Slaan oor na inhoud

Oor twee paleise, pragtige tuine en mandarynse eende

Mei 17, 2011

Changdeokgung is een van die 5 koninklike paleise in Seoul en die tweede grootste, naas Gyeongbukgung. Dit is ook die enigste van Korea se oorblywende paleise wat tot ‘n UNESCO Erfenisgebied verklaar is (1997).

P4294105

Omring deur pragtige tuine kan Changdeokgung sekerlik die mooiste van die paleise genoem word. Die konstruksie van die oorspronklike paleis het gedurende 1405 in aanvang geneem en is in 1412 voltooi. Die oorspronklike geboue is egter (soos so baie ander historiese geboue in Korea) gedurende die Japannese invalle van 1592-98 verwoes. Die paleis is herbou, maar in 1623 tydens ‘n rebellie is meeste van die geboue weer vernietig. Daarna is dit weer herbou en deur die jare verskeie kere gerestoureer en die gronde van die paleis vergroot. As mens die geskiedenis van Changdeokgung vergelyk, sien mens nogal baie ooreenkomste met die Verbode Stad in Beijing (oa dateer albei paleiskomplekse uit die vroeë 15de eeu), hoewel laasgenoemde natuurlik veel meer grandioos en luisterryk vertoon.

P4294113

Tot en met die Japannese invalle was Gyeongbukgung die koninklike setel, maar vanaf die herbou van Changdeokgung in 1609, was die setel van die Koreaanse Koning, Changdeokgung, aangesien Gyeongbukgung eers teen 1872 ten volle gerestoureer is. Dus het die konings van die Joseon Dinastie (1392-1910) tussen die 17de en laat 19de eeu Changdeokgung hul woning gemaak. Om die waarheid te sê, Korea se laaste koning, Keiser* Sunjong (1874-1926), het tot en met sy dood in Changdeokgung gewoon. Die laaste prinses, Prinses Deokhye (1912-89), van die Joseon Dinastie het tot en met haar afsterwe ook in een van die geboue in die paleiskompleks gewoon.

P4294128P4294145

P4294117P4294143

Die paleis se gronde beslaan ongeveer 45 hektaar. Daar is 13 bestaande geboue en soveel as 28 pawiljoene in die tuine rondom die paleis. Die mees imposante gebou in die paleiskompleks is die troonkamer (bekend as Injeongjeon) waar die Joseon konings vername gaste ontvang het. Ander geboue in die kompleks is vir verskeie doeleindes aangewend en die konings en hulle koninginne (in daardie tyd het die konings altyd ‘n klompie byvroue ook gehad) se slaapkwartiere is uit te ken aan die struktuur met gange en kamers toegebou met reekse groengeverfde tradisionele Koreaanse blokkiesraamvensters.

P4294110

Changdeokgung is spesifiek bekend vir die pragtige tuine wat die paleisgeboue omring, met talle dammetjies en pawiljoene wat dit ‘n fees vir die oog en die siel maak. Dis in hierdie tuine waar die adellikes gewandel het en hulle ydele ure spandeer het. Die tuine is so groot dat ekself maar net glimpse daarvan gesien het tydens my besoek. Dit is veral pragtig nou in die lente en daar is letterlik oral lewe, met ‘n verskeidenheid kleure wat ‘n pragtige palet skep. Bloeisels is onbeskaamd en party bome se kleur is so varsgroen dat mens soms aan die blare moet voel, net om seker te maak dis wel eg. So word die verskeidenheid dammetjies ook pragtig omraam deur die kleure van lente.

P4294138P4294174

P4294169P4294176

Daar is voorts volop voëllewe en geen van die voëls pronk so indrukwekkend soos die Manderynse eende nie. Vir my is dit een van die mooiste voëlspesies denkbaar en werklik ‘n voorbeeld van ongelooflike Godskuns. Ek was baie gelukkig om telkens die eende vas te vang in my lens, insluitend die bonus van ‘n mannetjie aan de pronk. Die Mandarynse eend is inheems aan Asië, hoewel klein getalle ook sporadies voorkom in oa Europa en Noord-Amerika. Om bloot na die manier te kyk hoe hierdie mooiste van mooi eende adellik oor die water gly, is reeds iets om mens innerlik te voed. Die Mandaryne is winterbesoekers aan Korea en, aangesien skaars, werklik ‘n voorreg om te sien.

