Slaan oor na inhoud

McCain se Alaska-waagstuk

Augustus 31, 2008

sarah

Foto: www.alaskareport.com

Ek het voorheen daarna verwys dat die uitslag van die 2008 Amerikaanse Presidentsverkiesing nog deur ‘n hele aantal veranderlikes kan beinvloed word, waaronder die keuse van Vise-Presidentskandidaat. En nou wil dit voorkom asof John McCain se keuse van die Alaska Goewerneur, Sarah Palin, moontlik ‘n deurslaggewende rol kan speel.

McCain het vriend en vyand verras deur die onbekende en konserwatiewe 44-jarige vroue-goewerneur bo talle ander meer ervare Republikeinse kandidate as sy regterhand te kies. Hierdie is ‘n enorme waagstuk deur McCain en net die tyd sal leer of dit ‘n briljante strategiese skuif is, of een van die domste, kortsigste besluite wat al ooit deur ‘n Presidentskandidaat geneem is.

Wat tot die McCain-kamp se voordeel strek, is dat hy verseker daarin geslaag het om die media-kollig vanaf Barack Obama af te rokkel. Hy het iets opsraakwekkends nodig gehad om die media-aandag van Obama te steel na Obama se verbeeldingryke en charismatiese toespraak by die onlangse Demokratiese Nasionale Konvensie. Hierin het McCain verseker geslaag. Sy keuse van Palin is kontroversieel en die media is eensklaps obsessief en naarstiglik gefokus op die nuwe, onbekende faktor met die naam, Sarah Palin (ma van vyf en voormalige skoonheidskoningin).

Deur hierdie jong, onbekende en onpretensieuse vrou te kies as sy Vise-Presidentskandidaat, is dit duidelik dat McCain twee vliee met die spreekwoordelike een klap probeer doodslaan, nl. 1) om die ontnugterde vroue-kiesers wat Hillary Clinton ondersteun het by Obama af te rokkel, en 2) om bo alle twyfel te bewys dat hy sy eie kop volg en nie ‘n meeloper is van gevestigde Washington-belange (soos wat Obama voorgee) nie. Palin is so ver verwyderd van die sentrale politieke kringe in Washinton DC as wat mens jy jouself kan indink en het op haar polities jeugdige ouderdom reeds ‘n rekord as die van ‘n politieke onafhanklike en buitestaander. Voorts poog McCain om sy eie, gevorderde ouderdom met ‘n inspuiting van dinamiese jeugdigheid te balanseer, asook om die invloedryke Evangelies-konserwatiewe vleuel van sy party te beindruk.

Die keuse van Palin is egter ‘n twee-snydende swaard. Tot dusver was was McCain se veldtog deurgaans daarop geskoei om Obama as te onervare vir die Withuis uit te beeld. Deur Palin te kies, wys McCain egter nou dat ervaring nie werklik so baie vir hom tel nie, want hy het omtrent die mees onervare kandidaat geskies as wat hy kon. Gesien teenoor Palin, kom Obama nou skielik as ‘n deurwinterde leier voor. Die Obama-kamp het ook nie lank geneem om juis rondom hierdie kwessie aanvalle op McCain te loods en sy skynbare dubbele standaarde uit te wys nie.

Omdat McCain reeds 72 is, asook ‘n voormalige kankerpasient, is die kritici dit eens dat hy juis ‘n baie ervare Vise-Presidentskandidaat moes kies wat op kort kennisgewing by hom as president sou kon oorneem, sou sy gesondheid hom in die steek laat. Die jong en onervare Palin boesem eenvoudig net nie genoeg vertroue in om gesien te word as die volgende president nie, sou McCain se gesondheid hom in die steek laat.

McCain se keuse van Palin is ‘n geweldige politieke waagstuk en soos dit maar gaan met waagstukke, kan hierdie besluit McCain maak of breek. Dit is nog te vroeg om ‘n voorspelling in hierdie verband te maak, maar waarin McCain reeds geslaag het, is om die stryd baie interessanter (en mooier!) te maak…

NS: Obama het onlangs die ervare en gerespekteerde Demokratiese politikus, Joe Biden, as sy Vise-Presidentskandidaat aangewys. Dit was ‘n redelik voorspelbare keuse en is daarop gemik om Obama se jeug en oenskynlike gebrek aan ervaring te balanseer met iemand wat jare se ervaring in veral buitelandse beleidskwessies het.

