Sewe maande in die Suidland
Nouja, hier sit ek uiteindelik voor die sleutelbord in ‘n desperate poging om die skrywersblok-apie van my rug te gooi. Die klein apie sit al geruime tyd hier op my nek en word vet gevoer deur winterkoue, ongebreidelde luiheid en ‘n goeie skeut basiese indifferensie. Wanneer mens so op die internet rond branderplank en soveel menings van soveel mense lees, kom mens ook soms op ‘n punt wat jy jouself afvra of jy dan nou regtig enigiets nuut of uniek het om by hierdie tsunami van menings en gedagtes te voeg wat in die virtuele anargisme van die kuberruim gedy.
Die afgelope klompie maande het ek nie veel hier geskryf nie. Daar was wel gedagtes oor die Wêreldbeker-sokker en ‘n paar ander lukrake oomblikke van inspirasie. Maar oor die algemeen het ek die blog ruskans gegee en ook ‘n akute gebrek aan inspirasie beleef. Maar skryf, moet ek skryf, want dis in my bloed, my kreatiewe suurstof, my barrikade teen die wêreld se verweer. Of soos hulle in Engels sal sê: Writing is my happy place.
Ek het die laaste 7 maande van verlede jaar in Suid-Afrika spandeer wat, in alle eerlikheid ook bygedra het tot ‘n gebrek aan blog, aangesien my internettoegang soms maar sporadies was. Dus, wat het ek in sewe maande in die Suidland gedoen? Wel, ek het grootliks futiele en ontmoedigende pogings aangewend om ‘n volhoubare betrekking te vind. Maar ek het ook verskeie geleenthede gebruik om weer met vriende en familie wat ek lanklaas gesien het, bande op te neem en veral aandag te gee aan my bejaarde moeder. Voorts het ek ook die pragtige land wat Suid-Afrika is, verken en die ruimte en spasie (wat hier in Korea so skaars is) ingedrink.
My eerste ervaring wat uitermate positief was, was natuurlik die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Ek is baie bevoorreg dat ek daar kon wees ten tyde van die gebeurtenis; dat ek my vuvuzela met entoesiasme kon saamblaas, kon partytjie hou en myself kon inleef in die toernooi. Groot was my vreugde natuurlik dat een van die spanne wat ek ondersteun het (soos voorspel) die trofee aan die einde van die toernooi kon hooghou. Die maandlange partytjie was ‘n baie duur, maar lekker ontvlugting van die kritieke probleme wat ‘n land soos Suid-Afrika in die gesig staar. Ek is bly ek kon deel wees van die kortstondige ontvlugting.
Ek het vir die eerste keer in letterlik jare rugsak opgeneem en bietjie gaan stap. En ek het dit geniet soos nog altyd – die oefening, vars lug, kampvuur in die aand, die oopheid van die veld en die natuur. Ek sal die Broodboom-staproete naby Middelburg (Mpumalanga) ten sterkste aanbeveel. Veral die oornaghut wat soos ‘n arend se nes bo-op die kranse rus, is iets om te beleef. Die uitsig op die vallei waardeur die Olifantsrivier kronkel, is sprokiesmooi. Soos so dikwels in Suid-Afrika, is daar egter altyd iets wat afbreuk doen aan die ervaring – die magtige Olifantsrivier is so erg besoedel dat die water nie meer drinkbaar is nie. Dis hartseer…
Ek het na Sutherland gereis, waar ek die ongerepte en haas nimmereindige spasie van die Karoo kon geniet. ‘n Plek vir kop skoonmaak en diep teue vars lug. Daar is ‘n seker magiese aura wat ek geen ander plek as in die Karoo ervaar nie. Dis ook daar in die middel van die Karoo waar ek weer eens besef het dat ek baie moeilik ooit ‘n vegetariër sal kan wees. Regte egte Karoo skaaptjoppies is eenvoudig die lekkerste lekker!
Saam met ‘n goeie vriend van Piketberg se wêreld het ek die Weskus gaan verken. Ons het spesifiek langs die kus op gereis om voëls te kyk en ek was aangenaam verras met die verskeidenheid van voëls langs die kus af. Die besoek aan Verlorenvlei-reservaat, was ‘n hoogtepunt. Die mossels by Die Vishuis was lekker en vars en by die Vlekhuis op Laaiplek het ons engelvis gekoop, wat later die aand lekker op die kole was en nog lekkerder op die bord saam met ‘n glasie of twee chardonnay. Terloops, ten tyde van my verblyf in Suid-Afrika, het ek net weer tot die oortuiging gekom dat Danie de Wet Limestone Hill by verre my gunsteling chardonnay is.
