Slaan oor na inhoud

‘n Vinnige vierwyn reis om die wêreld

Februarie 8, 2012

PC107932

Ek mis Suid-Afrikaanse wyne se uitstekende waarde vir geld geweldig baie hier in die vreemde, waar wynpryse onrealisties is en Suid-Afrikaanse wyne slegs sporadies op die rakke verskyn en verdwyn. Ek kry egter ruim geleentheid om wyne van die res van die wêreld te probeer. En so af en toe, as die luiheid my nie beet het nie, maak ek ‘n paar aantekeninge. Hierdie is sommer ‘n lukrake seleksie van wyne wat ek die afgelope tyd probeer het.

PC107944Ray Station Merlot 2009 (WO Kalifornië, VSA)

Die wyn se kleur is briljant rooi met bietjie robynkleur om die rante. Die neus is uitgesproke en redelik kompleks. Mens tel dadelik die geur van viooltjies op, terwyl daar ook nuanses van malvalekkers en spookasem te bespeur is. Mens word as’t ware uitgelok om verder te ontdek en die wyn stel nie teleur nie. Die tanniene is sag, maar verleen steeds struktuur en balans aan die wyn. Anders as wat mens van ‘n Merlot te wagte is, is daar geen geur van sjokolade of mokka te speur nie. Die wyn is lekker op die tong en los jou met ‘n nasmaak van malva en vars kersies. Die wyn was lekker om te drink en ‘n goeie voorbeeld van ‘n vrugtige Merlot wat nie die binnekant van ‘n vat gesien het nie. My enigste kritiek teen die wyn is die suur wat so effe aan die skerp kant was en die vrugtegeure wou-wou oordonder. Ek sou graag die wyntjie wou paar saam met ‘n lekker eend-of kalkoengereg.

Santa Rita 120 Reserva Especial Shiraz 2010                 PC107909 (WO Maipo Vallei, Chili)

Die wyn se kleur is ‘n pragtig diep, onpeilbare donkerrooi. Die neus is speseryagtig, wat tipies is van die kultivar. Die geur van swartbessies is ook redelik prominent. Soos die wyn in die glas so bietjie warmer word (dis mos nou winter hier) kom ook ander, sekondêre geure na vore, soos leer en kaneel.

Op die tong, is die vrugtegeure baie intens, met swartbessiegeure wat oorheers. Op die nasmaak proe mens weer die speseryagtigheid wat mens op die neus opgetel het. Die indruk van witpeper, word gelaat, wat eg is aan die kultivar van Shiraz. Die tanniene is baie sag. In meeste gevalle is sagte tanniene nie ‘n punt van kritiek teen ‘n wyn nie, maar eerder ‘n punt van lofprysing. Ek voel egter die tanniene net te afwesig is vir ‘n 2010 oesjaar en dit doen afbreuk aan die wyn se struktuur. Dis asof die wyn gou verdwyn in die mond en die nasmaak is nie so talmend soos ek sou hoop nie. As die hierdie wyn maar net so kompleks en eksoties was soos sy benaming. Daar is ander wyne wat beter waarde vir geld bied, soos bv. die  Santa Rita 120 Cabernet Sauvignon .

PC107920Trapiche Oak Cask Cabernet Sauvignon 2009 (WO Mendoza, Argentinië)

Voorheen het die Trapiche Oak Cask Malbec nogal indruk gemaak en ek het uitgesien na sy Cabernet naamgenoot. Op die oog en neus was daar min fout te vind met die wyn. Die wyn, so tipies van die rooies van Mendoza, is diep, donker en inkerig. Op die neus is die geure van swartbessie en bosbessie duidelik waarneembaar, asook die nuanse van tabak. Mens tel ook bietjie vanielje op, wat op die houtregime dui. Op die tong is die wyn vol en sappig, en die bessiegeure is prominent. Tog is die wyn effens eendimensioneel, met die alkohol wat ook pla. Die nasmaak is talmend, maar nie iets om regtig oor te blog nie. Om eerlik te wees, het ek so bietjie meer van die wyn verwag. Maar steeds ‘n lekker wyn om te drink saam met jou gunsteling biefstuk of dalk ‘n lekker beespotjie.