40 Kommentaar leave one →
  1. Pienk Zuit permalink
    Augustus 31, 2008 11:01 nm

    Daar is rumours op die internet dat Palin se jongste kind, Trig, eintlik haar kleinkind is, haar dogter Bristol se kind (http://www.ireport.com/docs/DOC-69834). Die laaste 2 verkiesings het rumours en onwaarhede die demokratiese kandidaat gesink, so kan hierdie dalk die jaar wees wat rumours die GOP sink? Eers gaan die hoofstroom media moet begin verslag doen oor die rumours, wat waarksynlik nie maklik sal gebeur nie (alhoewel, as dit Obama se VP was het Fox News al lankal daarmee begin loop).

  2. Augustus 31, 2008 11:40 nm

    Dinge raak al hoe interessanter! Dit was ‘n helse risiko van McCain se kant af,maar mens moet seker maar risiko’s vat om iewers te kom. Wonder net of dit op die ou einde so goeie besluit gaan wees in terme van sy uitspraak oor Obama wat nie genoeg ondervinding het nie en nou het hy ‘n VP gekies wat ook nie veel ondervinding het nie. Sy lyk dinamies genoeg en of sy die werk sal kan doen, maar dis op die ou einde die publiek se stemme wat gaan tel.

  3. September 1, 2008 4:23 vm

    Iemand moet vir McCain vertel dat jy nie veronderstel is om die vise-president kandidaat se bates uit te check as sy ‘n toespraak maak nie. ‘n Groot nee-nee.

    So terloops, McCain se eerste vrou was ‘n skoonheidskoningin, sy tweede en huidige vrou was ‘n skoonheidskoningin, sy vise-presidentkandidaat… was ‘n skoonheidskoningin.

    Dalk is McCain nie ‘n slegte opsie nie? As hy wen behoort ons “world peace” te kry?

  4. eilandkind permalink
    September 1, 2008 7:12 vm

    My beskeie mening, ek hou van haar, sy lyk na ‘n plat op die aarde mens en as jy oplees sal jy sien dat sy nie net ‘n mooi gesiggie is nie.
    Ek hou nie van Obama nie, hy sé absoluut niks in sy toesprake nie en dan drool mense oor hom. Hy neig te veel na komunisme na my smaak.
    EN het hy enigsins meer ondervinding as wat sy het en hy is die PRESIDENSIELE kandidaat…..
    Sarah Palin is ‘n sterk vrou sonder om ‘n feminis te wees en sy staan op vir wat sy glo, sonder om mans te haat.
    Ek weet nie oor die baba storie nie, maar wat maak dit saak…..

  5. amanda permalink
    September 1, 2008 11:18 vm

    “n sterk vrou sonder om ‘n feminis te wees”????? wat beteken dit?

  6. September 1, 2008 8:14 nm

    😆 George, daai’s snaaks van jou!

    Ja, toe gaan hy en kry ‘n vrou as vise-president. Kan nie help om te dink Barrack het ‘n trick gemis nie.

  7. September 1, 2008 11:49 nm

    eilandkind, baie dankie vir jou inset. Hoewel ek neutraal staan teenoor hierdie verkiesing (amper soos ek voel as die Leeus en die Bulle kragte meet), verskil ek van jou oor Obama. Ek glo hy raak baie waarhede kwyt en ek dink hy is so ver verwyderd van kommunisme, as wat kan wees. Natuurlik het hy tekort aan ondervinding vis-a-vis McCain, maar ek glo hy is meer ervare as Palin.
    Ek wil myself nie in die mynveld begeef van die debat oor “sterk vroue” en feminisme nie. Ek dink die definisie van wat feminisme is, is baie plooibaar en daarom is dit moeilik vir my om sulke etikette uit te deel. Ek weet gans te min van Palin af. Ek dink egter nie feministe “haat” noodwendig mans nie.

    Zuit, dit is interessant, maar ek dink nie dis veel meer as ‘n gerug nie. Maar verseker het die Demokrate op hierdie stadium ‘n toegewyde span navorsers wat gaan poog enige geraamte moontlik in Palin se kaste te vind.

    Kaalvoet, ek dink jy raak ‘n belangrike punt aan deur te se dis die publiek se stemme wat tel. Dit gaan juis oor die persepsie van die kieserskorps, eerder as die feite. Dis ook hierdie persepsie van ‘n gebrek aan ervaring wat Obama probeer bestry. Ek dink in die politiek is persepsies bepalend.

    George, ek het self na haar gekyk en kon dus nie terselfdertyd sien hoe McCain se oe dwaal nie….. 🙂

  8. September 2, 2008 2:10 vm

    Kontroversieel is dit. “there’s no argue in that”…
    My beskeie opinie is dat McCain se “spin” dokter ‘n pluimpie moet kry. Hy gaan stemme oes waar voorheen net woestyn was…

  9. Pienk Zuit permalink
    September 2, 2008 3:11 vm

    Ai, ai, ai. Lyk of iemand nie hulle huiswerk goed genoeg gedoen het nie. Nou kom dit uit waar daar ‘n rokie is:
    http://edition.cnn.com/2008/POLITICS/09/01/palin.daughter/index.html

    Dit gaan Palin se geloofwaardigheid baie skade aandoen, siende dat McCain haar juis nader getrek het om die religeous right te probeer kalmeer. Nou lyk dit of sy nie een in haar eie huis die fundamentalistiese reels kan afdwing nie.