P4294158P4294184

P4294153P4294189

Reg langs Changdeokgung, loop mens die gronde van ‘n kleiner paleis, genaamd Changgyeonggung, binne. Hierdie paleis is baie kleiner en met duidelik minder praal as eersgenoemde. Changgyeonggung is oorspronklik deur die beroemde vierde koning van Joseon, Koning Sejong (1397-1450), gebou as ‘n somerpaleis vir sy vader. Dit het egter eers gedurende die laat 15de eeu sy huidige vorm aangeneem toe dit aansienlik uitgebrei en vergroot is om ‘n bykomende woning te bied vir die koninginne van Joseon.

P4294200

In vergelyking met Changdeokgung, is Changgyeonggung maar eintlik ‘n vaal replika, maar ook hierdie paleis se gronde spog met pragtige tuine. Die paleis is ook erg beskadig tydens die Japannese invalle van die 16de eeu en moes deur die jare herbou en gerestoureer word. Ek het egter by Changgyeonggung vir die eerste keer ‘n taesil ontdek het – ‘n plek waar die koninklike familie die plasenta en naelstringe van hul kinders laat stoor het as heilige plek (“shrine”) tot hulle (die kinders) se nagedagtenis. ‘n Eienaardige gedagte inderdaad, maar nou-ja, dit was sowat 600 jaar gelede en toe was die wêreld ook maar seker ‘n anderse plek.

P4294148

‘n Punt wat gemaak moet word rondom die historiese geboue in Korea, is dat daar bitter min oorspronklike geboue behoue gebly het, juis weens die feit dat die geboue van hout gebou is. Dit was dis baie maklik in oorloë of burgerlike opstand of deur nalatigheid of opsetlike brandstigting, om geboue in puin te lê, soos deur die jare telkemale met die historiese geboue gebeur het. Mens kan maar net hier dink aan die Mongoolse invalle tydens die 13de eeu, die Japannese invalle tydens die 16de eeu en die vernietigende Koreaanse oorlog tydens die 20ste eeu. Selfs so onlangs as 2008 is Seoul se oudste oorspronklike stadspoort, Namdaemun (ook bekend as Sungnyemun), deur ‘n brand in puin gelê. Maar hoedens af vir die Koreane wat deur die jare maar altyd weer skouer aan die wiel gesit het om die geboue telkens weer tot hulle voormalige glorie te herstel. Hulle verwag dat Namdaemun teen einde volgende jaar ten volle herbou sal wees.

P4294160

Soos ek soveel keer vantevore opgemerk het, is dit ‘n voorreg om in ‘n land te woon wat soveel moeite doen om die geskiedenis te gedenk en te onderhou. Maar ook soveel moeite doen om ‘n pragtige veilige, rustige en skoon spasie te skep in een van die grootste stede ter wêreld, om die stadsgeruis te ontvlug. Indrukwekkend, maar steeds nie vir my heeltemal so indrukwekkend soos die pragtige Manderynse eende nie…

*Gedurende 1897 is Korea as ‘n Keiserryk verklaar en daarom het Korea se laaste twee konings die titel van “keiser” gedra. Tegnies was Korea van 1897 tot 1910 ‘n Keiserryk en het die Joseon Dinastie tot ‘n einde gekom, maar vir alle praktiese doeleindes was die “keiserryk” maar slegs ‘n voortsetting van die Joseon Dinastie.

6 Kommentaar leave one →
  1. ShiningFire permalink
    Mei 17, 2011 11:22 nm

    Bela Bela 🙂

  2. Mei 17, 2011 11:35 nm

    daardie eende is pragtig, baie mooi inskrywing

  3. Mefri permalink
    Mei 18, 2011 6:44 vm

    Die eende is voorwaar ‘n kunswerk BiB. Sjoe, die verskillende veer-teksture en kleure is te pragtig!

  4. Mei 22, 2011 5:33 nm

    Pragtige foto’s – soos altyd – en daardie eenjies is mooi, hulle is hierdie kant ook volop. Ek het lieflike foto’s van hulle wat ek in Osterley Park geneem het – waar ons voorheen in Wes-London gebly het. Daardie naby-foto van jou lyk presies soos een van my foto’s wat ek daar geneem het. Hulle lyk so baba-sag met daardie kleure wat so inmekaar vloei. Ek hou van jou manier van foto’s neem, altyd teen ‘n sekere hoek wat die foto indrukwekkend maak.

  5. Mei 23, 2011 9:48 nm

    Oosterse geboue het darem hul eie prag. Veral die houtwerk. Ek mag dalk nooit in Korea uitkom nie, maar geniet dit om so saam met jou te reis.

Trackbacks

  1. Ter ere aan die konings « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar