Brasilië gaan waarskynlik vanjaar die 6de keer as wêreldkampioen gekroon word. Brasilië is die suksesvolste span in wêreldbeker-geskiedenis – die enigste span wat vir elke wêreldbeker sedert die ontstaan van die toernooi in 1930 kon kwalifiseer; 10 keer in die halfeindrondte, 7 keer in die eindstryd en 5 keer kampioene. Die huidige geslag Brasiliaanse towenaars, is miskien nie die beste Brasiliaanse span wat al ooit op die veld gedraf het nie en ‘n maklike pad gaan dit nie vir die Brasiliane wees nie. Maar hulle het die tuisvoordeel, die fanatiese ondersteuners en glo ek, die motivering om hul beste te lewer. Natuurlik sal daar geweldige druk wees, aangesien hulle ondersteuners met niks minder as die trofee self tevrede sal wees nie. Maar ek glo onder leiding van gesoute afrigter, Luiz Felipe Scolari, behoort die span die druk positief te verwerk. Onder hom het Brasilië in 2002 die trofee omhoog gehou en hy gaan, hierdie keer op eie bodem, heel moontlik hierdie prestasie herhaal.

Afrigter: Felipe Luiz Scolari; sedert 2012
Kaptein: Thiago Silva
Sleutelspelers: Die jeugdige sokkersensasie, Neymar, is die ster van die span, maar daar is baie bykomende talent in oa die vorm van Paulinho, Oscar en Luis Gustavo in die middeveld, asook Dani Alves, David Luiz en die betroubare doelwagter, Julio Cesar, op die verdediging.
FIFA wêreldranglys: 3
Deelnames aan eindtoernooie: 19; Beste vertoning: Wenners (1958, 1962, 1970, 1994, 2002)
Wenrekord in eindtoernooie: 69%

Meksiko hou die onbenydenswaardige rekord dat hulle, van alle spanne wat al meer as 10 keer vir die wêreldbeker-toernooi gekwalifiseer het, die swakste vertoningslys het. Die afgelope jaar het hulle ook nie juis die wêreld aan die brand gespeel in die kwalifiserende rondtes nie. Hulle het ook dikwels van afrigter verander en die huidige afrigter is nou maar 6 maande in die posisie. Hulle val egter selde in die groepfase vas en behoort vanjaar weer na die uitkloprondtes deur te dring. Verder as dit sal hulle nie sommer vorder nie.

Afrigter: Miguel Hererra; sedert 2013
Kaptein: Rafael Marquez
Sleutelspelers: Ongetwyfeld opwindende doelskieter Javier Hernandez. Kyk ook uit vir Andres Guardado op die verdediging en die jong Raul Jimenez op die aanval.
FIFA wêreldranglys: 20
Deelnames aan eindtoernooie: 13; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1970, 1986)
Wenrekord in eindtoernooie: 24%

Wanneer dit kom by wêreldbeker eindtoernooie is daar altyd ‘n span of twee wat uit die voormalige Joegoe-Slawië afkomstig is. Dis omdat Joegoe-Slawië vir baie jare ‘n krag in wêreldsokker was, voordat die unitêre staat in kleiner eenhede opgebreek het. Vanjaar sit Bosnië -Herzogowinië en Kroasië as’t ware hierdie trotse tradisie voort. Kroasië speel goeie, aanvallende sokker en het talent in die span, maar ek glo nie dit gaan genoeg wees om Brasilië of Meksiko te troef nie. Net soos Meksiko, is hulle nuwe afrigter eers baie onlangs aangestel. Boonop sal een van hulle sterspeler, Mario Mandžukic, heel moontlik die toernooi weens ‘n besering misloop.

Afrigter: Niko Kovac; sedert 2013
Kaptein: Darijo Srna
Sleutelspelers: In die afwesigheid van Mandžukic, die middeveld-duo, Luka Modric en Mareo Kovavic.
FIFA wêreldranglys: 18
Deelnames aan eindtoernooie: 13 (7 as deel van die voormalige Joegoe-Slawië); Beste vertoning: Halfeindrondte (1962 as deel van die voormalige Joegoe-Slawië en 1998 as Kroasië).
Wenrekord in eindtoernooie: 46% (as onafhanklike staat)

In hierdie mededingende groep gaan Kameroen sukkel om nie met die houtlepel terug te keer Afrika toe nie. Dit is ‘n heel ander verhaal as die aspoestertjiestorie van 1990, toe hulle vriend en vyand verras het deur die kwarteindrondte in Italië te haal. In 2013 kon hulle nie daarin slaag om te kwalifiseer vir die Afrikabeker nie en in die kwalifiserende rondtes was hulle spel wisselvallig. Hulle bly egter die Afrika-span met die beste historiese rekord in eindtoernooie (5 toernooie en een kwarteindrondte) en hulle is nooit maklike teenstanders nie.

Afrigter: Volker Finke (Duitsland); sedert 2013
Kaptein: Samuel Eto’o
Sleutelspelers: Samuel Eto’o bly die spil waarrondom die span draai, maar kyk ook uit vir die talent van Benoît Assou-Ekotto op verdediging en Alexandre Song in die middeveld.
FIFA wêreldranglys: 56
Deelnames aan eindtoernooie: 6; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1990)
Wenrekord in eindtoernooie: 20%

Vlugtige feit: Kameroen en Kroasië het nog nooit vantevore op die sokkerveld ontmoet nie.
Wedstryd om te kyk: Die openingswedstryd van die toernooi tussen Brasilië en Kroasië (12 Junie)

 

Spain-State-FlagNeatherlands-FlagChile-FlagAustralia-Flag

GROEP B: ‘n Wraakwedstryd en ‘n moontlike skok

Vier jaar terug het Spanje die ongelukkige titel van beste span wat nog nooit die wêreldbeker kon wen nie, aan Nederland oorgedra. Om die waarheid te sê, het dieselfde Spaanse span voortgegaan om ook die 2012 Europese Beker te wen. Sodoende het die huidige Spaanse span byna legendariese status verwerf en hulself gevestig as een van die beste nasionale sokkerspanne van alle tye. Boonop is Spanje tans (en sedert 2010) die nommer een span op FIFA se wêreldranglys. Spanje het onoorwonne deur die kwalifiserende rondtes gevorder en die enigste klad op hulle naam, is toe hulle verlede jaar vasgeval het teen Brasilië in die eindstryd van die Konfederasiebeker. Dus, met die kern van die kampioenspan steeds in plek en dieselfde afrigter in die enigmatiese Vincent del Bosque, wie of wat gaan verhoed dat Spanje sy titel suksesvol kan verdedig (iets wat nog slegs Brasilië en Italië in die verlede kon vermag)? Na my mening kan net 3 spanne hulle stuit: Brasilië, Argentinië of Duitsland. Ek weet nie of hulle na die sukses van 2010 en 2012 steeds honger genoeg is vir die 2014 toernooi nie. Hulle behoort die halfeindrondte te haal, maar gaan hulle genoeg petrol in die tenk hê om in die eindstryd te speel en boonop te wen? Ek is egter bereid om aangenaam verras te word. Onsterflikheid is binne bereik.

Afrigter: Vincente del Bosque; sedert 2008
Kaptein: Iker Casillas
Sleutelspelers: Casillas is een van die beste doelwagters in die toernooi en Andres Iniesta is ‘n towenaar sonder weerga in die middeveld. Maar die lys is veel langer as dit: Xavi Hernandez, Diego Costa, Fernando Torres, Roberto Soldado, David Silva, Cesc Fabregas, Alvaro Negredo, Gerard Pique
FIFA wêreldranglys: 1
Wenrekord in eindtoernooie: 50%
Deelnames aan eindtoernooie: 13; Beste vertoning: Wenners (2010)

Nederland lek nou nog hulle wonde na hulle in 2010 so naby daaraan gekom het om hulle eerste wêreldbekertrofee te wen. Hulle staatmakers van vier jaar terug is steeds in die span, maar daar is ook verskeie jong en opwindende nuwe spelers. In die kwalifiserende rondtes was hulle verwoestend en het ook (soos Spanje) onoorwonne daardeur gekom. Die span lyk goed gebalanseerd en ek glo nie motivering is ‘n probleem nie. Hulle was egter ongelukkig om een van hulle opkomende sterre (Kevin Strootman), sowel as een van hulle staatmakers (Rafael van der Vaart) beide aan beserings te verloor kort voor die toernooi. Die wedstryd teen Spanje sal kritiek wees om te bepaal hoe ver hulle in die toernooi gaan vorder. Eindig hulle eerste in die groep, kan hulle sover as die halfeindrondte vorder. Eindig hulle egter tweede, sal hulle Brasilië in die uitkloprondte van 16 moet trotseer. Hulle sal ook op hulle hoede moet wees om nie vas te val teen ‘n baie goeie Chileense span nie, veral met die kritieke beserings wat hulle te beurt geval het.

Afrigter: Louis van Gaal; sedert 2012
Kaptein: Robin van Persie
Sleutelspelers: Van Persie en Arjen Robben is wêreldklas en hulle gevaarlikste wapens. Ander spelers wat ‘n impak gaan hê, is Klaas Jan Huntelaar en Jermaine Lens.
FIFA wêreldranglys: 15
Deelnames aan eindtoernooie: 9; Beste vertoning: Eindstryd (1974, 1978, 2010)
Wenrekord in eindtoernooie: 51%

Chili sal hoop om die vertoning van 2010 te herhaal en ten minste deur te dring na die uitkloprondte van 16. Met opponente soos Spanje en Nederland, gaan dit ‘n moeilike taak wees. Dis ‘n egter ‘n goeie span en as hulle die dag na hulle volle potensiaal speel, kan hulle selfs ‘n verrassing lewer in hierdie groep. Hulle speel ook op hulle eie kontinent, wat groter motivering en selfgeloof teweegbring. Hulle kan sorg vir ‘n moontlike skok in hierdie groep, deur Nederland se tjank af te trap.