  10. eilandkind permalink
    September 2, 2008 4:02 vm

    haha, ek dink hy het haar nader getrek, sodat die liberales kan ophou sé dat hy glo ‘n vrou se plek is in die kombuis…..
    Ek dink sy rock!

  11. eilandkind permalink
    September 2, 2008 4:10 vm

    o ja, ek voel net jammer vir haar tienerdogter, wat nou uitmekaar getrek gaan word deur die Demokrate/religious right en res van die wéreld en as ‘n pion teen Sarah Palin gebruik gaan word.
    Ek wens ek kon neutraal staan, maar ongelukkig kan ek nie meer nie.

  12. September 2, 2008 4:17 vm

    Aggenee! Zuit het my voorgespring. Ten minste gaan die verkiesing nie vervelig wees nie!

    Eilandkind, Palin is deel van die religious right.

  13. September 3, 2008 12:07 vm

    Tyd sal leer of die waagstuk gaan werk of nie …

  14. September 3, 2008 3:59 nm

    Dis nogal lekker om te sien hoe deeglik hulle kandidate in Amerika uitcheck as die ouens wil President word, hoe deeglik hulle VP’s uitgecheck word, hoe koerante daaroor berig, TV-stasies, hoe almal ondersoeke doen in die kandidate se geskiedenis in, jy moet omtrent GEEN geraamtes in die kas hê nie, jy moet ‘n ervare en gesoute leier wees wat orals onder intelligente mense respek afdwing…. ag die lysie hou net aan.
    Dis SO in skrille kontras met Suid-Afrikaanse politiek en die keuse van ons President… 😀
    Nou wonder hulle of Sarah politiek opgewasse is en almal oee en aaa en gaan tekere. Ek dink die beste ding wat kan gebeur is dat McCain wen, gou-gou siek word en SY neem die Presidentskap oor. Buiten dat Hillary seker sal slange vang, sal ek dit nogal geniet… by verre die mees aantreklikste President op die ganse planeet! 😆

  15. September 3, 2008 6:26 nm

    Ek is altyd so bly as ek sien dat ander mense die politiek so geniet soos jy, ek wens ek kon! – ernstig – as jy een van my blogger-vriende…Engelsman…Amerikaner…op my blogrol is hy “Bookstoysgames” se blog vat…sy laaste inskrywing was oor hierdie vrou…hy hou soms van so bietjie politiek…soos jy…gaan lees bietjie daar ook… ek wil altyd darem weet wat aangaan en wie doen wat, maar ek wens ek was so dat ek alles in detail kon volg en alles in detail geweet het! ek’s ‘n paloeka as dit kom by politiek! en dis so sleg! en dit met voorgeslagte wat deel was van die politiek…skande ek weet! mooi vrou..dis al wat ek kan se..hehehe…

  16. September 3, 2008 6:28 nm

    …ek sien wat PienkZuit aanhaal…dis wat Ray ook op sy blog genoem het..ek dink jy sal sy inskrywing geniet…(bookstoysgames)

  17. kyker permalink
    September 4, 2008 1:37 nm

    Sy lyk soos ‘n sepie-ster as mens na haar foto kyk. Net dit sal baie stemme werd wees vir die McCain kamp.

  18. September 4, 2008 10:00 nm

    Ek het vandag Palin se toespraak by die Republikeinse Nasionale Konvensie gevolg en ek moet erken ek is beindruk. Die GOP het uiteindelik hulle eie Hillary gekry en al wen McCain nie die verkiesing nie, glo ek Palin gaan in die toekoms nog ‘n prominente rol binne die GOP speel. Dit lyk tog asof McCain se oordeel hom nie in die steek gelaat het nie. Palin is duidelik baie skerp en het gewys dat sy nie sonder handskoene aangepak moet word nie. Ek dink sy het al die media se spekulasie dat sy uiters liggewig is, die hok geslaan. Soos Wolf Blitzer op CNN gese het: “She hit it out of the ball park”. Mens mag miskien nie saamstem met WAT sy als se nie, maar HOE sy dit gedoen het, dwing bewondering af.
    Soos met meeste samesweringsteoriee en gerugte, was daar toe ‘n element van waarheid in die gerugte oor haar dogter. Die gerugverspreiders het egter (soos gewoonlik die geval is) die feite kop-oor-gat gehad. Dit wil vir my voorkom asof die swangerskap van haar dogter nie werklik haar negatief gaan beinvloed nie. Obama het ook reeds gese dat enige kandidaat (en veral hulle kinders) “strictly off limits” is.
    En ja, hierdie verkiesing is verseker nie vervelig nie! Van die voorverkiesings af was hierdie verkiesing ‘n politieke fynproewersdis en ek geniet dit baie. McCain se keuse van Palin het definitief nuwe lewe en dinamika in die Republikeine se veldtog geblaas en verseker dat die media se aandag nie noodwendig gaan oorhel na Obama se kamp nie.
    Ek glo steeds die verkiesing is daar vir die Demokrate om te verloor, want byna alles tel in hulle guns…maar dit gaan naelbyt wees.