Lawson’s Dry Hills Sauvignon Blanc 2010 PC107923                    (WO Marlborough, Nieu-Seeland)

Ek het nou nog nie soveel van hulle gedrink nie, maar ek moet nog ‘n Sauvignon Blanc van Marlborough proe wat my teleurstel. Die Lawson’s Dry Hills is geen uitsondering nie. Met die kleur is daar geen fout te vind nie. Die wyn is liggoud en helder. Die neus is ekshibisionisties intens en vertoon ‘n kompleksiteit van geure, waaronder papaja, appelliefie, grenadella, sitrus en selfs ‘n bietjie paprika. Die wonderlike neus van die wyn spel reeds kwaliteit en klas vir mens uit. En op die palaat is daar nie keer nie. Die wyn is wonderlik gebalanseerd en geïntegreerd met die verskeidenheid tropiese geure wat toustaan om herken te word. En – baie belangrik – die wyn het daardie nodige koue klimaat suur wat so verfrissend is van ‘n goeie Sauvignon Blanc. Op die nasmaak word jy steeds herinner aan die kompleksiteit van geure lank nadat jy dit gesluk het. Die sitrusgeur van pomelo kom veral pragtig deur. ‘n Bedwelmende wyn wat met groot beloning geniet sal kan word saam met vars sasjimi, steurgarnale of gebraaide calamari.

NS: As daar nou een terrein is waarop Suid-Afrika nog op gelyke voet kan meeding met die res van die wêreld, is dit wyn. Hopelik skryf en binnekort van ‘n paar kwaliteit wyne wat ek op my onlangse besoek aan die Kaap raakgedrink het.

9 Kommentaar leave one →
  1. Februarie 8, 2012 10:54 nm

    Ek stem saam oor die Trapiche wyne. Ek het al albei geprobeer en die Malbec is excellent maar die Cabsav is plat.

  2. Februarie 8, 2012 10:56 nm

    Naskrif, wag in spanning vir daardie Kaapse wyn inskrywing.

  3. Februarie 9, 2012 2:14 vm

    Sus Cobie in Shina vertel ook dat die wyn ongelooflik duur is daar. Sy het nou self begin wyn verkoop teen soveel as R400 per bottel. Iemand het haar genader om Mandela wyne ook te verkoop, maar teen R700 per bottel het sy daarteen besluit. Duitsers by die BMW aanleg koop meeste van die wyn, maar Chinese het nou ook begin groot koop. Hulle vat maklik R7000 tot R8000 se wyn op een slag.
    Miskien moet jy ook met die goed begin smous?

    • Februarie 9, 2012 8:44 nm

      Ja, ek dink wyn in Sjina, nes tot ‘n mate hier, is ‘n status-ding. Die wynkultuur hier is egter reeds beter gevestig as in Sjina en mens kan enige van die beste wyne in die wereld hier in supermarkte koop (teen ‘n prys). Ek dink ook nie ek sal goed smous nie, want ek sal dit drink, eerder as wat ek dit verkoop! 🙂

  4. Februarie 14, 2012 9:13 nm

    Ek sal ‘n goeie drink-maat in jou hê, maar my kennis van wyne is 0 – my wyn moet net LEKKER en soet wees en my nie kopseer gee – soos sjampanje nie. Ek dink darem ek sal so effe ‘n goeie wyn kan uitken na die smaak, maar behalwe dit…is ek ‘n leek! Dus, dankie vir jou wyninskrywings, dit help die leke soos ekke! 🙂

  5. Februarie 16, 2012 5:50 vm

    Nogal heel interessant dat jy Santa Rita noem. Toe ek in Ierland gewerk het as wyn aankoper vir hotel was Santa Rita wyn die grootse verkoper as dit by “billike prys” wyn gekom het. Nou is ek in Frankryk waar wyn goedkoop is en ook maar lekker goor kan wees.

Lewer kommentaar