Slaan oor na inhoud

Bekostigbare rooi genot

November 14, 2012

Ek het al talle kere vantevore genoem dat, agv belastings en aksyns, wyn ‘n baie duur kommoditeit hier in Korea is. Elke keer as ek Suid-Afrika besoek dat verwonder ek my aan hoe goedkoop wyn in Suid-Afrika is, hoewel Suid-Afrikaners self nie aldag dit besef nie. Kaapse wyn in Suid-Afrika bied ongelooflike waarde vir geld.

PA274278

Hier in Korea moet mens egter baie uitgeslape en opportunisties te werk gaan om waarde vir geld in die hande te kry. Oor die algemeen is gehalte wyn van Suid-Afrika (wanneer jy dit kry), die VSA en die Europese lande baie duur (ons praat hier van niks onder die ekwivalent van R200 ‘n bottel nie). Gehalte Australiese wyn se pryse is effe meer billik, maar die beste waarde vir geld hier plaaslik te koop, is by verre Suid-Amerikaanse wyn. En tussen Argentinië en Chili, vind ek dat laasgenoemde land bo uitkom. Die waarde vir geld van gehalte Chileense wyn is soms so goed, dat mens amper soos ‘n dief voel. Oorspronklik het ek gedink die pryse is so billik agv die vryhandelsooreenkoms tussen Korea en Chili, maar toe besef dat Korea ook so ‘n ooreenkoms het met die VSA en die EU. Hoe die Chilene dit dus regkry, gaan my verstand te bowe, maar hulle doen dit.

Geen pryse dus vir diegene wat raai dat die meeste wyn wat ek hier drink uit Chili afkomstig is. En van al hierdie Chileense wyn, is daar een naam wat oor die afgelope paar jaar uitstaan vir die ongelooflike kwaliteit wat dit teen die prys bied. Hierdie wyn se naam is Palo Alto.

PA274286

Die naam van die kelder is afkomstig van die populêre benaming vir ‘n doringboom inheems tot Chili en die silhoeët van hierdie boom, domineer ook die etiket op Palo Alto se bottels. Die kelder is geleë in die Maule Vallei, ‘n substreek van die Sentrale Vallei – die wynstreek in Chili wat verantwoordelik is vir die meeste wynproduksie in die land (Chili is die negende grootste wynproduserende land, net agter Suid-Afrika).
Ek het die afgelope paar jaar al my kwota van Palo Alto Reserva deurgewerk. Die wyn is ‘n rooi versnit van Cabernet Sauvignon (50%), Carmenere (30%) en Shiraz (20%). Die gewone kleinhandelsprys ter plaatse is ongeveer die ekwivalent van R100, maar heel dikwels kry mens die wyn teen afslag vir omtrent sowat R70 (gewoonlik wanneer ek toeslaan!). Die houtverhouderde versnit is sommer veel meer as ‘n braaivleis wyn en bied ongelooflike waarde vir geld.

Heel onlangs raak loop ek toe weer die Palo Alto op afslag raak. Maar dit is nie al nie. Palo Alto se nuwe versnit, genaamd Reserva II, pryk toe ook op die rak teen dieselfde prys. Ek dog toe nou eers dit is slegs ‘n nuwe etiket en naam vir die nuwe oesjaar van die Reserva, maar nee! Dit is ‘n splinternuwe versnit, aanvullend tot die Reserva. Die Reserva II is ‘n baie interessante versnit van Merlot (70%), Shiraz (23%), Tempranillo (5%) en Viognier (2%). Bloot uit die verskil in kultivars tussen die twee versnitte, reken ek moes toe dat ‘n vergelyking tussen die twee versnitte, interessante leesstof sal maak.

Eerste aan die beurt is die Palo Alto Reserva 2010. Die kleur van die wyn is intens dieprooi, met rante wat nog ondertone van pers vertoon. Soos te wagte, domineer die Cabernet Sauvignon op die neus, met geure van bloekom en swartbessies. Mens tel ook die geure van gerookte salami en ‘n peperagtigheid op (afkomstig van die Shiraz). In geheel, ‘n uitlokkende, vleserige neus. Hierdie geurprofiel vertoon ook op die tong, met pragtige skoon, donker bessiesmaak op die middelpalaat en ‘n goeie nasmaak, met ‘n effense speseryagtige nuanse. Die tanniene is aanwesig, maar lieflik onderbeklemtoon. Die kultivars en komponente van die wyn is soomloos geïntegreerd en getuig van goeie gehalte vrug en die pragtige hantering van hierdie vrug deur die wynmaker. ‘n Wonderlike mondvol.