    NS: Nikita, so het elkeen maar sy belangstellings – daar is weer talle ander gebiede waar ek ‘n leek is en glad nie in belangstel nie.

    NNS: DM, ja……dis soos jy se. Ongelukkig kan mens in SA laaaank voor die tyd voorspel wie die President gaan wees, asook wie die verkiesing gaan wen. No contest!

  19. September 4, 2008 10:07 nm

    Ek het oor die algemeen nie rerig ‘n clue wat in die politiek aangaan nie,maar hierdie is moerse opwindend en sy is beslis nie ‘n liggewig nie! SA politiek is tog so vervelig….

  20. reisiger permalink
    September 4, 2008 11:15 nm

    Ek is oor die algemeen ook nie vreeslik geïnteresseerd in politiek nie, maar hierdie inskrywing het my belangstelling geprikkel en daar was al ‘n paar inskrywings op veral Amerikaanse blogs wat ook oor Sarah gehandel het en volgens wat ek daar gelees het, lyk dit vir my of sy baie gewild is.

  21. September 5, 2008 12:10 vm

    Ek is ook beindruk met hoe sy haarself daar hanteer het. Ek hou van haar manier – daar skemer waaragtig niks deur van ‘n onervare, nie-elitest politikus nie. Inteendeel, nie eers Hillary het destyds vir Obama so direk aangevat soos Palin gedoen het nie. Hulle noem haar nou “Barracuda”!

    Maar daar is skynbaar ‘n drukgroep van vrouens wat nie haar sarkasme waardeer het nie, en talle vrae oor die Amerikaanse ekonomie is onbeantwoord. Haar retoriek is verskriklik argaïes, ‘n weerspiëeling van dieselfde Texan cowboy snert waarmee Bush altyd so paradeer – en die fokus om Al-Qaeda en die oorlog in Iraq is – mynsinsien – gerig om kieser bang te hou vir ‘n Obama leierskap wat eerder op dialoog en skinking gaan fokus. Hoe anders, sy is van Alaska, en ‘n konserwatiewe Republikein.

    Een ding is seker: sy is tans ‘n huishoudelike naam, en is beslis ‘n stuiwer in die spreekwoordelike armbeurs. Uitstekende coup de ta vir McCain. Sy is ook nie te onaantreklik nie.

    Terloops, haar 17-jarige dogter is swanger – ek wonder of die Demokrate hierdie situasie gaan uitbuit. Gode sy dank het nie een van die party nog op gesinswaardes gefokus nie.

    Dit is eintlik ‘n voorspelbare patroon in Amerika. Republikeine regeer so vir 4-8 soms 12 jaar, voordat ‘n demokraat weer kom oorneem om die ekonomie te red. Aan die einde van die dag betaal Amerika nog steeds vir Reagan se eertydse beleid.