Afrigter: Jorge Sampaoli (Argentinië); sedert 2012
Kaptein: Claudio Bravo
Sleutelspelers: Alexis Sanchez and Eduardo Vargas is die sterre in die span, maar moenie die middeveld maestro’s Arturo Vidal en Matias Fernandez, weggooi nie.
FIFA wêreldranglys: 14
Deelnames aan eindtoernooie: 8; Beste vertoning: Halfeindrondte (1962)
Wenrekord in eindtoernooie: 31%

Australië behoort gelukkig te wees om net in Brasilië te wees. Daar is nie veel om te skryf oor hulle nie en ek sal baie verbaas wees as hulle nie die houtlepel huis toe neem nie. In tipiese Australiaanse tradisie sal hulle hardnekkig speel en die ander spanne laat werk vir ‘n oorwinning. Hulle het egter net te min talent om enige van die wedstryde te wen.

Afrigter: Ange Postecoglou; sedert 2013
Kaptein: Mile Jedinak
Sleutelspelers: Die veteraan, Tim Cahill.
FIFA wêreldranglys: 62
Deelnames aan eindtoernooie: 3; Beste vertoning: Rondte van 16 (2006)
Wenrekord in eindtoernooie: 20%

Vlugtige feit: Spanje en Australië het nog nooit vantevore teen mekaar gespeel nie.
Wedstryd om te kyk: Bo alle twyfel Spanje teen Nederland (13 Junie)

 

Colombia-FlagJapan-FlagGreece-Flag (1)Ivory-Coast-Flag

GROEP C: Land van koffie en die blou Samurai

Kolombië bring ‘n sterk en talentvolle span Brasilië toe. In die kwalifiserende rondtes het hulle tweede geëindig, naas Argentinië, in die Suid-Amerikaanse groep. Hulle is ‘n span in goeie vorm en vol selfvertroue. Die Kolombiane is baie hoopvol dat hulle hul beste vertoning ooit in die wêreldbeker eindtoernooi kan lewer en met goeie rede. Ongelukkig het hulle hul sterspeler, Radamel Falcao, aan ‘n besering verloor kort voor die toernooi, Dit kan hulle kanse erg knou. Hulle behoort egter steeds hierdie groep te domineer met aanvallende spel, maar hulle kanse om ‘n moontlike kwarteindstryd te haal, is minder goed. Hoe dit ookal sy, na hierdie wêreldbeker sal hulle bekend wees as meer as net ‘n land van koffie en kartels.

Afrigter: Jose Pekerman (Argentinië); sedert 2012
Kaptein: Mario Yepes
Sleutelspelers: In die afwesigheid van Radamel Falcao, James Rodriguez en Teofilo Gutierrez. Rodriguez is een van die jong, opkomende sterre in internasionale sokker.
FIFA wêreldranglys: 8
Deelnames aan eindtoernooie: 4; Beste vertoning: Rondte van 16 (1990)
Wenrekord in eindtoernooie: 23%

In elke wêreldbeker eindtoernooi is daar een of twee spanne wat verras. Hoewel min mense die Japannese ‘n kans gee in hierdie groep, glo ek hulle is die span wat kan verras en saam met Kolombië deurdring na die uitkloprondtes. Japan het ‘n baie fikse span, ‘n kanniedood benadering, speel opportunisties en absoluut niks om te verloor nie. Hulle gaan probleme skep vir beide Griekeland en die Ivoorkus. Ek glo hulle kan moontlik hulle beste vertoning van 2002 herhaal.

Afrigter: Alberto Zaccheroni (Italië); sedert 2010
Kaptein: Makoto Hasebe
Sleutelspelers: Keisuke Honda en die gevaarlike doelskieter, Shinji Kagawa sal die sleutel wees tot die span se sukses, met die hulp van verdedigers soos Yuto Nagatomo en Atsuto Uchida.
FIFA wêreldranglys: 46
Deelnames aan eindtoernooie: 3; Beste vertoning: Rondte van 16 (2002)
Wenrekord in eindtoernooie: 29%

Dis die derde keer dat Griekeland in ‘n wêreldbeker eindtoernooi speel, met weer eens ‘n goeie plek op FIFA se wêreldranglys en ‘n bevredigende vertoning in die kwalifiserende rondtes. Hulle het egter beide vorige kere in die eerste rondte vasgeval wanneer meer van hulle verwag is. Ek voorspel dit gaan weer die geval wees. Hulle baseer hulle spel op rotsvaste verdediging en is beslis van die minder skouspelagtigste spanne by die toernooi. Hulle gaan harde bene kou, maar kan verras teen die Ivoorkus.

Afrigter: Fernando Santos (Portugal); sedert 2010
Kaptein: Georgis Karagounis
Sleutelspelers: Doelskieter Konstantinos Mitroglou.
FIFA wêreldranglys: 12
Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Eerste Rondte
Wenrekord in eindtoernooie: 17%

Die Ivoorkus beskik oor die dienste van spelers wat, as individue, van die beste spelers in die wêreld is. Wanneer hulle egter as span saamspeel, speel hulle steeds as individue en daarom is samespel ‘n probleem – iets wat ander Afrika-spanne ook teister. Op papier lyk die Ivoorkus na die sterkste Afrika-span by hierdie toernooi. Voeg hierby die feit dat hulle onoorwonne deur die kwalifiserende rondtes gekom het en hulle kanse lyk goed op verder te vorder as die eerste rondte. Tog vermoed ek dat die span op die veld anders gaan lyk as die een op papier. Hulle eerste wedstryd teen Japan gaan tot ‘n groot mate hul lot bepaal.

Afrigter: Sabri Lamouchi (Frankryk); sedert 2012
Kaptein: Didier Drogba
Sleutelspelers: Die briljante Didier Drogba en die Touré broers, Kolo en Yaya.
FIFA wêreldranglys: 23
Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Eerste Rondte
Wenrekord in eindtoernooie: 33%

Vlugtige feit: Die Ivoorkus het nog nooit vantevore kragte gemeet met Griekeland of Kolombië nie.
Wedstryd om te kyk: Japan teen die Ivoorkus (14 Junie)

 

Uruguay-FlagEngland-FlagItaly-FlagCosta-Rica-State-Flag

GROEP D: Drie reuse en ‘n dwerg

In Suid-Afrika het Uruguay se span in 2010 bo verwagting goed gedoen en vierde in die kompetisie geëindig. Hulle sal hoop om vanjaar die horlosie terug te draai met 64 jaar, toe hulle die tweede en laaste keer as kampioene gekroon is in die einste Brasilië. In daardie jaar het hulle die Brasiliane se partytjie erg bederf, maar kan hulle weer so maak? Hulle het ‘n gesoute afrigter en talentvolle spelers. Maar van hulle sterre in Suid-Afrika se loopbaan is besig om tot ‘n einde te kom. In die kwalifiserende rondtes het hulle gehinkepink en moes teen Nieu-Seeland dit uitspook om by die agterdeur in te glip. Boonop het hulle te lande gekom in die tweede mees mededingende groep van 2014. Om sake nog moeiliker te maak, is hulle sterspeler, Luis Suarez, ‘n kort tydjie gelede beseer. As hy nie vinnig herstel nie, sal Uruguay se kanse in die toernooi dramaties versleg en kan hulle selfs nie die uitkloprondtes haal nie. Herstel hy egter, glo ek dat hulle, in ag geneem dat hulle in bekende omstandighede speel en hulle vorige sukses in Brasilië, steeds kan vorder tot die kwarteindrondte.

Afrigter: Oscar Tabarez; sedert 2006
Kaptein: Diego Lugano
Sleutelspelers: As hy betyds van ‘n besering kan herstel, ongetwyfeld die sluipskutter, Luis Suárez en sy kameraad Edinson Cavani. Diego Forlan (2010 se speler van die toernooi) kan ook nog ‘n impak maak vanaf die reserwebank.
FIFA wêreldranglys: 7
Deelnames aan eindtoernooie: 11; Beste vertoning: Wenners (1930, 1950)
Wenrekord in eindtoernooie: 38%

As ek ‘n dobbelaar was…sou ek nie enige geld op Engeland verwed nie. Ek dink ook selfs die Engelse se eie verwagtinge is nie te hoog nie. Hoewel hulle onoorwonne deur die kwalifiserende rondtes gevorder het, het hulle nie juis oortuig nie. Tog vermoed ek dat hulle in hierdie moeilike groep genoeg skietgoed gaan hê om dalk net deur te dring na die uitkloprondtes. Die talent het hulle beslis. Of hulle as span gaan jel, dit kan ek nie voorspel nie. As hulle nie daarin slaag nie, sal dit die eerste keer sedert 1958 wees, wat hulle in die eerste rondte vasval (ek noem nie eens 1994, toe hulle nie daarin kon slaag om te kwalifiseer nie). Hulle was ook ongelukkig om die opkomende ster, Andros Townsend, kort voor die toernooi aan ‘n besering te verloor. Beide hulle wedstryde teen Uruguay en Italië sal van kardinale belang wees.

Afrigter: Roy Hodgson; sedert 2012
Kaptein: Steven Gerrard
Sleutelspelers: Wayne Rooney is verseker die grootste kanon in hulle arsenaal. Steven Gerrard en Frank Lampard het baie ervaring, gemeng met die jonger talent van oa Daniel Sturridge en Jack Wilshere.
FIFA wêreldranglys: 10
Deelnames aan eindtoernooie: 13; Beste vertoning: Wenners (1966)
Wenrekord in eindtoernooie: 44%

Naas Brasilië, is Italië die span met die beste rekord in wêreldbeker eindtoernooie. Dit het egter nie in 2010 so gelyk nie, toe hulle laaste in hulle groep geëindig het en die houtlepel moes terugneem huis toe. In hierdie nagmerrie-groep, gaan dit weer eens moeilik wees om deur die groepfase te vorder. Hulle het steeds die spelskeppers en het (soos Engeland) onoorwonne deur die kwalifiserende rondtes gevorder. Maar het hulle die motivering en spangees om Engeland en Uruguay in hierdie groep te troef? Hulle openingswedstryd teen Engeland sal die deurslag gee. Daar is min te kies tussen die twee spanne.