PA274280PA274283

Nou vir die Palo Alto Reserva II 2011. Die wyn is effe ligter van kleur as die Reserva, met ‘n pers skynsel, wat op die jeugdigheid van die wyn dui. Soos te wagte, is die wyn op die neus ‘n heel ander proposisie as die Reserva. Omdat Viognier so erg aromaties is, het selfs ‘n klein toevoeging van die kultivar ‘n impak op ‘n wyn se geurprofiel. In hierdie geval is die sweempie van gemmer en gedroogde appelkoos te bespeur op die neus, onderliggend aan die meer prominente geure van framboos, donker sjokolade en vanielje. Die mondgevoel van die wyn is minder kompleks as die van die voorafgaande wyn. Daar is ‘n aangename smaak van sappige, amper soet, kersies op die tong, maar ongelukkig is die nasmaak nie talmend nie. Die tanniene is te verstane ook nie so sag soos die in die Reserva nie. Die smaakprofiel is effe onafgerond, met die suur, tanniene en alkohol wat (nog) nie goed geïntegreerd is nie. Miskien sal die wyn na nog ‘n jaar in die bottel beter vertoon, maar op hierdie stadium is die Reserva definitief die smaakliker en beter wyn.

23 Kommentaar leave one →
  1. November 14, 2012 7:25 nm

    Jislaaik – ek proe die rooiversnit ! Ek gaan tog uitkyk of dit in die suiderlike punt van afrika beskikbaar is! 🙂

  2. November 14, 2012 11:20 nm

    Ek sal tog uitkyk vir die Reserva hier by my. Carmenere verleen soms ondertone van sjokolade aan ‘n versnitte wyn. Dit klink lekker soos jy dit beskryf her.

    • November 16, 2012 9:07 nm

      Ek hou baie van wat die Chilene met Carmenere doen en sou selfs se dat dit op die oomblik een van my gunsteling kultivars is. Maar Chileense wyne behoort seker baie algemeen beskikbaar te wees daar in jou kontrei – of beskerm die Amerikaners maar hulle eie industrie?

      • November 20, 2012 3:03 vm

        Daar is nie eintlik beskerming nie. Nie soos wat ek in Frankryk en Italie ondervind het nie, Ek het gaan loer by ons maar geen Palo Alto nie.

  3. brieweuitdievreemde permalink
    November 15, 2012 12:25 vm

    Ja, soos Vlooi se, mens kan die wyn proe uit jou beskrywing uit 🙂 Sorrie as hierdie vraag al reeds voorheen beantwoord is op jou blog, maar vanwaar jou kennis van / belangstelling in wyne? En: (ek het gesoek, maar vind niks nie) wat dink jy van soju? Ek het nogal gewoond geraak daaraan in Korea. Soju & meshil-ju. Het selfs geleer om laasgenoemde self te maak 🙂

    • November 16, 2012 9:12 nm

      My liefde en belangstelling het begin in my studentejare op Stellenbosh (hoe dan anders?) en het sedertdien net gegroei. Ek was, voor ek Korea toe gekom het, ook in die wyn-industrie werksaam. Soju (of Koreaanse vuurwater soos ek dit noem) is nie na my smaak nie, maar ek moet erken ek het dit al verskeie kere geniet – veral as ek sashimi gaan eet. Maar oor die algemeen is dit so bietjie hard op my gestel. 🙂 Meshil-ju is soms gangbaar, asook bokbunja en bekseju…en natuurlik makgeolli! 🙂

  4. November 15, 2012 2:07 vm

    Interessant! Ek is nie regtig ‘n wyndrinker nie maar onthou spesifiek dat ek eendag, lank lank gelede ‘n rooiwyn uit Chile geproe het en dat dit besonders was. Dankie vir die moeite wat jy met jou blogs doen – 5 minutes well spent om hier te lees.

    (Ek het ‘n whisky blogpost oorweeg en nou het jy my inspireer. Was Vrydagaand by die FNB whiskyfees en jy kan my omkoop met ‘n goeie enkelmout :))

    • November 16, 2012 9:16 nm

      Dankie vir jou positiewe kommentaar, Nadia! Ek sou niks anders van jou verwag as ‘n voorliefde vir goeie whisky nie. 🙂 Ekself moet erken dat ek ook whisky geniet. Maar aangesien dit wat ek van hou, nie in my prysklas is nie, drink ek nie veel whisky nie. Ek was bevoorreg om eenmaal Noord-Ierland te besoek en sedertdien is Bushmills een van my gunstelinge. En jy moet gerus oor whisky begin skryf – so ‘n blog sal ek getrou volg!