  22. September 5, 2008 4:53 vm

    Hier is my 2 sent. Ek bly al 7 jaar in die VSA. Die verkiesing gaan opwindend wees. Net om vir Emil te antwoord – Hussein Obama gan die VSA opneuk. Jy praat van die oorlog in Irak en hoe dit kiesers bang maak vir Barrack Hussein Obama en dat jy sy styl van dialoog verkies. Met die oorlog tussen Rusland en Georgia het Obama gese hulle moet dit in die VN se “Security Council” oplos. Hy weet nie eens dat Rusland veto power het in die security council nie. Dit wys jou dat hy geen internasionale ondervinding het nie. Op nog ‘n ander punt – weet julle dat Obams sy presidentskap geloods het in die huis van ‘n veroordeelde terroris met die naam van William Ayers. Die lamestream media is so gefokus om Obama verkies te kry dat hulle die stukkiw inligting nie uitsit nie. Gaan lees gerus oor Ayers – http://en.wikipedia.org/wiki/Bill_Ayers. Kom ons kyk ook na iets anders – julle almal se dat die McCain mense ondervinding gberuik teen Obama. Palin het reeds al twee jaar ‘n staat bestuur waar sy omvangryke veranderinge aangebring het tot so ‘n punt dat die staat se finansies nie meer in die rooi is nie. Obama het in die senaat gedien en 130 keer kon hy nie sy mind opmaak orr issues om of ja of nee te stem nie. Toe stem hy maar present. As president kan jy dit nie doen nie. Jy moet besluite kan neem en moet kan saamleef met die besluite. Die platform wat hy volg is Change – maar wat wil hy verander – ek weet nie want ek kan sien dit nie. McCain is ook nie ultra regs nie. Gaan loer bietjie na die McCain – Feingold legislation of selfs die McCain – Liebermann legislation. In party van sy denke is hy meer liberaal as wat die republikeine van hou. Ek sal eerder vir McCain verkies al was hy nie my nommer een keuse nie.

  23. September 5, 2008 6:37 vm

    Ek hou van die rame wat jy om jou fotos sit – lyk baie profesioneel. mag ek vra watter sagteware jy daarvoor gebruik?

  24. September 5, 2008 9:28 vm

    Boer…ek hou van hierdie volgende stukkie!…weet jy waar kom dit uit? 🙂
    Ek is maar net ‘n boerebruid
    ek laat nie my geleerdheid uit
    As hul oor politiek begin
    dan luister ek en hou my in
    Maar ‘k sal my kinders eendag wel
    die storie van Transvaal vertel!
    cute.. 🙂

  25. eilandkind permalink
    September 5, 2008 10:45 vm

    Sarah Palin is vuurwarm hoor! Sy draai die plat op die aarde/blue collar Amerikaner om haar pinkie.
    Sy het sommige mense in trane gehad met haar toespraak, mense kan met haar identifiseer, iets wat baie mense nie met Obama kan doen nie.
    Soos een ‘dem’ vrou gesé het, McCain kan maar terug sit in die Oval office en haar die toesprake laat doen in die toekoms.
    Ek het alreeds videos op die internet gesien van vrouens wat gewoonlik demokraties stem, wat sé hulle gaan vir McCain stem, oor haar, hulle gee nie eens om dat sy pro-life is nie.
    My man (‘n Amerikaner) is nie baie konserwatief nie en glad nie ‘n rasis nie, maar hy lag en sé die res van die wéreld maak ‘n hengse fout as hulle dink dat die meerderheid Amerikaners vir ‘n swart man gaan stem.
    Hy mag verkeerd wees, ons sal maar moet sien.
    VERAL na Obama se Europese toertjie, waarna hy sy Europese idees huis toe wil bring…..
    Soos ek dit sien is dit net die ‘hippies’/liberale Hollywood tipes/die wat wil terug sit en nie werk nie en net wil hé die regering moet vir hulle sorg, wat vir Obama gaan stem en natuurlik die wat die Republikeine haat, haha.
    Bush het soveel keer gewen, want dit is die elkedagse Amerikaner wat bepaal wie wen, nie die linksgesinde media nie…….
    Die Amerikaners wat ek ken, werk vir wat hulle het, hulle wag nie vir handouts van die regering nie en dit is hoekom hulle vir die GOP stem..
    Ek sé julle, dis een ding om van buite af in te kyk, maar ‘n ander ding om hier binne te sit.
    Ek het hier aan gekom met al my liberale Europese idees en moes gou my woorde sluk!

  26. September 5, 2008 4:47 nm

    Bib, wat is jou trackback skakel of het jy dit afgesit in die settings….

  27. September 5, 2008 7:41 nm

    is mc cain nou weer ‘n republikeien?
    sy…saarah lyk nicerig… ek hou van buitestanders
    i’ll root for het
    an

  28. September 7, 2008 11:08 nm

    Penkop, van die rame is beskikbaar in Blogdesk (wat jy gratis van die Net kan aflaai), maar ek gebruik ook my kamera, wat sulke funksies bied. BTW…ek slaag nie daarin om by jou webwerf uit te kom nie.
    Jasper, moet jy nog my tegnologiese gestremdheid so blootstel? Ek weet van trackback, maar het dit nog nooit gebruik nie en weet ook (quite frankly) nie waar om dit aan of af te skakel nie. Jammer!