Afrigter: Cesare Prandelli; sedert 2010
Kaptein: Gianluigi Buffon
Sleutelspelers: Ongetwyfeld die eksentrieke, maar fenomenaal talentvolle doelskieter, Mario Balotelli, tesame met die standvastigheid van die veterane Gianluigi Buffon (‘n legende in sy eie leeftyd) en spelskepper Andrea Pirlo.
FIFA wêreldranglys: 9
Deelnames aan eindtoernooie: 17; Beste vertoning: Wenners (1934, 1938, 1982, 2006)
Wenrekord in eindtoernooie: 55%

My hart gaan uit na Kosta Rika – ‘n dwerg tussen die reuse in hierdie groep. Sukses vir hierdie span sal wees om ten minste een gelykop-uitslag af te dwing, voor hulle met die houtlepel terugkeer San Jose toe. Hulle hart sal hulle uitspeel, maar selfs dit gaan nie genoeg wees teen die ander drie sokkerkragte in die groep nie.

Afrigter: Jorge Luis Pinto (Kolombië); sedert 2011
Kaptein: Bryan Ruíz
Sleutelspelers: Bryan Ruiz is hulle gevaarlikste wapen en hou ook die jong Joel Campbell dop.
FIFA wêreldranglys: 28
Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Rondte van 16 (1990)
Wenrekord in eindtoernooie: 30%

Vlugtige feit: Kosta Rika en Engeland het nog nooit vantevore kragte gemeet nie.
Wedstryd om te kyk: ‘n Wedstryd vir die wynproewer; Engeland teen Italië (14 Junie)

 

France-FlagSwitzerland-FlagdownloadHondurus-Flag

GROEP E: Franse flair en Switserse perfeksie

Frankryk sal sukkel om hulle nagmerrie van ‘n verleentheid wat in 2010 afgespeel het, te herhaal, selfs al probeer hulle hoe hard. Vier jaar terug kon hulle nie een wedstryd wen nie en is hulle uitmekaar geruk deur onenigheid in spangeledere en rebellie. Hulle is terug by die wêreldbeker onder ‘n nuwe afrigter en selfs al het hulle middelmatig vertoon gedurende die kwalifiserende rondtes, het hulle in ‘n groep beland waaroor hulle baie gelukkig kan wees. As hulle met die flair speel wat hulle kan, sal hulle eerste in die groep eindig. Of hulle daarna verder as die Rondte van 16 sal vorder, is egter ‘n ope vraag.

Afrigter: Didier Deschamps; sedert 2012
Kaptein: Hugo Lloris
Sleutelspelers: Die energieke Franck Ribéry is ongetwyfeld die helderste ster in die span en ‘n wêreldklas speler. Aan sy sy het hy mede-aanvallers, Karim Benzema en Olivier Giroud. In die middeveld is Paul Pogba die ster, wyl Mamadou Sakho die verdediging lei.
FIFA wêreldranglys: 17
Deelnames aan eindtoernooie: 13; Beste vertoning: Wenners (1998)
Wenrekord in eindtoernooie: 46%

Switserland sal graag beter wil doen as in 2010, toe hulle nie verder as die groepfase kon vorder nie. Ondanks ‘n oorwinning oor die uiteindelike kampioene, Spanje. As hulle Ekuador kan troef, kan die Switsers in hulle doel slaag, hoewel die kanse dat hulle verder as dit sal vorder, bitter skraal lyk. Hulle het ‘n gebalanseerde span en hoewel nie miskien so ervare nie, het hulle jong, opwindende spelers in hulle geledere. Hulle verdediging is goed en hulle kan opportunistiese kanse benut, hoewel hulle nie die beste aanvallende span in hierdie groep is nie.

Afrigter: Ottmar Hitzfeld (Duitsland); sedert 2008
Kaptein: Gokhan Inler
Sleutelspelers: Die middeveld is die Switsers se speerpunt, waar Xherdan Shaqiri en Granit Xhaka sake beheer.
FIFA wêreldranglys: 6
Deelnames aan eindtoernooie: 8; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1934, 1938, 1954)
Wenrekord in eindtoernooie: 31%

Daar is min te kies tussen Ekuador en Switserland in hierdie groep, maar die feit dat Ekuador in die kwalifiserende rondtes nie een wedstryd weg van hulle tuisveld kon wen nie, maak dit onwaarskynlik dat hulle vanuit hierdie groep kan kwalifiseer. Hoewel Ekuador beskik oor ‘n goeie aanval, is hulle verdediging verdag en gaan hulle sukkel om nie doele af te staan nie.

Afrigter: Reinaldo Rueda (Kolombië); sedert 2010
Kaptein: Antonio Valencia
Sleutelspelers: Die giftige Jefferson Montero behoort ‘n indruk maak, bygestaan deur Felipe Caicedo en Antonio Valencia.
FIFA wêreldranglys: 26
Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Rondte van 16 (2006)
Wenrekord in eindtoernooie: 43%

Vir Hondoeras om vir twee agtereenvolgende wêreldbeker eindtoernooie te kwalifiseer, is ‘n prestasie opsigself. Hulle kon nog nooit vantevore ‘n wedstryd wen in die eindtoernooi nie en ek glo nie die statistiek gaan in 2014 veel verander nie. Tog kan hulle ‘n span soos Ekuador dalk opdraande gee.

Afrigter: Luis Fernando Suarez (Kolombië); sedert 2011
Kaptein: Noel Valladares
Sleutelspelers: Emilio Izaguirre
FIFA wêreldranglys: 33
Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Eerste Rondte
Wenrekord in eindtoernooie: 0

Vlugtige feit: Switserland en Ekuador het nog nooit vantevore swaarde gekruis nie en so ook nie Frankryk en Hondoeras nie..
Wedstryd om te kyk: Frankryk teen Switserland (20 Junie)

 

Argentina-State-FlagNigeria-FlagBosnia-and-Herzegovina-FlagIran-Flag

GROEP F: Lionel Messi en die res

Argentinië reis na Brasilië as een van die gunstelinge om as wêreldkampioene gekroon te word op 13 Julie. Hulle het baie oortuigend vertoon in die kwalifiserende rondtes en hulle is een van maar net ‘n handvol spanne wat in staat is om Brasilië se droom te verydel. Inderdaad glo ek gaan hulle na daaraan kom. Bo en behalwe die superster, Lionel Messi, het hulle ‘n span vol talent. Hierdie keer het hulle ook die regte afrigter en hope motivering en ondersteuning op hulle tuiskontinent. Hulle gaan hierdie groep met gesag domineer en die wedstryd teen Iran kan in ‘n eensydige slagting ontaard. Enigiets minder as ‘n plek in die eindstryd, gaan vir hulle ‘n teleurstelling wees.

Afrigter: Alejandro Sabella; sedert 2011
Kaptein: Lionel Messi
Sleutelspelers: Sonder twyfel die briljante Lionel Messi. Daar is egter ook verskeie ander spelers wat ‘n nagmerrie vir hulle teenstanders gaan wees. Mens dink hier aan doelskieters, Gonzalo Higuain en Sergio Aguero, asook Angel di Maria en Javier Mascherano in die middeveld.
FIFA wêreldranglys: 5
Deelnames aan eindtoernooie: 15; Beste vertoning: Wenners (1978, 1986)
Wenrekord in eindtoernooie: 53%

Die Super Arende van Nigerië sal by die toernooi opdaag as die Afrika-kampioene. Hulle behoort vol selfvertroue te wees nadat hulle onoorwonne deur die kwalifiserende rondtes gevorder het, asook skaflik vertoon het in die 2013 Konfederasiebeker in die einste Brasilië. Hulle besit die dienste van begaafde spelers in hulle geledere en hulle afrigter het alreeds die leisels vir 3 jaar in sy hande. Onder Stephen Keshi se leiding, het Nigerië met ‘n relatief jong span ‘n skerp opwaartse kurwe getoon sedert 2011. Ek glo hulle kan vanjaar in Brasilië die Afrika-span wees wat die verste vorder en kan selfs verras met ‘n plek in die kwarteindrondte, as hulle hul verdediging kan opknap.

Afrigter: Stephen Keshi; sedert 2011
Kaptein: Vincent Enyeama
Sleutelspelers: Die gevaarlike Victor Moses gaan ‘n paar draaie rondom verdedigers hardloop, terwyl hy bygestaan word deur die talent van spelers soos John Obi Mikel en Emmanuel Emenike.
FIFA wêreldranglys: 44
Deelnames aan eindtoernooie: 4; Beste vertoning: Rondte van 16 (1994, 1998)
Wenrekord in eindtoernooie: 29%

Bosnië-Herzogowinië speel in hulle eerste wêreldbeker eindtoernooi as onafhanklike staat en motivering sal nie ‘n probleem vir hulle wees nie. Hulle is egter geloot saam met Nigerië en Argentinië en dit gaan baie van hulle vat om nie hulle tasse te moet pak na die groepfase nie. Hulle sal baie steun wen deur hulle avontuurlike aanvallende spel, maar hulle verdediging is nie watwonders nie. Hoewel hulle Iran die loef behoort af te steek, gaan hulle sukkel teen Nigerië se kragtige spel en die towerkuns van Lionel Messi.

