Slaan oor na inhoud

‘n Cabernet wat verlei

November 8, 2007

S7301965Langs Argintinie, tussen die Stille Oseaan en die Andes, le die lang, maer strook land wat as Chili bekendstaan. Op die gebied van rugby, kan Chilli glad nie meeding met die Argentyne nie, maar hulle wyne staan op gelyke voet. As jy van die beste waarde-vir-geld wyne in die wereld soek, is Chileense wyne die ding vir jou. Hulle kry dit net eenvoudig reg om die smaaklikste wyne teen die beste pryse op die rak te plaas. En soos Argintinie met Malbec gedoen het, het die Chilene Carmenere (‘n byna vergete Franse kultivar) geneem en dit hulle eie gemaak.

Chili se grootste en bekendste wynbou-gebied, is die Sentrale Vallei en binne hierdie streek vind jy sub-streke, bekend vir hulle kwaliteit, soos Maipo (sekerlik die bekendste) en Rapel (veral die Colchagua -distrik). Santa Rita is (saam met Concha Y Toro) een van Chili se bekendste wynprodusente. Ek het die 2006 Santa Rita “120” Cabernet Sauvignon (WvO Sentrale Vallei) probeer, aangesien ek nie ‘n Carmenere in die hande kon kry nie. En is hierdie nou ‘n wyn wat verlei!

Met die eerste glas is die wyn aanvanklik ‘n bietjie skerp en wil dit voorkom of die alkohol domineer. Maar na ‘n rukkie in die glas (dis eintlik altyd goed om ‘n jonger wyn te dekanteer), begin die wyntjie rustig raak en dan raak dit lekkerder met elke sluk. En hoe meer jy drink, hoe meer geniet jy die sappige struktuur van hierdie Cabernet.

Die kleur is donker robyn en foutloos mooi. Die neus is uitlokkend lekker en vol belofte, met geure van bloekom, boegoe en anys redelik prominent, gemeng met die tipiese swartbessie Cabernet-geure. Die eerste indrukke op die palaat is die van kersies. Die tanniene is soomloos geintegreer en die wyn is soos satyn op die tong. Regtig sag en sappig, met ‘n prominente nasmaak van swartbessies. Soos een goeie vriend van my dit sal stel: Hierdie is ‘n wyn om bed toe te vat!

25 Kommentaar leave one →
  1. November 9, 2007 4:34 nm

    Nee man, dis nie die wyn wat rustig raak nie, dis die drinker! /me trek jou been. 🙂
    Onthou jy daardie advertensie, ek dink dit was Douglas Green, waar die ou vir sy vrou sê: Hulle sal dit sommer net drink! Met my kennis van wynproëery is ek soos daardie kuiergaste.

  2. November 9, 2007 5:54 nm

    Ek weet ook maar bitter min van wyn af, maar jy beskryf so goed dat ek hierdie ene amper geproe het!

  3. kaalvoetkind permalink
    November 9, 2007 8:42 nm

    Ek vat nie wyn bed toe nie, wyn vat my bed toe! 😉

  4. November 10, 2007 12:05 vm

    Hier in die Kaap het iemand met ‘n nuwe konsep begin (nuut vir SA inelkgeval word vir my vertel) nl. Winesence. Jy kry basies ‘n ‘kredietkaart’ waarop jy geld laai as jy daar aankom en dan is daar rye wyn masjiene wat jy dan in kan tik hoeveel jy van die wyn wil he^. Bv. ‘n halwe glasie. Skuif jou kaart deur die slot machine (klink of jy gaan geld wen), hou jou glasie onder die machine en voila! Jy betaal per slukkie/teugie/glaas. Sodoende besluit jy self watse wyn jy die meeste van hou en koop dan ‘n bottel of twee (of ‘n kas). Ek dink jy sal bos gaan in Winesence! 😉

  5. November 10, 2007 1:49 nm

    Genade, dis die sexyste wyn wat ek al ooit van gehoor het!

  6. November 11, 2007 5:20 nm

    Kaalvoetkind…skerp!
    Roer, dankie vir die info oor Winesence. Sal definitief dit probeer as ek weer in die suidland is.

  7. November 12, 2007 4:27 nm

    Sal darem nie alleen, net met die wyn, wil bed toe gaan nie, Boer! 😆

  8. die brein permalink
    November 12, 2007 5:04 nm

    Unabastardo ek sekondeer jou!!
    Boer ek hou kwaai van wyn en wyn proe, maar my liefde le by muskadel en port, by the way met al die mengelmoes van wyne op die rak, hoe gaan ek weet watter is Chilleens?As jy ooit die beste muskadel onder die son wil proe kry vir jou `n bottel Dutoitskloof rooi muskadel.

  9. November 12, 2007 10:44 nm

    Uno, jy het ‘n goeie punt beet…
    Brein, ek geniet al die vrugte van die wingerdstok, insluitend muskadel en (veral!) port. Ek ken Du Toitskloof se muskadel goed. Maar daar is ook ‘n hele paar ander gawe muskadels, soos Rietvallei en Nuy s’n. Die bottel wat se “Wine from Chile” is die Chileense ene. 😉 Gaan loer bietjie by Trade Centre of Makro.

  10. November 12, 2007 11:39 nm

    Jy’s ‘n goeie wynskrywer!

  11. November 13, 2007 12:07 vm

    🙂

  12. November 13, 2007 2:22 vm

    Min goed so lekker soos ‘n goeie rooiwyn – en die naasbeste ding as om ‘n lekker Cabernet of Melot te drink…is om ‘n post soos hierdie te lees. Thanks!