  29. Anoniem permalink
    September 8, 2008 1:15 nm

    Aan die einde van die dag sal die Amerikaanse publiek die vraag moet beantwoord: Wil hulle he die President moet inwaards or uitwaards kyk. Inwaards = Demokrate, uitwaards = Republiekyne. Obama is beter met vandag se issues in Amerika (ons ekonomie is in groot gemors, al die simtome dui daarop dat dit kan ineenstort. Nee ek vergroot nie. As die regering begin om enorme finansiele maatskappye oor te vat soos wat vandag gebeur het met Fanny Mae and Freddie Mac, dan kan mens nie anders as bekommerd wees nie.) Daarom dat die Dems op hul konvensie so gehammer het op die ekonomie.

    McCain is ver voor in die polls as ‘n mens vra wie is die beter militere leier (wat belangrik is vir baie Amerikaners is want die President is in beheer van buitelandse sake, nie die Kongres nie.) McCain het ook die voordeel dat hy groot getalle dependants na hom kan trek. Maar as die ekonomie bly verswak, dan sal Obama wen.

    Natuurlik kan skandale nog ‘n groot rol speel, anders sal die TV debatte kort voor die verkiesing die deuslaggewende rol speel.

  30. September 8, 2008 1:18 nm

    As mens te vinnig tik en ingedagte die Submit knoppie druk word word ek toe sommer incognito en Anonymous.

  31. Bertus! permalink
    September 8, 2008 6:32 nm

    Daai vrou se sukses (en haar versekerde oorwinning in November) is ‘n hartseer herinnering aan hoe ver pad nog voorle^ in die stryd teen middelmatigheid.

  32. September 9, 2008 2:42 vm

    Bluegrass, ek dink jou opsomming is redelik in die kol!
    Bertus, ek sien nie ‘n “versekerde oorwinning” vir McCain/Palin in November nie. Hulle het ‘n kans, maar (soos ek genoem het) hierdie verkiesing is daar vir die Demokrate om te verloor. Ek kan ook nie met jou saamstem dat Palin middelmatig is nie – alles behalwe. Sy is moontlik konserwatief en in sekere opsigte kortsigtig, maar sy is (nes Obama) dinamies en definitief nie middelmatig nie.

  33. September 9, 2008 4:56 vm

    Die McCain kamp het een helse slag geslaan met Sarah Palin. Die demokrate het dit nie verwag nie en sal in die volgende twee maande alles moet doen (selfs vuil speel) om haar te counter. En dit kan straks net meer teen hulle tel. Sy lyk skerp en kan dalk nog selfs die eerste vroulike President word. Die feit dat Hillary so naby tog so ver was verdeel die demokrate natuurlik ook nog baie. EN. Ek dink self nie die meerdrheid Amreikaners is reg om vir ‘n swart man te stem nie. Only time will tell. Dit gaan beslis een van die mees interresanste verkiesings van ons tyd wees.

  34. amanda permalink
    September 9, 2008 2:46 nm

    Bluegrass het beslis die regte punt beet. In gister se LA Times is daar ‘n artikel oor onderhoude wat met vroue in die “economic challenged” state gepraat is. En baie van hulle se: ek gaan nie stem vir iemand net omdat sy ‘n vrou is nie. Ek stem vir iemand wat iets aan die ekonomie gaan doen, sodat ek nie hoef te kies tussen mediese versekering en kos vir my gesin nie. En vir hierdie vroue, is Obama die een wat die ekonomie aanspreek en dit spreek tot hulle. Ek hou van Sara Palin – sy ‘n dinamiese vrou. Of sy die regte kandidaat is vir wat Amerika nou nodig het, betwyfel ek. En hier waar ek bly in ‘n blou staat (Kalifornie), is velkleur nie ‘n besprekingspunt. Velkleur mag dalk nog ‘n kwessie wees in die ou “confederate” state, maar beslis nie in die weste nie. Besides, African-Americans is lankal nie meer die dominante minderheidsgroep nie: Die Latino populasie is die dominante minderheidsgroep en in state na aan Mexico – soms die meerderheidsgroep – en hulle stemblok is die een na wie deesdae gevry work.

