Slaan oor na inhoud

Weer Spanje?

Junie 29, 2012

UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1

Naas die Wêreldbeker, is die vierjaarlikse Europese Kampioenskap (beter bekend as Euro) sekerlik die kompeterendste internasionale sokkertoernooi. Vanjaar word dit gesamentlik deur Pole en Oekraïene aangebied.

Aanvanklik was ek baie opgewonde oor die feit dat ek al die wedstryde regstreeks op televisie sou kon volg. Daardie opwinding het egter gou in die niet verdwyn na die besef dat die wedstryde klokslag 04:00 voormiddag (Koreaanse tyd) gebeeldsend word. Met die eerste paar wedstryde het ek heel entoesiasties my wekker vir 04:00 gestel en gepoog om te kyk sonder dat my oë toeval. Gou het ek egter besef dat dit nie ‘n volhoubare oefening is nie. Dus het ek opgegee en meestal staatgemaak op hoogtepunte wat darem genadiglik tydens beskaafde tye uitgesaai is. Vanoggend het ek egter weer ‘n uitsondering gemaak en die tweede halfeindstryd tussen Italië en Duitsland gevolg.

Nou – met die aanvang van die toernooi – het ek in stilligheid voorspel dat die drie gunstelinge Spanje, Duitsland en Nederland is. Die uiters talentvolle span van Nederland was egter vroeë slagoffers in die sogenaamde doodsgroep (Group of Death). Die spanne wat ek buite rekening gelaat het, was Italië en Portugal. Christiano Ronaldo het uiteindelik sy vorm gevind vir sy nasionale span en hy was een van die voorste spelers van die toernooi. In die eerste halfeindstryd het Spanje ‘n doelskietstryd nodig gehad om Portugal uit te skakel, nadat die wedstryd gelykop geëindig het. Portugal het die Spanjaarde se spelpatroon ontwrig en was ongelukkig om op hierdie wyse te verloor. Hierdie halfeindstryd sou in der waarheid ‘n waardige eindstryd ook kon wees.

In die halfeindstryd wedstryd wat ek onder oë gehad het, het die vurige Italianers die doeltreffende Duitsers tot stilstand gespeel. Vir driekwart van die wedstryd was daar net een span op die veld en Duitsland het nooit werklik na wenners gelyk nie. Voor die wedstryd het Duitsland alle teenstand uit hulle pad gevee, maar hulle was net nie opgewasse teen ‘n passievolle en avontuurlike Italiaanse span nie. Hierdie Italië het gewys dat hulle glad nie ooreenkomste toon nie met die halfhartige Italiaanse span wat hulle wêreldtitel in 2010 in Suid-Afrika probeer verdedig het.

ITAL0001

Maandagoggend 04:00 (Koreaanse tyd) kom Italië in die eindstryd teen Spanje te staan. Debateerbaar die beste Spaanse span in die geskiedenis, gaan poog wat geen ander span nog ooit kon regkry nie. Spanje is beide die verdedigende Europese kampioen en die Wêreldkampioen. Indien Spanje Sondag die Italianers die loef afsteek, sal hulle die eerste span word om twee Europese titels en die Wêreldbeker agtereenvolgend te wen. Maar ‘n maklike taak gaan dit nie vir die Spanjaarde wees nie.

Met die vernietigende doelskieter, Mario Balotelli, aan die voorpunt, lyk Italië na potensiële kampioene. Balotelli speel die beste sokker van sy relatief kort loopbaan en hy gaan die Spaanse verdediging hoofbrekens besorg. Maar dit gaan nie net oor Balotelli nie. Getrou aan hulle tradisie is hulle verdediging rotsvas. Nie net is Leonardo Bonucci ‘n openbaring nie, maar in Gianluigi Buffon het Italië argumenteerbaar die beste doelwagter in die toernooi. Voeg hierby die vlugvoetige middeveld-generaal, Andrea Pirlo, en jy het ‘n span wat ‘n baie realistiese kans staan om die eindstryd te wen.

SPAN0001

Italië kom egter te staan teen ‘n gevestigde, talentvolle Spaanse span vol selfvertroue. Dit is dieselfde span wat in 2010 geseëvier het en hulle bly met ‘n kortkop die gunstelinge om die Europese kampioenskap vir ‘n derde keer te wen. Op die aanval het Fernando Torres sy vorm herwin. In tandem met David Silva en Xabi Alonso, gaan Torres die Italiaanse verdediging behoorlik toets. Maar dis veral in die middeveld waar Spanje so effektief is om die besit te beheer. Hier is Andres Iniesta en Cesc Fabregas in ‘n klas van hulle eie en kan hulle byna uit niks aanvalle inisieer. Op die verdeging is Gerard Pique ‘n reus en die doelwagter, Iker Casillas, is in dieselfde klas as Buffon. Tot dusver het Spanje slegs een doel afgestaan in die toernooi (in vergelyking met Italië se drie) en dit opsigself sê baie.