Afrigter: Safet Sucic; sedert 2009
Kaptein: Emir Spahic
Sleutelspelers: Doelskieters Edin Dzeko en Vedad Ibisevic kan vir enige span probleme skep, asook die spelskepper in die middeveld, Miralem Pjanic.
FIFA wêreldranglys: 21
Deelnames aan eindtoernooie: 10 (as deel van Joego-Slawië)
Beste vertoning (as deel van Joego-Slawië): Halfeindrondte (1930, 1962)
Wenpersentasie in eindtoernooie: Op debuut (as onafhanklike staat)

Hoewel kan verwag word dat Iran elke wedstryd met motivering en passie sal benader, het hulle doodeenvoudig nie genoeg talent om enigsins ‘n impak te maak in Brasilië nie. Hulle gaan teen al drie ander spanne bloedsweet en kan gelukkig voel as hulle ten minste een gelykop-uitslag kan afdwing.

Afrigter: Carlos Queiroz (Portugal); sedert 2011
Kaptein: Javad Nekounam
Sleutelspelers: Javad Nekounam en doelskieter Reza Ghoochannejad.
FIFA wêreldranglys: 43
Deelnames aan eindtoernooie: 3; Beste vertoning: Eerste Rondte
Wenrekord in eindtoernooie: 11%

Vlugtige feit: Nigerië en Bosnië-Herzogowinië het nog nooit vantevore swaarde gekruis nie.
Wedstryd om te kyk: Argentinië teen Nigerië (25 Junie)

 

Germany-FlagPortugal-FlagGhana-FlagUSA-Flag

GROEP G: Die Duitse masjien en Christiano Ronaldo

Groep G word in hierdie toernooi as die Groep van die Dood beskou, hoewel ekself voel dat hierdie eer eerder Groep C behoort te beurt te val. Om mee te begin, het ek geen twyfel dat Duitsland hierdie groep sal oorheers nie – iets wat ek van geen span in Groep C kan sê nie. Duitsland daag selde by ‘n wêreldbeker eindtoernooi op as nie een van die gunstelinge nie. Mens moet sover teruggaan as 1978 om te sien wanneer laas Duitsland nie daarin kon slaag nie om ten minste die kwarteindrondte te haal. Hulle bêre eenvoudig altyd hulle beste vir die wêreldbeker eindtoernooi. Wanneer mens hulle trotse geskiedenis in eindtoernooie in ag neem, ‘n geslepe en bekwame afrigter, die feit dat hulle skoonskip gemaak het in die kwalifiserende rondtes, asook die oneindige talent in hulle span, kan mens nie anders as om Duitsland weer in die halfeindstryd te sien nie. Of hulle genoeg dryfkrag het om die eindstryd te haal, sal mens eers later kan peil. Hulle is een van enkele spanne wat daarin kan slaag om Brasilië se donder te steel.

Afrigter: Joachim Low; sedert 2006 en hulpafrigter sedert 2004
Kaptein: Philipp Lahm
Sleutelspelers: Duitsland het ‘n sleutelspan, nie sleutelspelers nie. Maar as mens nou ‘n paar name moet noem: Manuel Neuer as rotsvaste doelwagter; Philipp Lahm en Per Mertesacker op die verdediging; Mario Gotze, Toni Kroos, Mesut Ozil, Thomas Muller en Bastian Schweinsteiger in die middeveld en laastens die trefkrag en jare se ervaring van Lukas Podolski en Miroslav Klose.
FIFA wêreldranglys: 2
Deelnames aan eindtoernooie: 18; Beste vertoning: Wenners (1954, 1974, 1990)
Wenrekord in eindtoernooie: 58%

Naas Nederland, is Portugal die beste nasionale sokkerspan wat nog nooit die wêreldbeker kon wen nie. Vier jaar terug moes hulle teen Spanje die knie buig reeds in die Rondte van 16 en hulle sal vol moed na Brasilië reis om te verbeter op daardie vertoning. Hulle kwalifiserende rondte vertonings was egter nie heeltemal oortuigend nie en boonop is hulle in ‘n groep geloot waar hulle baie hard sal moet werk om nie vas te val nie. Beide die VSA en Ghana kan vir hulle probleme skep en hulle sal op hulle beste moet wees. Met die briljante Christiano Ronaldo in hulle midde, behoort hulle steeds vanuit hierdie groep te kwalifiseer saam met Duitsland. Of hulle egter daarin sal slaag om op hulle rekord van vier jaar terug te verbeter, is ‘n ope vraag.

Afrigter: Paul Bento; sedert 2010
Kaptein: Christiano Ronaldo
Sleutelspelers: Christiano Ronaldo, Christiano Ronaldo en Christiano Ronaldo.
FIFA wêreldranglys: 4
Deelnames aan eindtoernooie: 5 ; Beste vertoning: Halfeindstryd (1966,2006)

In Suid-Afrika het Ghana hul beste wêreldbeker eindtoernooi tot nog toe beleef en daarin geslaag om die kwarteindrondte te haal, waar hulle op omstrede wyse deur Uruguay uitgeskakel is. Om die waarheid te sê, het Ghana in die twee eindtoernooie waarin hulle gespeel het, nog elke keer daarin geslaag om die uitkloprondtes te haal. Dit, tesame met die feit dat hulle baie goed vertoon het in die kwalifiserende rondtes, sal die Swart Sterre baie moed gee om ‘n goeie vertoning in Brasilië te lewer. En meeste kommentators sien hulle as die Afrika-span wat die beste gaan doen in die toernooi. Ongelukkig vir Ghana, is hulle egter in die mees kompeterende groep van 2014 geloot. Hulle is ook nie ‘n baie gedissiplineerde span nie en staan baie kaarte af. Hulle sal werklik alles moet uithaal en hulle wedstryde teen Portugal en die VSA sal die deurslag gee. Hoewel hulle definitief die potensiaal het om deur te dring na die uitkloprondtes, glo ek dit gaan hulle nie weer beskore wees nie.

Afrigter: Kwesi Appiah; sedert 2012
Kaptein: Asamoah Gyan
Sleutelspelers: Superster Michael Essien in die middeveld en Asamoah Gyan en die opwindende Kevin-Prince Boateng op die aanval.
FIFA wêreldranglys: 37
Deelnames aan eindtoernooie: 2; Beste vertoning: Kwarteindrondte (2010)
Wenrekord in eindtoernooie: 44%

Nie dat ek beweer dat die VSA nie ‘n goeie span het nie, maar hulle sterkpunt is heel moontlik hulle afrigter, Jurgen Klinsmann. Die Duitser het ‘n goeie rekord as afrigter en sedert sy oorname drie jaar terug, toon die VSA se spel ‘n opwaartse kurwe. Hy het egter omstredenheid veroorsaak deur die veteraan en sterspeler, Landon Donovan, uit die span te laat vir die eindtoernooi. Ek glo egter nie Donovan se teenwoordigheid, al dan nie, gaan veel verskil maak aan hulle lot nie. Die span se samespel is baie goed en hulle gaan verseker vir Portugal en Ghana laat sukkel. Dit sal vir hulle ‘n groot teleurstelling wees as hulle nogtans laaste in die groep eindig, maar dis ‘n realistiese scenario. Verder as die groepfase gaan hulle nie sommer vorder nie.

Afrigter: Jurgen Klinsmann (Duitsland); sedert 2011
Kaptein: Clint Dempsey
Sleutelspelers: Michael Bradley en Clint Dempsey.
FIFA wêreldranglys: 13
Deelnames aan eindtoernooie: 9; Beste vertoning: Halfeindstryd (1930)
Wenrekord in eindtoernooie: 24%

Vlugtige feit: Portugal en Ghana het nog nooit vantevore teen mekaar uitgedraf nie.
Wedstryd om te kyk: Hoewel al die wedstryde in hierdie groep die moeite werd is om te volg, kies ek die stryd tussen die twee gunstelinge, Duitsland teen Portugal (16 Junie)

 

Belgium-FlagRussia-FlagKorea-South-FlagAlgeria-Flag

GROEP H: Vonkelende België en die Russiese beer

België het in 2002 laas vir die wêreldbeker eindtoernooi gekwalifiseer, maar die Belgiese span van 2014 kom met groot gebelg (by wyse van spreke) Brasilië toe, gemotiveerd om ten minste die kwarteindrondte te haal, indien nie verder te vorder nie. België het onoorwonne deur die kwalifiserende rondtes gestoomroller en hulle het ‘n jong span, propvol talent, avontuur en entoesiasme. In hierdie groep behoort hulle eerste te eindig en, op huidige vorm, hul beste vertoning by eindtoernooie te herhaal deur tot die kwarteindrondte te vorder. Hulle speel opwindende sokker, terwyl hulle verdediging ook knap is. Hou hulle dop.

Afrigter: Marc Wilmots; sedert 2012 (hulpafrigter sedert 2009)
Kaptein: Vincent Kompany
Sleutelspelers: Vincent Kompany is ‘n rots op die verdediging, terwyl Eden Hazard en Nacer Chadli balkunstenaars in die middeveld is. Doelskieter Romelo Lukaku gaan menige span laat bontstaan en doelwagter Thibaut Courtois het veilige hande.
FIFA wêreldranglys: 11
Deelnames aan eindtoernooie: 11; Beste vertoning: Kwarteindrondte (1998)
Wenrekord in eindtoernooie: 36%

Nes België, het Rusland laas in 2002 gekwalifiseer vir die wêreldbeker eindtoernooi. Na die val van die Sowjet-Unie, kon Rusland nog nooit weer die hoogtes bereik van hulle voorgangers nie. Hulle het nie werklik konstant vertoon in aanloop tot die eindtoernooi nie. Hulle het egter ‘n ervare afrigter, ‘n fisieke teenwoordigheid op die veld en enkele sterre. Hulle sal op hulle hoede moet wees vir Suid-Korea, as hulle nie in die groepfase wil agterbly nie, soos in hulle vorige twee verskynings in eindtoernooie, na die val van die Sowjet-Unie. Hulle spel is, soos Griekeland, gebou op sterk verdediging, maar hulle gaan meer as dit nodig hê. Verder as die Rondte van 16 sal hulle nie sommer vorder nie.