  35. Mary Jane permalink
    September 10, 2008 3:53 nm

    Howzit Boer! Man, ek vind hierdie verkiesing onbeskryflik onteressant. Ek volg dit beter as Bold – en dis waarlik iets om oor te skryf 🙂
    In elk geval, ek voel verplig om ook my opinie te gee oor ‘n verkiesing waaroor daar seker nog boeke geskryf gaan word en flieks gemaak gaan word. (met Angelina as Sarah Palin en Paul Newman as McCain)
    Palin het inderdaad mense laat regop sit en arme Biden – in my opinie is hierdie die verkiesing van ras en geslag. Almal is reg en gereed vir verandering in die VSA. Dis die rede hoekom die demokrate so goed gedoen het – Obama en Hillary het alles verteenwoordig alles wat Bush nie is nie, swart, jonk, vroulik, inkort: anders. Dis juis die feit dat hulle so anders was wat gemaak het dat hulle ‘n voorsprong het. Andersheid verteenwoordig verandering en so ver ek kan aflei is die meeste Amerikaners honger daarvoor. Obama moes regtig beter geweet het as om ‘n blanke gryskop oom te kies vir VP. Hy is heel moontlik die beste politikus op aarde, MAAR die feit dat hy lyk soos hy lyk tel teen hom. Selfs ek wat meer na die Obama kant neig en altyd glo dat ek neutraal is oor geslag en ras was onmiddellik afgesit daardeur – en dit sonder dat Biden ‘n woord gepraat het. Dis ook nou juis die rede hoekom McCain so goed doen en vandag vir die eerste keer voor Obama is in die polls. Rede: Sarah Palin – weereens, sy kan so konserwatief wees soos wat sy wil, maar sy is vroulik en mooi en in ‘n verkiesing waar ras en geslag die deurslaggewende rol speel, tel dit vir BAIE!

    Daar is nou net een ding van Palin wat my dwars in die krop steek: sy dring daarop aan om vir olie te boor in Alaska. Nou kyk, gaan lees bietjie op oor wat olie boor aan die omgewing doen. Alaska is nog een van die laaste werklike wildernis-gebiede in die wereld!!!!!!!! Ek gee nie om wie of wat sy is nie, maar hoor my lied – dis ‘n fout, ‘n GROOT fout!!!

    Maar nou ja, if nothing else is hierdie verkiesing vreeslike lekker vermaak – soveel so dat ek bitter in slaap, net om op te vang wat aangaan op die TV. Ons leef inderdaad in interessante tye!!

  36. Bertus! permalink
    September 11, 2008 4:27 nm

    Ek meen sy is middelmatig. Die alternatief – dat sy berekend deur-die-mis is – is too ghastly to contemplate.

  37. September 11, 2008 11:32 nm

    Ek is aangenaam verbaas deur die belangstelling wat soveel mense wel toon in die Amerikaanse presidentsverkiesing. Ek’t op ‘n stadium gedink ek’s so effe op my eie in my belangstelling. Dis veral lekker dat mense wat self in die VSA woon van hulle laat hoor, want ek dink hulle aanvoeling vir die situasie is effe beter. Daar is niks wat kan vergelyk met die grondvlak-ervaring wat mens opdoen as mens self in ‘n land woon nie. (amanda en hou van jou sober bydrae)
    MaryJane, dankie dat jy weer ‘n draai gegooi het en vir jou inset. Ek sal effe met jou wil verskil oor jou vertolking van Biden se posisie. Omdat Obama jonk, relatief onervare en Afro-Amerikaans is, dink ek hy moes maar sy veldtog balanseer deur ‘n gesoute, ervare en ouer politikus te kies. En Biden het ‘n bewese rekord. Hillary sou moontlik die aangewese keuse gewees het, maar my beskeie mening is dat sy nie kans gesien het om 2de viool te speel na die bitter voorverkiesings nie. Ek dink Hillary se persoonlikheid is te sterk en haar ego te groot. Dit sou nie gewerk het nie. Ek weet nie of daar ander ervare vroue in die Demokratiese kamp was, wat ‘n sterk kans gestaan het nie. Twee Afro-Amerikaanse kandidate in dieselfde veldtog sou ook nie gewerk het nie, want (quite frankly) dink ek nie die Amerikaanse kieserskorps (waarvan die meerderheid blank is) is reg daarvoor nie.

    Ek stem saam dat Palin die rede is wat McCain nou (tydelik) voorloop in die meningspeilings. Op hierdie stadium wil dit voorkom asof sy waagstuk werk, maar daar moet nog baie water in die see loop. Palin, hoewel duidelik intelligent en dinamies, is onervare en mens sal moet sien hoe sy gaan vaar teen die media en teen Biden (in ‘n regstreekse debat). Hierdie keuse kan nog in McCain se gesig opblaas. En daarom is die verkiesing so interessant, want ons weet nie wat regtig gaan gebeur nie. Hoe nader ons beweeg aan November, hoe versigtiger sal beide kampe moet wees vir blapse wat hulle veldtog te na gaan kom. In hierdie verband dink ek Palin bly ‘n risiko, waar Biden feitlik geen risiko inhou vir die Demokrate nie.

    NS: Ek dink Paul Newman is gans te aantreklik om McCain te speel! 😉

  38. Bertus! permalink
    September 12, 2008 2:24 vm

    Iets meer oor middelmatigheid: Almal maak graag grappies oor die feit dat George Bush onnosel is en nie Kanada op ‘n kaart kan vind nie en ‘n C gekry het op hoerskool ensovoorts, dan dink hulle hy is as president verkies ondanks die feit dat hy dom is – maar wat mense nie besef nie is dat hy as president verkies is juis omdat hy dom is.