In Tulbagh het ek by familie gaan kuier en ‘n paar dae in die pragtige dorp spandeer. Daar is min Bolandse dorpe wat my so na aan die hart lê as hierdie historiese dorpie genestel in tussen die Witzenberg en Winterhoekberge. En natuurlik staan Tulbagh se wyne lank nie meer terug vir die meer bekende streke nie. Ek was veral beïndruk wat Manley met Pinotage gedoen het, terwyl Rjik’s en De Heuvel se Chenin Blancs my baie beïndruk het, om nie eers te praat van die imponerende Saronsberg se rooiwyne nie. Hulle rooi versnit, wat Seismic heet, registreer definitief op my palaat se rigterskaal!
Geen besoek aan Suid-Afrika sou egter volledig wees sonder ‘n besoek aan die dorp wat vir my baie spesiaal is, nl Calitzdorp. Hierdie keer het ek die viswaters van die Gouritsrivier gaan verken, die pragtige Gamkaberg-Natuurreservaat bewandel, volstruisnek-potjie geniet en natuurlik die wonderlike portwyne van die plaaslike kelders. Maar sekerlik die hoogtepunt was ‘n impromptu viertrekroete wat ek en my goeie vriend, Bertus, aangedurf het in ‘n baie ou, oorspronklike Willys weermagjeep. Nouja, dit was ‘n baie moeilike roete op ‘n plaas in die Rooiberg en ons het van die begin af geweet die adrenalien sal vrylik pomp. Maar dit was voor ons agtergekom het ons ry sonder remme! Die opgaanslag was senutergend genoeg, maar die afkomslag was iets uit ‘n 3D rekenaarspeletjie. Die jeep was meer in die lug as op die grond en in etlike nanosekondes het ek al gesien hoe die helikopters ons stukke kom soek. Ons is geskud soos in ‘n tuimeldroër. Maar met hope en hope genade van Bo het ons dit oorleef. Vriend Bertus het my bestuursvernuf geprys, maar ek het vir hom gesê die feit dat hy ‘n dominee is, het dalk meer gehelp!
Nou dink aan al daardie stadsjapies wat in hulle amperse miljoenrandse luukse viertrekmonsters die berge invaar met downhill assist, en hill-start assist en ek weet nie watter allerhande tegnologiese foefies nie. Gaan klim in daai Willys jeep, ou maat…sonder deure of sitplekgordels of remme…jy sal nooit weer dieselfde dink oor viertrekry nie!
Ek kan sekerlik nog veel meer oor Suid-Afrika skryf en my ervaringe daar. Ek het die wynlande behoorlik verken, die kuslyn gaan bespied, met pikkewyne gekuier, my moeder se verjaardag gevier, in die bos gaan rus, in bergpoele geswem, kilogramme biltong en droëwors geëet en baie lekker saam met vriende gekuier.
Ek skryf nie hier oor my negatiewe ervaringe en my mening oor die stand van sake in my geboorteland nie. Dis vir ‘n ander dag wanneer ek in ‘n ander bui is. Op die oomblik is ek net dankbaar vir al my ervaringe en die wonderlike gasvryheid en ondersteuning van vriende en familie.
Maar my uitgebreide besoek aan Suid-Afrika is nou verby. Nou is ek weer hier in my aangenome land, Korea. In die middel van die koudste winter in baie jare. ‘n Bywoner in ‘n ander land, aan die anderkant van die wêreld. Ver van die wynlande, ver van Sutherland se vlaktes, ver van die Boland, ver van die bos, ver van die Gamkaberge, ver van die Weskus se voëls en ver van die mense wat ek so lief het…
My ballingskap duur voort.
mooi foto’s Boer! 😉
Dankie, SF! 🙂
Ai BiB. Wens dinge was anders hier, sodat jy nie meer BiB hoef te wees nie, maar eerder Boer in SA. Mooi loop daar ver in die koue.
Dankie, Son!