      • November 18, 2012 1:55 vm

        Ek is nou so aangedaan deur Flower of Scotland op Murrayfield ek wens hier was ‘n goeie whisky in hierdie huis. Swak beplanning.
        Ek dink nie ek het al Bushmills gedrink nie. Enigste Ierse whiskey wat ek ken is Jameson (ek was by die distilleerdery ook). Ek hou baie van Talisker (Isle of Skye distilleerdery), Laphroaig (Islay) en Lagavulin (ook Islay). Ek is nie ‘n vreeslike whiskykenner nie, sal dus nie ‘n blog net daaroor doen nie. Net so een post’tjie 🙂

      • November 19, 2012 7:56 nm

        As die Skotte se rugby maar so goed soos hulle whisky was! 😉 Ek is saam met jou oor die Laphroaig en die Lagavulin. En ek hou ook baie van Macallan (Speyside).

  5. November 15, 2012 9:55 vm

    Ai die rooi voggies! Ek geniet nogal die Assie wyne hier, maar ek gaan beslis uitkyk vir die Palo Alto wyne hier, sal dit graag probeer.

    • November 16, 2012 9:18 nm

      Ek dink die Aussies beskerm ook maar seker hulle mark. Maar hulle wyne is ook baie goeie kwaliteit en darem seker meer bekostigbaar daar doer onder of hoe? Die Barossa Shiraz wyne wat ek hier kry is ongelooflik duur.

  6. November 15, 2012 3:19 nm

    louda boer in ballingskap…..
    ek woon hier in die hartjie van die wynwereld, en alhoewel my vaalpens kultuur my nie in staat stel om die wyne te wardeer nie, proe ek ook nou sommer jou wyntjie hier in my gedagte-mond!!!!! mannas se wyne is Lyns wines, as jy kansie het gaan loer daar op hulle site…… (mannas is die viticulturer, of what ever jy dit wil noem of spel) jy verstaan mos wat ek meen, anyway hulle het ‘n wyntjie “viognier” wat selfs hierdie vaalpens capie geniet!!!
    sterkte met jou daar ini vreemde……………

    • November 16, 2012 9:19 nm

      Bedoel jy Lynx wyne? Het op die webwerf gaan kyk en toe water my mnond sommer reeds. Ek sal moet kom proe as ek SA toe kom!

  7. November 15, 2012 10:20 nm

    Drink terwyl jy nog SA wyn kry 😉

  8. November 18, 2012 3:23 vm

    Goeie skrywe weer hier BB.
    Ek dink ek het al Palo Alto hier by ons op die rak gesien. Sal beslis volgende keer een (of twee) in die mandjie gooi.
    As Nadia nou haar whisky blog begin sal dit gaaf wees. Ek weet min van die goed af. My skoonpa was `n groot whisky man en het daar my vuurdoop gehad 😀

    • November 19, 2012 7:58 nm

      Dankie. Sal interessant wees om dit daar op die rak te kry en te sien hoeveel dit in SA kos. Ek wag ook nou op Nadia se whisky-inskrywings. Skimp-skimp (hoop sy lees nou hier).

  9. kyker permalink
    November 20, 2012 10:02 nm

    Ek stem saam: Hulle maak heerlike wyne. Jy is bevoorreg om dit teen daardie prys te kan bekom.

  10. November 20, 2012 11:56 nm

    ‘n Ordentlike beskrywing van ‘n wyn wat ek beslis sal gaan soek. Ja, ons het besonderse wyne, en goeie waarde vir geld, in Suid Afrika, maar die ironie is dat ons wyne ook hier kry, ingevoer uit lande soos Portugal, Spanje, Australie en ja, ook Chili, wat goedkoper is as ons plaaslikes….en soms beter.
    As ek reg onthou het die SA standaard studentewyn (en sommer net lekker kuierwyn) Tassenberg, so 8 of 9 jaar grotendeels of uit Chileense wyn, of uit Argentynse wyn bestaan (dit was so aangedui op die etiket.)
    Terug na wynpryse: met vriende in die industrie weet ek hoe min hulle kry vir hulle druiwe, dis tog jammer dat die middelman meer verdien as die boere en kunstenaars wat die wyn maak

    • November 21, 2012 5:48 nm

      Jy is reg oor die Tassenberg, hoewel ek nie meer weet wat deesdae die geval is nie. Ek dink dis nie net in die wyn-industrie wat die middelman die grootste stuk van die koek vat nie. Dis ‘n algemene euwel. Nou wonder ek of die mense ooit besef watter impak dit op mededingendheid gaan he as arbeidslone drasties verhoog moet word.

Trackbacks

  1. Truth or Dare | Briewe Uit Die Vreemde

Lewer kommentaar