Afrigter: Fabio Capello (Italië); sedert 2012
Kaptein: Igor Denisov
Sleutelspelers: Doelwagter Igor Akinfeev, doelskieter Aleksander Kerzhakov en Roman Shirokov in die middeveld.
FIFA wêreldranglys: 19
Deelnames aan eindtoernooie: 7 (as die Sowjet-Unie); 2 as Rusland; Beste vertoning (as die Sowjet-Unie): Halfeindstryd (1966)
Wenrekord in eindtoernooie: 48% (Sluit deelnames in onder die naam van die Sowjet-Unie)

Suid-Korea stuur ‘n jong en relatief onervare span Brasilië toe. In die kwalifiserende rondtes het hulle spel gewissel tussen briljant en uiters middelmatig. Wisselvalligheid is hulle grootste vyand, met die afrigter wat ook nie juis help nie deur deurgaans aan die span te torring. Hulle staan die realistiese kans om die eerste keer sedert 2006 na die groepfase, hulle tasse te pak. Hulle sal wel aanvallende en vlugvoetige sokker speel en behoort ‘n harde neut te wees om te kraak. Hulle wedstryd teen Rusland sal bepalend wees.

Afrigter: Hong Myung Bo; sedert 2013
Kaptein: Koo Ja Cheol
Sleutelspelers: Die jong aanvallende Son Heung Min in die middeveld en die lenige Kim Shin Wook op die aanval. Park Chu Young en Koo Ja Cheol behoort ook impak te maak.
FIFA wêreldranglys: 57
Deelnames aan eindtoernooie: 8; Beste vertoning: Halfeindrondte (2002)
Wenrekord in eindtoernooie: 18%

Algerië kon nog nooit verder as die eerste rondte in ‘n wêreldbeker eindtoernooi vorder nie en ek glo nie hierdie statistiek gaan in 2014 verander nie. Hulle het eenvoudig net nie die tipe spel om een van die ander spanne in hierdie groep te troef nie. ‘n Gelykop-uitslag teen Suid-Korea is ‘n moontlikheid, maar dit sal te veel gevra wees om België of Rusland in toom te hou. Indien Algerië nie ‘n doel aanteken in hulle openingswedstryd teen België nie, sal hulle die wêreldbeker rekordhouer word vir die meeste agtereenvolgende wedstryde (6) sonder om ‘n enkele doel aan te teken.

Afrigter: Vahid Halilhodzic (Bosnië-Herzogowinië); sedert 2011
Kaptein: Madjid Bougherra
Sleutelspelers: Doelskieter, Sofiane Feghouli.
Deelnames aan eindtoernooie: 3; Beste vertoning: Eerste Rondte
FIFA wêreldranglys: 22
Wenrekord in eindtoernooie: 22%

Vlugtige feit: België het nog nooit teen Algerië of Suid-Korea verloor nie.
Wedstryd om te kyk: Rusland teen Suid-Korea (17 Junie)

 

10409454 878908318791683 4558014293128887979 n

Wêreldbekerstatistiek en dies meer

  • Vyf van die deelnemende spanne kon nog nooit verder vorder as die eerste rondte nie, nl. Algerië, Ivoorkus, Hondoeras, Iran en Griekeland.
  • Die kontinente van Suid-Amerika en Europa is die enigste kontinente wat sedert die instelling van die Wêreldbeker, wenners kon lewer. Slegs 2 spanne van ander kontinente kon nog ooit daarin slaag om die laaste vier te haal, nl die VSA (1930) en Suid-Korea (2002).
  • ‘n Span van buite Suid-Amerika kon nog nooit in die Amerikas ‘n eindtoernooi wen nie. Vier spanne van buite Suid-Amerika kon voorheen daarin slaag om die eindstryd te haal, nl: Tsjeggo-Slowakye (1962), Italië (1970 en 1994), Nederland (1978) en Duitsland (1986).
  • Brasilië hou die rekord vir 1) die span wat al in meeste eindtoernooie verskyn het (19); 2) die span wat al meeste kere die trofee kon wen (5); 3) die span met die meeste doele in eindtoernooie (210) en 4) die span met die meeste agtereenvolgende oorwinnings in eindtoernooie (11).
  • Duitsland en Brasilië hou die gesamentlike rekord vir meeste verskynings in eindstryde (7).
  • Italië (1934, 1938) en Brasilië (1958, 1962) is die enigste spanne wat al ooit daarin kon slaag om die trofee suksesvol te verdedig.
  • Die beste vertoning ooit deur ‘n Afrika-span is die kwarteindrondte (Kameroen in 1990; Senegal in 2002 en Ghana in 2010).
  • Van al die spanne wat al 10 keer of meer aan die eindtoernooi deelgeneem het, het Meksiko die swakste rekord.
  • Van al die spanne wat al minder as 10 keer aan die eindtoernooi deelgeneem het, het Nederland die beste rekord. Nederland hou ook die rekord vir die span wat nog in meeste eindstryde gespeel het (3) sonder om daarin te slaag om te wen.
  • Die rekord vir die meeste doele in eindtoernooie (15) word gehou deur Ronaldo (Brasilië). Indien Miroslav Klose (Duitsland) in hierdie toernooi een doel aanteken, sal hy hierdie rekord ewenaar.
  • Die rekord vir die meeste doele deur ‘n individuele speler in ‘n enkele eindtoernooi is 13 en word gehou deur Just Fontaine (Frankryk).
  • Engeland kon nog nooit ‘n strafdoel uitskietstryd wen in ‘n eindtoernooi nie en Duitsland het nog nooit een verloor nie.
  • Hoewel Brasilië die rekord hou vir meeste rooi kaarte in eindtoernooie (10), verteenwoordig dit slegs 10% van al hulle wedstryde. Hierteenoor het Kameroen in meer as derde van al hulle wedstryde in eindtoernooie rooi kaarte ontvang. Hulle staan ook gemiddeld meer as twee geelkaarte per wedstryd af.
  • Van al die spanne wat al meer as 10 wedstryde in eindtoernooie gespeel het, het Kolombië die minste kaarte (geel en rooi) afgestaan (10).
  • Ghana hou die rekord vir die span wat gemiddeld die meeste kaarte (geel en rooi) in eindtoernooie afstaan. Hulle kry gewoonlik 3 of meer kaarte per wedstryd.
  • Die deelnemende spanne wat nog nooit ‘n rooikaart afgestaan het in eindtoernooie nie, is Griekeland, Iran, Algerië, die Ivoorkus, Ekuador, Kolombië, Kosta Rika en Japan.
  • Die vinnigste doel ooit is in 2002 aangeteken deur Turkye, na 11 sekondes teen Suid-Korea.
  • Die rekord vir die grootste oorwinning in ‘n eindtoernooi (9 doele), word gesamentlik gehou deur Hongarye (twee keer) en Joegoe-Slawië. Die spanne aan die ontvangkant was Suid-Korea, Zaïre (nou bekend as die DRK) en El Salvador.

1798633 878819165467265 6033255040303142822 n

Mens kan baie voorspellings waag, maar die eindtoernooi hou altyd ‘n paar onvoorsiene verrassings in. Miskien verras Algerië of Griekeland vriend, vyand en hulself en dring deur na die uitkloprondtes; miskien speel die Ivoorkus of Bosnië-Herzogowinië my voorspellings  aan flarde; of miskien duik Frankryk weer in die hek. En dis die lekker van hierdie toernooi – mens weet nooit regtig vooraf presies wat gaan gebeur nie. Die 12de Junie is om die draai en dit gaan ‘n fees wees!

Vir oulaas dus: Die pagodas van Gameunsa

Desember 12, 2012

Ek was bevoorreg om ‘n volle drie jare in Korea se mees historiese stad, Gyeongju, te woon. Gedurende hierdie tyd het ek ‘n punt daarvan gemaak meeste van die ou grafte en historiese plekke in Gyeongju en omtrekke te besoek. Dit het oa Koning Munmu van Silla se seegraf ingesluit, asook die graf van sy seun, Koning Shinmun. Ongelukkig het ek nooit daarby uitgekom om die Gameunsa pagodas naby Koning Munmu se watergraf te aanskou nie.

P9012952P9012954

P9012945

‘n Tydjie terug het ek egter die voorreg gehad om die imposante Gameunsa pagodas en die oorblyfsels van die tempel te besoek naby die klein kusdorpie van Gampo, net buite Gyeongju. Hier het Munmu begin om ‘n tempel te bou om Korea te beskerm teen moontlike aanvalle vanaf Japan vanuit die Oos-see. Na sy vader se sterwe en begrafnis in die Oos-See (die enigste Silla-koning wat nie in ‘n tradisionele grasgraf begrawe is nie) het Shinmun die taak om die tempel te bou voltooi.

P9012963

Ongelukkig is al wat vandag staande bly, die twee reuse pagodas en ‘n klompie fondamentstene. Hierdie pagodas is altwee redelik breër en stewiger as ander pagodas uit dieselfde era en miskien ‘n aanduiding van die krag van die tempel wat Korea moes beskerm teen aanvalle vanuit die Ooste…

Korea se eerste eerste vrouepresident?

Desember 10, 2012

Oor minder as twee weke besoek Koreane die stembus om ‘n keuse uit te oefen oor wie hulle volgende President sal wees. In Suid-Korea word die presidentskap beperk tot een, vyfjarige termyn. Hierdie tradisie spruit uit die feit dat die land tot en met 1987 ‘n diktatorskap was. Die demokratiese wysgere het besluit om in die toekoms al die gekose leiers se termyn te beperk om sodoende te verhoed dat hulle te geheg raak aan hulle magsposisie. Om elke vyf jaar ‘n nuwe president te kies, het beide sy voor-en nadele, maar daarop sal ek nie hier uitbrei nie.