    Een van Amerikaners se beste eienskappe is hul egalitarisme en hul anti-aristokratiese neigings, maar dit is dikwels ook een van hul slegste eienskappe, soos in gevalle waar hulle bobbejane soos Bush na hul hoogste pos verhef omdat hulle meen sy middelmatigheid is ‘n middelvinger teen die hogere klasse. Jy sal ook oplet dat die meeste aanvalle teen Obama daaroor gaan dat hy ‘n latte-drinkende elitis is – m.a.w die feit dat hy ‘n paar grade het, baie slim is, en groot woorde kan gebruik tel actually teen hom!!!

    Palin is deel hiervan: in ‘n speelveld waar die Obama, McCain en Biden intelligente mense met indrukwekkende rekords is, verkies mense Palin omdat sy die laagste gemene deler verteenwoordig – sy het nie veel van ‘n rekord nie, sy herinner almal die hele tyd daaraan dat hy haar beste kwalifikasie die feit is dat sy ‘n hockey mom is en dat haar man aan ‘n vakbond behoort. Daar sou iets mooi daaraan gewees het as dit nie was vir die feit dat ons in die laaste 8 jaar gesien het hoeveel lewens so ‘n verafgoding van onbekwaamheid kan kos nie.

  39. September 12, 2008 1:38 nm

    Obama het nie ‘n groot verskeidenheid van keuses behalwe wit mans gehad nie. Hy kon jonger mans gekies het maar Biden is ‘n “safe” opsie want hy moes op ‘n manier die meerderheid wit stem kry om the wen. Demokraties vroue op die VP vlak is min: Janet Napolitano, die Governor of Arizona, Nancy Pelosi, the Speaker of the House – te liberaal, maar sy beste keuse kon Kathleen Sebelius, Governor of Kansas gewees het. As hy nie kans gesien het vir Hillary en haar baggage nie, kon hy ‘n ander vrou gekies het, maar ek dink ook hy het sy kans verspeel en sy eerste groot fout gemaak.

    Mary Jane: Ons is verslaaf aan olie/petrol in die VSA, wereld se grootste verbruikers, maar die demand gaan nie gou indien ooit verdwyn nie. Ek glo ons moet op alle vlakke die energie probleem op los, maar ongelukkig is dit ‘n lang loop na petrol vryheid, pun intented. Wind, son, ens. moet almal gebruik work, maar petrol gaan ons nog lang nodig he. Of ons moet vir ons ander “beste” vriende kry as die groepe in die Midde Ooste, of ons moet boor in Alaska en rondom Florida om ons te help deur hier lang pad terwyl ander forms van energie verbruik vermeerder. Natuurlik gaan die Arabiere nie stil sit en kyk hoe Amerika en ander lande hul olie verbruik verminder en hul beleggings in alternatiewe forms van energie vermeerder, en niks doen nie. Hulle gaan hul toekomstige belegging in olie verminder en die huidige prys verhoog en dan gaan almal in elkgeval in die pompie kak, gouer en langer as wat ons dink. En soos my skoonpa altyd gese het, aan die einde van die dag moet ons brood op die tafel het om te bly leef anders gaan alles by die agterdeur uit.

    As ‘n beginsel is ons ekonomie belangriker as ‘n veryste wildernis. Ons kan natuurlik albei kies: Die laaste wildernis van Alaska en “responsible drilling” (en onthou ANWR, die Alaska olie area is maar klein, ek dink so 5% van Alaska). In beginsel moet ons boor, die vraag is is dit die moeite werd.

    Huidige estimates is dat ‘n volle operasionele AWAR maar net 0.4% tot 1.2% van die wereld se olie sal verskaf teen 2030. OPEC kan dit gou neutraliseer deur hul uitvoere te verminder met dieselfde hoeveelheid. Ek dink ons moet net boor as dit ‘n merkwaardige verskil aan ons ekonomie gaan maak. En ongelukkig gaan dit feitlik geen effek op ons ekonomie he nie. Hulle dink daar is net 10 biljoen vate olie in ANWR. Amerika het 7.5 biljoen vate gebruik in 2007. So oor ‘n tydperk van 30 jaar gaan Alaska olie maar net seker 2 of 3 persent of minder van ons jaarlikse gebruik verskaf. Dis net genoeg om die Olie maatskappy nog ryker te maak en nie juis enige verbetering bring nie.

Trackbacks

  1. Die verkiesing is reeds verby… « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar op Paula Kanselleer antwoord