  13. November 13, 2007 3:00 nm

    Boertjie, raak jy oor ander dinge ook so liries soos oor wyn? 😈

  14. November 13, 2007 5:22 nm

    Ek wens ek was ‘n wynkenner. Ek lief rooiwyn en probeer altyd (baie hard) om die geure uit te ken… maar kry dit bitter min reg.

  15. November 13, 2007 5:56 nm

    …ek meen Merlot 🙂 wat is jou gunsteling versnit?

  16. Eben permalink
    November 13, 2007 7:52 nm

    Dankie jy stel ‘n standaard oor hoe om wyne te drink en bemark!!

    Maarrrrrrrrr wyn drink gee my gout/jig. So ek vermy dit ten sterkte, hoewel ek ‘n paar bottels in my kroeg(ie) het vir die ou dag!!

  17. November 13, 2007 10:27 nm

    Ek het net hierdie naweek weer bietjie gaan kuier in St Emilion en so geproe-proe aan ‘n paar wyne — Paulliac, Pomerol, St Estephe, selfs ‘n Chateau LaTour and ‘n Haut Biron — daar is darem nog steeds nie iets wat kan kers vashou by sommige van die nie — al drink mens te lekker aan vele!

    Ek sien Eben se die wyn gee hom jig? Snaaks — dit was dikwels die geval — veral met wit wyn — in die verlede toe daar allerhande goeters bygelas is vir die preservering van die wyn. Hier in Frankryk gebeur dit glad nie meer nie. As iemand nog jig kry van wyndrink is dit altyd net van witwyn wat van elders kom — daar is nog steeds lande waar sekere middels bygevoeg word. Die dokters skryf selfs ‘n glas rooi wyn voor vir mense met koronere probleme — ‘skryf voor’ soos in gee ‘n preskripsie wat jy kan eis van die mediese fonds! So treat jouself met ‘n goeie rooi wyntjie uit Frankryk uit Eben — die lewe is te kort om nie wyn te drink nie!

  18. November 13, 2007 11:05 nm

    duskant, enige versnit wat kwaliteit is, maar veral interssante/ongewone versnitte (soos ‘n Argentynse Malbec/Tempranillo wat ek nou die dag probeer het).
    Rene…ek raak liries oor enigiets waarvoor ek ‘n passie het. 🙂
    Eben, lees Wilna se kommentaar. Dis eenvoudig so – hoe meer bymiddels (ekstra swawel, suur ens.) hoe groter die jig en die babelaas.
    Wilna, ek stem heelhartig saam met jou oor die Franse wyne. Ongelukkig is werklike kwaliteit Franse wyne bo menige gemiddelde salaristrekker se vuurmaakplek. Veral hier waar ek is, is die St Emilion’s, Pomerol’s, Medoc’s ens. ens. peperduur.

  19. Anoniem permalink
    November 14, 2007 11:08 nm

    Hi Boer…kom lewer bietjie kommentaar by Totius se gedig wat ek vir die Engelse probeer vertaal het….en drink nou genoeg van die wyn sodat jy swakker skuiwe kan maak in ons games! 🙂 Ek het ‘n meisie begin speel, Kanadees, ook Onnie-es in Suid-Korea waar jy is…doen wat jy doen…het jou site vir haar gegee, sy is in ‘n ekstase oor jou foto’s hier….:)

  20. Anoniem permalink
    November 14, 2007 11:09 nm

    jammer…ek is nie annoniem nie…dis Chessalee wat daardie een gelos het, sit hier met ‘n vrek stadige rekenaar op die kursus! 🙂

  21. Ronelle permalink
    November 14, 2007 11:34 nm

    Middag, Boer

    Ek wil jou net inlig dat daardie wyn van Santa Rita smaak so lekker omdat ‘n Suid Afrikaner hul bemestings- en besproeiings aanbevelings doen. Hulle is al vir 10 jaar ‘n kliënt van ons – my baas het vanoggend Chile toe gevlieg vir sy November plaasbesoeke.
    Nog goeie wyne wat pryse op wynskoue gewen het is Vina Tarapaca en Casa La Postolle en ook Errazuriz Ovalle.
    Santa Rita het nou ook ‘n ontwikkeling in Argentinië met die naam Vina Dona Paula – kyk uit vir hul wyne!
    Rooiwyn groete uit die Kaap!

  22. November 15, 2007 12:10 vm

    Nikita/Tarentaal/Chessalee/Anonymous: Jy laat die Skarlaken Pimpernel na ‘n openbare figuur lyk! Jy het al soveel skuilname….Ek is bly jy drink ook nou wyn; nou kan ons ten minste op gelyke voet meeding!
    Ronelle, dit verklaar baie! Ongelooflik hoe ver Suid-Afrikaners se invloed strek. Dankie vir jou aanbevelings.

  23. carien permalink
    November 16, 2007 7:41 nm

    Beautiful.

    Hoe groot is Suid-Korea se wyndrinkkultuur?

  24. November 16, 2007 9:46 nm

    Carien…glad nie groot nie, maar stadig-groeiend, veral onder die 30-somethings in die groter stede. Maar hulle per capita wynverbruik is steeds so laag, dat ek glo dat ek moontlik selfs die syfer op my eie kan beinvloed!

Trackbacks

  1. ‘n Vinnige vierwyn reis om die wêreld « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar op Anoniem Kanselleer antwoord