180px-Democratic United Party logo

Hoe dit ook al sy, hierdie jaar is daar sewe kandidate wat meeding om die volgende President van Korea te word. Soos oa onlangs in die VSA die geval was, is daar egter net twee kandidate wat enigsins ‘n realistiese kans staan om die volgende President te word, nl Park Geun Hye (van die regerende Saneuri Party) en Moon Jae In (van die opposisieparty, die Democratic United Party). Tot onlangs toe was daar ‘n sterk derde mededinger in die wedloop wat as onafhanklike deelgeneem het, nl. Ahn Cheol Soo (‘n mediese doktor, akademikus en sagteware entrepreneur). Omdat Moon en Ahn hoofsaaklik kiesers uit dieselfde poel trek, het Ahn (wat veral gewild is onder jonger kiesers) besluit om terug te staan en Moon te ondersteun om sodoende nie die opposisiestem te verdeel nie.

200px-Saenuri Party logo

Anders as byvoorbeeld in ‘n land soos Suid-Afrika (en selfs die VSA) wil dit (vir my as buitestaander) nie voorkom of verkiesings werklik so ‘n saakmakende rol speel itv die koers wat die land vorentoe inslaan nie. Jy moet fyn kyk om werklik dramatiese verskille tussen Moon en Park se beleidsrigtings te bespeur. Selfs hulle voorgestelde beleid tov Noord-Korea is baie eenders. Moon wil die voormalige progressiewe President, Roh Moo Hyun, se toenaderingsbeleid teenoor Noord-Korea hervat en glo dat die nuwe Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Eun, gehelp kan word om die Noorde te hervorm dmv dialoog en ekonomiese samewerking. Hoewel Park haarself distansieer van die huidige president, Lee Myung Bak, se sterk beleid teen Noord-Korea, glo sy dat toenadering tot Noord-Korea deels voorwaardelik moet geskiet. Beide sy en Moon het egter aangedui dat hulle bereid is om ‘n spitsberaad met Kim Jung Eun te belê. Die Korea Herald sit die verskille tussen Park en Moon soos volg uiteen:

20121128001254 0

Ironies genoeg gaan hierdie verkiesing egter meer oor wat in die verlede gebeur het as die twee kandidate se toekomsplanne. Park is die dogter van Park Chung Hee – die outokraat wat in 1961 mag deur ‘n staatsgreep oorgeneem het en tot en met die sluipmoord op hom in 1979, die land regeer het. Mens sou dadelik dink dat hierdie stuk bagasie Park sal laat struikel. Maar dan verloor mens uit die oog dat Korea ‘n geweldige liefde-haat verhouding het met Park Chung Hee en sy nalatenskap. Want, hoewel hy ‘n outokraat was wat politieke afvalligheid swaar gestraf het, erken historici dat Park Chung Hee se beleidsrigtings sentraal gestaan tot die fenomenale ekonomiese groei wat Korea gedurende Park se bewind beleef het. Daarom bly Park steeds die vader van die “Koreaanse wonderwerk”, soos dit bekend staan, ondanks sy swak menseregte-rekord.

Park-Geun-Hye

Aan die eenkant vra Park Geun Hye dus om verskoning vir haar vader se magvergrepe, maar aan die anderkant neem sy ook krediet vir sy ekonomiese beleidsrigtings. Park is 60 jaar oud en ‘n oujongnooi – iets wat baie vreemd is vir ‘n Koreaanse vrou. Sy het egter al by meer as een geleentheid op navraag gesê dat sy “met haar land getroud is”. Park is ‘n ateïs, maar het ‘n positiewe houding vis-à-vis beide Boeddhiste en Christene (die twee grootste godsdiensgroepe in die land).

Moon Jae In was ‘n politieke aktivis tydens die bewind van Park Chung Hee en het oa ‘n paar keer in die tronk beland. Hy het dus die spreekwoordelike skerppunt van Park se outokrasie ervaar en is daarom soveel meer gedetermineerd om sy mededinger in die verkiesing te klop. Moon was die stafhoof, vriend en vertroueling van voormalige President, Roh Moo Hyun. Roh is na sy uittrede van korrupsie aangekla en het in 2008 selfmoord gepleeg. Hoewel Roh se ekonomiese beleid geprys is en hy verantwoordelik was vir beter betrekkinge tov Noord-Korea, is sy nalatenskap besoedel deur aanklagte van korrupsie wat oor hom, sy familie en vertrouelinge bly hang. Dus moet Moon, nes sy teenstander, krediet neem vir positiewe aspekte tydens sy tyd aan Roh se sy, wyl terselfdertyd hom distansieer van Roh se korrupsie. Moon is 59 jaar oud en getroud, met twee kinders. Hy is ‘n Katolieke Christen.

Moon+Jae+Opposition+Party+Presidential+Candidates+qYZlYkH bD0l

Demografiese veranderlikes wat die grootste invloed uitoefen in Koreaanse verkiesings, is provinsionalisme en ouderdom. Die regerende party (en sy voorlopers) se steunbasis is tradisioneel in die suidoostelike provinsies van Korea, wyl opposisiepartye se steun afkomstig is van die suidwestelike provinsies (‘n area in Korea wat al eeue lank bekend is vir politieke aktivisme en verset). Mbt ouderdom, is ouer kiesers geneig om die Saneuri Party en kandidate te steun, wyl jonger kiesers neig na die Democratic United Party en ander opposisiepartye.

Mees onlangse meningspeilings plaas Park Geun Hye ‘n kortkop voor Moon Jae In. Park kan dus Suid-Korea se eerste vrouepresident word. Dit sal opsigself ‘n prestasie wees vir ‘n Confuciaanse samelewing waarbinne vroue selde in leierskapposisies geplaas is. In Korea se geskiedenis was daar nog slegs twee vroueleiers, albei koninginne tydens die Silla-dinastie (57vC-935), nl. Koningin Seondeok (632-647) en Koningin Jindeok (647-654). Ironies genoeg word Seondeok tot vandag toe gedenk as een van die beste leiers wat Korea nog opgelewer het.

Vrydagaand-song XXXIV

Desember 7, 2012

Into the Fire deur die groep Thirteen Senses vorm deel van die klankbaan van die Franse fliek, Les Chevaliers du ciel (Kavaliers van die lug) wat in 2005 verskyn het. Die fliek is gebaseer op die Frans-Belgiese strokiesprent Les Aventures de Tanguy et Laverdure wat vir die eerste keer in 1959 verskyn het. Die skrywer van die strokiesprent was Jean-Michel Charlier en die kunstenaar was Albert Uderzo (van Asterix-faam). Die strokiesprent wentel rondom die avonture van twee vlieëniers in die Franse lugmag.

220px-Les_Chevaliers_du_ciel_poster

Wat vir my baie interessant was, is die feit dat daar – voor hierdie rolprent – ‘n gelyknamige Franse TV-reeks was wat in die beginjare van televisie in Suid-Afrika oorgeklank is in Afrikaans en onder die titel, Mirage, vertoon is. Die twee Afrikaanssprekende Franse vlieëniers is een van my eerste herinneringe aan televisie (tog jammer dat Europese televisiemateriaal saam met apartheid in die slag gebly het in Suid-Afrika).

Into the Fire – inderdaad ‘n lekker warm song vir ‘n sneeukoue Vrydagaand hier in die vreemde!

Desember 4, 2012

Ek ploeg nie sommer met annerman se kallers nie, maar vir die wat nog nie gelees het nie – hierdie is regtig die moeite werd…

Faf du Plessis: ‘n Legende word gebore

November 30, 2012

Ek is drieledig geïnspireer tot hierdie inskrywing. In die eerste plek lees ek die uitstekende artikel van krieketkommentator, Mark Nicholas op espncricinfo; daarna vra Skryfblok vir my nav my vorige inskrywing: Wie is Faf du Plessis? Ten laaste lees ek toe hierdie treffende inskrywing van brieweindievreemde.

916535-15234321-640-360

Foto: Yahoo

Voor 26 November het relatief min mense (en selfs mense wat krieket volg) regtig geweet van Faf du Plessis (As ek ‘n veertjie in my eie hoed mag druk: Ek het reeds byna twee jaar gelede Du Plessis se talent as onbesproke beskryf). Nou weet almal in die krieketwêreld met eens wie die man is. Sy briljante kolfbeurt van 110 (nun) het bykans eiehandig daarvoor gesorg dat Suid-Afrika nie die tweede kriekettoets teen Australië verloor nie – ideaal wat aan blote wensdenkery gegrens het aan die begin van spel op die laaste dag van die toets. Op die koop toe het hy geskiedenis gemaak deur bloot die vierde kolwer in Suid-Afrika se toetsgeskiedenis te word om ‘n honderdtal te slaan op debuut. Maar dis nie al nie. Hy het die eerste toetsdebutant ooit geword om beide ‘n 50-tal en 100-tal aan te teken. Dws die eerste speler om in meer as ‘n 100 jaar dit te vermag!

Ek weet dat daar mense is wat nie krieket volg nie en ook nooit self gespeel het nie. Vir diesulkes is dit belaglik dat twee spanne 5 dae lank speel en dan opgewonde raak oor ‘n gelykopuitslag. Dus stel ek Mark Nicholas aan die woord, want beter kan ek dit eenvoudig nie stel nie:

The Faf facts are, he batted for seven hours and 46 minutes, in mainly 34 degrees of heat and high humidity, with five different partners, one of whom could barely run, to defy a voracious Australian attack and save a crucial match for his beloved country. This was a monumental effort, performed on debut and already written into the folklore of South African cricket.

By Monday – five days after the 482 festival on Thursday of the previous week, but in the same match – a mere 169 runs were scored in six hours play. Work that out and explain it to a Spaniard. Yet every ball had meaning and drama. Australia needed just six balls to go right but only four finished in their favour. Think of it: more than 540 deliveries by six different protagonists and only six had to work out as Clarke and Co wished. (Terloops, dis die vierde meeste aflewerings wat ‘n span al ooit in toetskrieket moes trotseer om ‘n toets te red.)