Dit gaan ‘n groot wedstryd wees tussen twee spanne met kontrasterende spelstyl. Italië is avontuurlik en opportunisties. Spanje is geduldig, maar meedoënloos. Ek gaan die wekker stel vir Maandoggend 04:00 en my voorberei om maar die week leepoog in te gaan. Maar ek is seker dit gaan die moeite werd wees!

UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1UEFA-EURO-2012-LOGO1

13 Kommentaar leave one →
  1. Junie 30, 2012 5:49 vm

    The rain in Spain stays mainly in the plain, Professor Higgins! They are going to wear the Italians down, but they their old problem of not scoring that many goals may be an issue since it seems that the Italians know where the goal posts are.

    • Junie 30, 2012 7:18 nm

      Ek dink die spanne weeg baie goed teen mekaar op. As Spanje die Italianers se giftige teenaanvalle kan stuit, is die stryd halfpad gewonne. Gaan baie spannend wees. Ek hoop net dit kan in 90 minute beslis word en dat daar nie ‘n doelskietstryd hoef te wees nie – laasgenoemde is altyd vir my so ‘n bietjie van ‘n halwe wen.

  2. Junie 30, 2012 4:54 nm

    Bly Torres het vorm herwin. Boer, ek weet van sokker baie min, maar hou van hierdie groot toernooie. Torres was vir my die teleurstelling van die 2010 Wereldbeker – ek hou hom dus dop 🙂

    • Junie 30, 2012 7:19 nm

      Wel dan hoop ek jy skree vir Spanje saam met my – nou eers weer my 2010 Spaanse t-hemp gaan opdiep vir die geleentheid! 🙂

      • Julie 1, 2012 5:41 vm

        Ek sal skree. Se net hoe laat ek moet opstaan 🙂 Ek het juis ‘n Spaanse hemp waarin ek gym. (Villa se naam agterop DINK ek)

    • Junie 30, 2012 11:16 nm

      @ Nadia, die 2010 sokker het my bewus gemaak van die spel – nie dat ek veel weet nie, maar geniet dit om te kyk

      • Julie 1, 2012 5:42 vm

        Rosa, ek het ongelukkig nie n TV met ‘n dish nie want ek weet ek sal dan ‘n couch potato word. Maar vir sulke groot geleenthede voel ek werklik ek lose uit. Miskien moet ek maar vir dishy kry 🙂

  3. Junie 30, 2012 11:14 nm

    dit sal voorwaar die moeite werd wees om voor op te staan.
    My gunsteling span was duitsland. die aand met die wedstryd het die Itliaanse doelwagter met soveel erns saamgesing aan hulle volkslied, dat ek net daar en dan my lojaliteite verskuif het. 🙂
    nou hoop ek hulle maak dit weer

  4. Julie 1, 2012 3:59 nm

    Ek skat die wedstryd sal so 21:00 SA tyd vanaand plaasvind. Dis nou as ek my tydsones reg het. Maar maak maar seker. Ek dink dit gaan opwindend wees!

  5. Julie 1, 2012 5:59 nm

    Spanje bo!

  6. Julie 2, 2012 8:11 nm

    Wow, ja! Was dit nou een van die beste, mees dominante vertonings wat ek al van enige span gesien het. Die Spanjaarde was manjifiek en die Italianers het loodvoetig voorgekom. Hierdie vertoning was beter as enigiets wat hulle tydens 2010 kon optower. Hierdie Spaanse span sal in die geskiedenis onthou word as een van die beste spanne ooit. Daaroor het ek min twyfel!

  7. Julie 2, 2012 11:07 nm

    Goeie genade! Die Italianers was van die veld af gespeel. Stem saam, hierdie Spaanse span is van die bestes ooit.

  8. Julie 5, 2012 4:10 vm

    Ek weet van sokker niks, net dat ‘n bal rondgeskop word en nou en dan deur die kop ook gebons kan word en dat MEESTE Britse seuntjies van so 8-11 ‘n ‘footballer’ wil word as jy hulle dit vra – dis nou die wat binne-in London is. Jy moet seker so bietjie breins he as jy regtig slim wil speel in die spel, maar Rooney het ongelukkig heel agter gestaan toe breins uitgedeel is en dis sy stupidgeit [meer ‘duh’-geit] – en ‘n paar ander – wat maak dat ek nie regtig veel van die spel hou en daarom nie ‘n effort maak om meer te wil weet nie.

Lewer kommentaar