Ek stem saam: Soos ek self ondervind het in Desember, bly Suid Afrika ‘n pragtige plek om in te reis en tweedens, die skaaptjops in SA is die beste in die wereld. My oor eet aan die goed terwyl ek daar was. En goedkoop! Hier in die VSA is die Amerikaanse weergawe te vet en galserig en die tjoppies van Australia en New Zealand is so smaakvol soos karton. En saffranduur! Jammer om te hoor daar is nie betekenisvolle werk nie.
Ken nie ander tjoppies as die van SA en die Karoo, maar glo jou! Koreane eet nie skaap nie en voer ook dus nie in nie. Dis hoekom daai tjoppies in SA so ekstra lekker is!
Dit is heerlik om jou weer raak te lees BiB. Jou foto’s is pragtig en ek het alte lekker kuier-kuier gelees.
Ek’s bly jy lees nog hier!
Die Oos-Transvaal is vol pragtige staproetes, ek het die Broodboom ook al gedoen. Volgende keer moet jy meer na Graskop/LouisTrichardt se wereld gaan en selfs Potgietersrus het mooi plekkies as staproetes, maar my groot gunsteling is die Drakensberge se roetes [o ja, moenie Port StJohns/Koffiebaai vergeet nie.] Dit klink asof jy ‘n heerlike tyd agter die blad gehad het, bietjie weer “volgemaak”. Jou blogheader se ook genoeg oor die koue daar. Ek lees ‘n paar dae terug dat die plekkie waar ons nou is, was in Des die koudste in die land!
Ek kan beaam dat die Oos-Transvaal baie mooi roetes het.
Wow!!! Hoe verlang ek nou terug huis toe!!
Mens verlang maar soms…veral as jou dak vrot van die vog en besig is om ineentestort! 😉
praat jy wat tande het Boer 😉
Ai ou Boer, nou sien ek hoekom jy gesê het wat jy gesê het oor my Weskusfoto’s!
Ha ha ha, oor die Limestone Hill Chardonnay, weet jy saam met die besproeiingserf langs die Oranje wat ons in 2009 gekoop het, het ons ‘n amper waardelose stukkie grond van so 2 ha gekry wat Kalkbult genoem word! Hmmm, miskien kan ek eendag my lappie sultanas se oes daar pars en dit ‘n soortgelyke naam gee. Jy weet nou al teen die tyd ek nou van ‘n wyntjie wat nie te duur is nie maar tog lekker drink. Ek het juis gisteraand en vandag ‘n bottel Spier Chardonnay gedrink wat glad nie sleg was nie. Ek het vinnig gekyk, albei is beskikbaar by Makro, die Limestone Hill teen amper 2 keer die prys van die Spier, maar ek sal bietjie ‘n bottel kry en jou laat weet of dit amper 2 keer so lekker is!
Jou foto’s is puik!
Dankie, kop!
Kop se Kalkbult Chardonnay klink vir my na ‘n wenner!
Moet se Limestone Hill is vir my besonder lekker en goeie waarde vir geld. Laat weet wat jy dink!
OK Boer, die bottel Limestone Hill lê in my yskas vir konsumpsie seker teen volgende naweek se kant. As jy tyd het, vertel my solank van die speserye en goed wat jy daarin geproe het, dat ek kan kyk of ek dit ook proe!
Amper het ek vergeet om te kom terugrapporteer! Ek het laas naweek maar hier ‘n plaaslike Gautengse geelstert aangekeer, sommer by die groot groentewinkel en op die kole gegooi om die botteltjie lekkerte te probeer.
Ek was aangenaam veras, alhoewel dit vir my miskien nie tipies van Chardonnay was nie – een woord wat by my opgekom het was “crisp”, en ek het lus om in te gooi “vrolik”. Dit het besonder lekker saam met die vis gegaan.
was so lekker om jou hier te hê en weer saam met jou te kon kuier. Kappit flou daar in Korea!! Ons mis jou hier
Was net so lekker om daar te wees!
Die Weskus voed mens se siel…
Sterkte met die koue.
Dankie, kaalvoet. ons jaag die ysbere hier rond. 🙂
Ja, die Weskus is maar een van daardie magiese plekke.
Koffie volgende keer – dis n swart-op-wit belofte. 😉
Ek hou jou by jou woord! 🙂
@Kop: Mooi so! Hoop jy sal nie teleurgesteld wees nie! Sal bietjie kopkrap om presies die geure te onthou! 🙂
Bly jy’t dit geniet! Kan dink dit sou goed afgaan saam met geelstert! Nie geweet mens kry so maklik geelstert daar in die hande nie.