These matches are proof of the sport, they are the reason we live it and love it and must continue to campaign for its pre-eminence. If Test cricket goes, a piece of us goes with it. The piece that is patience, manners and respect; the piece that is without commerce at its core.

Nicholas besing Du Plessis se lof met reg. Die lof wat hom toegeswaai word is nie beperk tot Nicholas nie, maar kan in talle publikasies gelees word. Onder andere The Australian:

One of the joys of Test cricket is when a player explores the limits of their capabilities, proves something they always wondered if they could do, finds a reserve hidden even from themselves. Faf du Plessis discovered some things about himself in this marathon Test match in Adelaide — as have his opponents.

en Sydney Morning Herald:

He went on to face 376 balls, defy DRS reviews and watch his more high-profile teammates fall around him to carry his bat in an extraordinary display of concentration, technique and nerve.

Want almal is dit eens. Wat hulle Maandag aanskou het, was een van die beste honderdtalle wat al ooit in toetskrieket aangeteken is. Maar wat werklik opval van Nicholas se artikel is die volgende woorde:

By playing forward and back, not from the crease, and by showing the maker’s name to bowlers who threw their Australian souls at him, a proud Afrikaner allowed South Africa the luxury of arriving in Perth without a deficit…

…du Plessis and Morkel – the two Afrikaners who join the list of cricket’s most brilliant escapologists.

Afrikaners dra so geweldig swaar aan hulle bagasie, dat baie van hulle deesdae selfs skaam is om hulself as Afrikaner te klassifiseer. Geen beter voorbeeld hiervan nie, is die gebruik van die Naspers-drogwoord “Afrikaanses”. Dis daarom verfrissend dat daar nog in die wêreld daarbuite mense is wat presies weet wie en wat die Afrikaner is, al weet baie Afrikaners self nie meer wat hulle identiteit is nie.

NS: Asof Du Plessis se briljante vertoning in die tweede toets nie goed genoeg is nie, het hy vandag weer 78 (nun) aangeteken op die eerste dag van die derde toets. Hy was die enigste kolwer van Suid-Afrika wat weerstand gebied het in ‘n vergeetlike kolfpoging deur Suid-Afrika. In slegs een en ‘n halwe toets is ‘n legende gebore!

Riaan Cruywagen: Die gedienstige handpop

November 27, 2012

As ek so na die sosiale netwerke kyk en die Suid-Afrikaanse media dophou, wil dit my voorkom asof ek die enigste Afrikaanssprekende (of in Naspers-terminologie:”Afrikaanse”) is wat nie vreeslik gesteur is deur die (uiteindelike) aftrede van ene Riaan Cruywagen nie. Nou weet ek hoe ‘n persoon wat glad nie in krieket belangstel nie, moet voel oor Faf du Plessis se fenomenale kolfbeurt wat gister die tweede kriekettoets teen Australië gered het. Omdat hulle nie in krieket belangstel nie, verstaan hulle eenvoudig nie die ophef nie.

Is dit dalk omdat ek in die buiteland sit of is dit omdat ek nie belangstel in Afrikaanse nuus nie, of is ek dalk bloot ‘n pretbederwer? Tog nie. Om nou self ‘n vieslike Anglisisme te gebruik: in my lewe was ek al so ‘n paar keer om die blok en ek het al baie soorte mense leer ken en saam met hulle gewerk. Ek vermoed as ek saam met Cruywagen sou werk, sou ons moontlik van dag een af koppe gestamp het. Maar hoekom?

Veel gewag word gemaak van Cruywagen se 37 jaar op televisie, maar min mense dink ‘n bietjie verder en besef wat dit in werklikheid beteken. Dit beteken dat Cruywagen eers vir baie jare die apartheidsregerings se propaganda met ‘n reguit gesig en ‘n glimlaggie gelees het en daarna robotagtig voortgegaan het om die ANC-propaganda te verkondig, asof niks ooit gebeur het nie. Cruywagen het duidelik van die begin van sy loopbaan by die SAUK sy seile na die wind geswaai en besluit dat sy salaris en uiteindelike pensioen veel meer werd is as sy eie onafhanklike opinie.

Kyk, duidelik het die man die essensie van sy taak ernstig opgeneem en ek erken ruiterlik dat hy ‘n goeie nuusleser was. Hy is klaarblyklik ook ‘n baie geliefde eggenoot, pa en oupa. Feit van die saak is net dat dit ‘n baie spesiale tipe mens neem om moeiteloos die oorgang te maak tussen apartheidspropaganda en ANC-propaganda. Die tipe mens wat nooit bevraagteken nie, altyd ja-en-amen vir sy politieke base by die uitsaaikorporasie en wat tot die uiterste sal gaan om die weg van minste weerstand te kies, al sou dit nou ook teen sy gewete indruis. Die soetseuntjie, die klaskaptein, die hoofprefek wat agteroor sal buig om sy base gelukkig te maak. Of om dan nou die gebrek op die naam te noem: ruggraatloosheid. Daar is bloot geen ander verklaring vir die feit nie dat Cruywagen as Afrikaanssprekende blanke man wat die apartheidsregime gedien het, tot nou toe ook die ANC kon dien.

Maar ondanks Cruywagen se duidelike selfdienende loopbaantaktiek, het hy nogtans daarin geslaag om ‘n tipe Afrikaner-ikoon (let wel nie “Afrikaanses”-ikoon nie) te word. Hoe het dit gebeur? Ek glo dis omdat Cruywagen as’t ware die laaste openbare naelstring was wat Afrikaners aan kon vasklou sedert 1994. Alles het verander en ‘n hele nuwe realiteit het om die Afrikaner ontvou, maar Cruywagen het soos ‘n rots bly staan. Die een enkele ding wat Afrikaners kon herinner aan die tyd toe hulle die mag gehad het; toe hulle propaganda geseëvier het en toe die SAUK ‘n instrument in die Nasionale Party se hand was. Dit is ‘n bekende feit dat mense wat aan geweldige sosio-politieke veranderinge blootgestel word, naarstiglik soek na iets bekend – ‘n simbool of ikoon wat onveranderd bly te midde van die storm. Cruywagen op SABC was so ‘n persoon.

En as Afrikaners en Afrikaanssprekendes nou regtig eerlik met hulself wil wees, wie het nog werklik op SABC nuus gekyk? Cruywagen was nog ‘n bekende gesig maar die standaard van die SABC se nuus het al lankal gedaal na die vlak van onbeskaamde propaganda. Meeste denkende mense wat ek ken, kyk al lankal nie meer SABC-nuus nie, want hulle besef van watter swak gehalte dit is. (Hier is sommer ‘n baie resente voorbeeld hoe die SABC vryheid van spraak muilband.)

Maar om af te sluit. Dit is dikwels hardwerkende, eerlike, doodgoeie mense soos Cruywagen wat dit moontlik maak vir outokratiese regimes om die bevolking met propaganda te bedwelm (dis oa die antwoord op die vraag hoe dit moontlik was dat die Duitse volk so deur Nazisme meegesleur is). Goeie mense wat hulle werk goed doen, maar nooit vrae vra nie en hulle oë styf toeknyp teen dit wat hulle dwars in die krop steek. Die gedienstige handpop wat nie omgee om vir die regime se buikspraak aangewend te word nie. Jy sal ver soek om ‘n beter voorbeeld te kry van so ‘n persoon as wat Riaan Cruywagen was.

NS: Voordat julle my dalk in julle kommentaar kruisig ter verdediging van Cruywagen, lees net weer wat ek geskryf het en dink bietjie daaroor.

Vrydagaand-song XXXIII: Benedikt Sebastian en supermarionasie

November 23, 2012

Ek bedank Skryfblok wat ‘n tydjie terug die erg luisterbare musiek van Benedikt Sebastian onder my aandag gebring het. Ek het voor die tyd glad nie van die sanger geweet nie. Ek het sy video’s op YouTube gaan deurluister en was aangenaam verras deur die vars bydrae wat hy maak tot die eentonige doef-doef, poef-poef wat binne die Afrikaanse tegno genre opgedis word. My gunsteling video was Reisiger van Tyd. Eietyds, maar met ‘n nostalgiese terugblik na dit wat was. Die gebruik van ou Interster beeldmateriaal pas baie goed by die musiek en is baie treffend.

Interster was in die vroeë tagtigs ‘n Afrikaanse supermarionasiereeks op SAUK-televisie (supermarionasie is die gesofistikeerde gebruik van marionette, wat deels rus op die gebruik van elektronika om die marionette te beweeg). Die Britse vervaardiger, Gerry Anderson was in die sestigerjare ‘n pionier van hierdie genre. Twee van sy reekse is in die sewentigerjare in Suid-Afrika vertoon, naamlik Thunderbirds (in Afrikaans oorgeklank as Redding Internasionaal) en Stingray. Ek het so te sê met Redding Internasionaal groot geword en as seuntjie was dit van my gunsteling kykstof op televisie. Lady Penelope in haar uitspattige uitrustings en pienk Rolls Royce het ‘n blywende indruk op my gemaak. Teen die tagtigerjare was die Britse kulturele verbod teen Suid-Afrika in volle swang en kon Anderson se produksies nie meer bekom word nie.

Interster is vervaardig deur min-of-meer dieselfde tegniese span wat vir die gewildeLiewe Heksie gesorg het. Op die ou-end was Interster meer gesofistikeerd as die vroeëre Anderson produksies en word tot vandag toe erken as een van die beste supermarionasie reekse wat ooit vervaardig is. Die model van ‘n futuristiese Kaapstad was indrukwekkend en so ook die poppe self, lugskepe, die dekor en tegnieke wat gebruik is. Natuurlik was die reeks deurspek van Afrikaner-simboliek, verstaanbaar binne die tydswrig waarbinne dit vervaardig is (oa was die hoofkarakter genaamd De la Rey en die gevegstuie het die naam Impala gedra – dieselfde naam as die van die Italiaanse Aermacchi-vegvliegtuie, wat op daardie stadium deur die Suid-Afrikaanse Lugmag aangewend is).

Maar die tydswrig tersyde, Interster was vir sy tyd ‘n produksie van wêreldgehalte waarop die vervaardigers met reg trots was. Dit het ook ‘n belangrike bydrae gelewer tot die redelike arm genre van Afrikaanse wetenskapfiksie. Karakters soos die robot, Pikkie, Prins Karnati en Gorman het huishoudelike name geword en op skool was een van ons onderwysers (met ‘n prominente dubbelken) se bynaam Gorman. Hy kon nooit weer van die bynaam ontslae raak nie. Nou nog kan ek ‘n redelike goeie Gorman-impersonasie doen. Die interplanetêre booswig se mees bekende woorde was:

“Dis alweer daardie vervlakste De la Rey!”

Bekostigbare rooi genot

November 14, 2012

Ek het al talle kere vantevore genoem dat, agv belastings en aksyns, wyn ‘n baie duur kommoditeit hier in Korea is. Elke keer as ek Suid-Afrika besoek dat verwonder ek my aan hoe goedkoop wyn in Suid-Afrika is, hoewel Suid-Afrikaners self nie aldag dit besef nie. Kaapse wyn in Suid-Afrika bied ongelooflike waarde vir geld.

PA274278

Hier in Korea moet mens egter baie uitgeslape en opportunisties te werk gaan om waarde vir geld in die hande te kry. Oor die algemeen is gehalte wyn van Suid-Afrika (wanneer jy dit kry), die VSA en die Europese lande baie duur (ons praat hier van niks onder die ekwivalent van R200 ‘n bottel nie). Gehalte Australiese wyn se pryse is effe meer billik, maar die beste waarde vir geld hier plaaslik te koop, is by verre Suid-Amerikaanse wyn. En tussen Argentinië en Chili, vind ek dat laasgenoemde land bo uitkom. Die waarde vir geld van gehalte Chileense wyn is soms so goed, dat mens amper soos ‘n dief voel. Oorspronklik het ek gedink die pryse is so billik agv die vryhandelsooreenkoms tussen Korea en Chili, maar toe besef dat Korea ook so ‘n ooreenkoms het met die VSA en die EU. Hoe die Chilene dit dus regkry, gaan my verstand te bowe, maar hulle doen dit.

Geen pryse dus vir diegene wat raai dat die meeste wyn wat ek hier drink uit Chili afkomstig is. En van al hierdie Chileense wyn, is daar een naam wat oor die afgelope paar jaar uitstaan vir die ongelooflike kwaliteit wat dit teen die prys bied. Hierdie wyn se naam is Palo Alto.

PA274286

Die naam van die kelder is afkomstig van die populêre benaming vir ‘n doringboom inheems tot Chili en die silhoeët van hierdie boom, domineer ook die etiket op Palo Alto se bottels. Die kelder is geleë in die Maule Vallei, ‘n substreek van die Sentrale Vallei – die wynstreek in Chili wat verantwoordelik is vir die meeste wynproduksie in die land (Chili is die negende grootste wynproduserende land, net agter Suid-Afrika).
Ek het die afgelope paar jaar al my kwota van Palo Alto Reserva deurgewerk. Die wyn is ‘n rooi versnit van Cabernet Sauvignon (50%), Carmenere (30%) en Shiraz (20%). Die gewone kleinhandelsprys ter plaatse is ongeveer die ekwivalent van R100, maar heel dikwels kry mens die wyn teen afslag vir omtrent sowat R70 (gewoonlik wanneer ek toeslaan!). Die houtverhouderde versnit is sommer veel meer as ‘n braaivleis wyn en bied ongelooflike waarde vir geld.

Heel onlangs raak loop ek toe weer die Palo Alto op afslag raak. Maar dit is nie al nie. Palo Alto se nuwe versnit, genaamd Reserva II, pryk toe ook op die rak teen dieselfde prys. Ek dog toe nou eers dit is slegs ‘n nuwe etiket en naam vir die nuwe oesjaar van die Reserva, maar nee! Dit is ‘n splinternuwe versnit, aanvullend tot die Reserva. Die Reserva II is ‘n baie interessante versnit van Merlot (70%), Shiraz (23%), Tempranillo (5%) en Viognier (2%). Bloot uit die verskil in kultivars tussen die twee versnitte, reken ek moes toe dat ‘n vergelyking tussen die twee versnitte, interessante leesstof sal maak.

Eerste aan die beurt is die Palo Alto Reserva 2010. Die kleur van die wyn is intens dieprooi, met rante wat nog ondertone van pers vertoon. Soos te wagte, domineer die Cabernet Sauvignon op die neus, met geure van bloekom en swartbessies. Mens tel ook die geure van gerookte salami en ‘n peperagtigheid op (afkomstig van die Shiraz). In geheel, ‘n uitlokkende, vleserige neus. Hierdie geurprofiel vertoon ook op die tong, met pragtige skoon, donker bessiesmaak op die middelpalaat en ‘n goeie nasmaak, met ‘n effense speseryagtige nuanse. Die tanniene is aanwesig, maar lieflik onderbeklemtoon. Die kultivars en komponente van die wyn is soomloos geïntegreerd en getuig van goeie gehalte vrug en die pragtige hantering van hierdie vrug deur die wynmaker. ‘n Wonderlike mondvol.

PA274280PA274283

Nou vir die Palo Alto Reserva II 2011. Die wyn is effe ligter van kleur as die Reserva, met ‘n pers skynsel, wat op die jeugdigheid van die wyn dui. Soos te wagte, is die wyn op die neus ‘n heel ander proposisie as die Reserva. Omdat Viognier so erg aromaties is, het selfs ‘n klein toevoeging van die kultivar ‘n impak op ‘n wyn se geurprofiel. In hierdie geval is die sweempie van gemmer en gedroogde appelkoos te bespeur op die neus, onderliggend aan die meer prominente geure van framboos, donker sjokolade en vanielje. Die mondgevoel van die wyn is minder kompleks as die van die voorafgaande wyn. Daar is ‘n aangename smaak van sappige, amper soet, kersies op die tong, maar ongelukkig is die nasmaak nie talmend nie. Die tanniene is te verstane ook nie so sag soos die in die Reserva nie. Die smaakprofiel is effe onafgerond, met die suur, tanniene en alkohol wat (nog) nie goed geïntegreerd is nie. Miskien sal die wyn na nog ‘n jaar in die bottel beter vertoon, maar op hierdie stadium is die Reserva definitief die smaakliker en beter wyn.

Nog ‘n najaar in die vreemde…

November 9, 2012

Ek het die afgelope paar jaar met ritualistiese reëlmaat oor herfs geskryf – oa hier, hier en hier. Omdat hierdie my gunsteling seisoen is en so treffend gedefinieerd manifesteer in die Noordelike Halfrond, word ek jaarliks daartoe gedring om iets van die ervaring te deel.

framef8bbedc635a8f053c11e631340888ad6a6e292b7

Hierdie jaar – so het ek gedink – sal ek nie iets skryf nie, want my beskrywende woordeskat tov herfs is so te sê uitgeput. Ek was besig met ander dinge en hierdie herfs het my meestal verbygegaan. Ek het nie eens die moeite gedoen om my lens in te span nie…wel, tot gister.

frameb7d8184f7dbfc0bb8ce588d94b69191f3b551f9a

Elke dag stap ek langs die rivier en vang die kwynende kleurespel en kalerwordende takke my oog. Gistermiddag kon ek nie verder die versoeking weerstaan nie en het ek kamera gaan gryp, so terwyl die namiddag se laaste bietjie flou hitte in die lug bly hang.

frame719d19f28c4ca112ad04d4e5b50fc4869f978c85

Dit is hoofsaaklik die pragtige goudgeel van die ginkgo-bome wat my aandag getrek het. Dit is eenvoudig so ‘n ryk en diep geel, dat ek net nie kan weerstaan om dit onder lens te neem nie. Baie van die herfs se kleuredos is reeds afgeskud, maar tussen die kaal bome, is daar vele bome wat steeds krampagtig vasklou aan hulle herfsgewaad.

framefb20c5e6e34dfb2add182273f61f860e9e599a92

Benewens die bome, is die paadjies en grond bedek in ‘n veelkleurige gewaad van droë blare en tussen die kleure, staan ‘n naakte tamatiepruimboom, met ryp oranje vrugte geëts teen die lug. Dit is so dat dit nou elke dag ongemaklik kouer word en daar is ‘n bepaalde hartseer in die lug as die bome hul kaal takke begin wys en die wêreld om jou begin vervaal. Onwillekeurig draai Koos Doep se woorde in my kop:

Nog ‘n najaar in die vreemde, met my drome sonder tal.
En ek weet die winter kom weer, met sy sneeu wat ewig val.

Dis die seisoen van heimwee, nostalgie en verlange. Dis die seisoen van verlore geliefdes en glimlagte wat was; van herinneringe aan die vreugde van lente en die somerhitte. Maar dis ook die seisoen van refleksie, van asemhaal en van vrede.

frame50fff2f144bd5b82cacafcc47f76f4e9ec21b604

Want ondanks die verlies en verlange, bring die seisoen ‘n onbeskryflike gevoel van berusting, wat ek afwesig vind in die ander seisoene. Binnekort sal die koue my omsingel en die wêreld kaal, kleurloos en lelik laat. Nou is daar egter nog kleur en ek geniet die laaste paar dae van die statige seisoen…

Maar hier buite sterf die somer, en ek sien die blare val.
En iewers skyn die somerson, op die velde van Transvaal.
En êrens dreun die branders, aan die strande van Natal.
Ek sit soms en ek luister, of ek dalk in die wind.
Die Vrystaat en die Boland, se stemme terug kan vind.