Derde beste lughawe?

Volgens Skytrax se 2009 evaluering van lughawens , is Changi Internasionale Lughawe in Singapoer die derde beste lughawe in die wereld, naas Incheon in Korea en Hong Kong in Sjina. Die drie top lughawens is die soveelste keer almal in Asie. Ek was nou nog nie naastenby op alle internasionale lughawens nie, maar het die voorreg gehad om die top 3 verskeie kere te besoek. Nou weet ek nie presies hoe Skytrax te werk gaan nie, maar in my beskeie mening is Changi die beste. Hiermee bedoel ek nie om Incheon of Hong Kong af te skiet nie. Ek het reeds hierdie spesifieke lughawens telkemale besoek en hulle is van die beste in die wereld. Ek glo bloot net Changi is beter.

S7300538S7300548

Wat die ontwerpers van Changi duidelik in gedagte gehad het, was om die pynlike ervaring van lang reise te verlig deur ‘n oase te skep waar reisigers in ‘n rustige atmosfeer kan ontspan. En in hierdie doel slaag hulle met vlieende vaandels. Vir die uitgeputte reisiger is Changi inderdaad ‘n oase.

S7300569

Sekerlik die hoof aspek wat bydra tot hierdie atmosfeer van rustigheid, is die pragtige tuine binne en buite die lughawegebou. Die indrukwekkendste van hierdie tuine, is die kleurryke orgidiee wat kunstig aangele is rondom koi-visdamme. As stad is Singapoer bekend vir sy orgidiee en nerens word die verskeidenheid van hulle orgidiee-skat beter tentoongestel, as binne die lughawe nie. Hoewel die orgidiee die kalklig steel, is daar vele ander tuine met oa inheemse bome, bougainvillea en sonneblomme, almal uitgele rondom dammetjies, met die bydraende estetika van houtbruggies, paadjies, lopende water en watervalle.

S7300549S7300552S7300570S7300551

As jy klaar die tuine bewonder het en daar is tyd en geld, kan jy in die honderde winkels gaan rondsnuffel of iets eet en drink by een van die talle restaurante, kafees of koffiewinkels. Die lughawe is een, reuse winkelkompleks.

S7300950S7300577

Steeds verveeld? Gaan kyk gratis een van die nuutste fliek-vrystellings, spandeer gratis ure op die Internet, speel jou gunsteling Playstation -of rekenaarspeletjies, Sit oorfone op en gaan ontspan in die musiekkamer se uiters gemaklike stoele. Gaan vir massering of refleksologie of neem ‘n lekker stort om die tamheid van die reis af te was. En as jy nou REGTIG tyd het, neem een van die gratis stadstoere vanaf die lughawe om Singapoer te gaan verken.

S7300580

Changi het my mateloos beindruk en ek sou selfs sover gaan om te se dat dit die moeite werd is om Singapoer te besoek net om die lughawe te sien. Kortom, as Tom Hanks in die rolprent Terminal op Changi gestrand was ipv JFK , sou hy dalk glad nie omgegee het nie en selfs daar wou bly.

NS: In die Skytrax evaluering word Kaapstad aangedui as die beste lughawe in Afrika, wyl ek onder die indruk was dat Johannesburg O.R. Tambo hierdie eer toekom…

die sonbesies sing nie

S7301791

die bedompige hitte kom kleef klam op jou vel

jy drink reeds liters koue water elke dag

die busse, taxi’s, treine, winkels, werkplekke en woonstelle het hul reeds tot lugversorging gewend

maar die sonbesies sing nog nie

die sonbesies sing nie

dit gaan ‘n warm somer wees…

Vrydagaand-song XVI

Sting – Fragile

Wanneer iemand baie bekend skielik sterf, word die herinneringe aan jou eie dooies vir wie jy eens lief was en so baie mee gedeel het, onwillekeurig en opeens weer opgewek en in jou gesig gewerp. Jy word opnuut gekonfronteer met die tydelikheid van jou eie brose bestaan en die wete dat verganklikheid nooit verder as ‘n voetval is…

die seer wat nie wil sneuwel…

Nog ‘n aangrypende en kontensieuse gedig uit die pen van my goeie vriend, Johan. Die tema van jeug as kanonvoer, is tydloos en universeel.

bosoorlog

ek onthou julle amal

toe julle nog jonk was
julle, seuns met die dowwe oe,
julle met gesigte onsigbaar onder die boshoed
wat edel magnus vlok en die befokte krokodil
blind sou volg
uitbundig selfs
soos die kinders wat julle was

al julle leeg gebloeides
al julle wat nooit sou leef nie
al julle met die skroot lywe
die flossie het jul gaan haal
die flossie het jul gespaar

al julle wat snags asemhaal
vlak soos 20 jaar terug langs ‘n nuwe kis
die boks met die oranje blanje blou bande… onthou?
ek onthou julle almal
wat hortend snuif snuif soos ‘n lam na sy ma
hortend ruik
in jul drome aan die muwwerige pink rook uit die granate
aan die kolkende stofwolke van Afrika

al julle gebaar in sonde
al julle wat eens babas was
liefdevol opgepas was
deur jul ma’s se kloek kloek klanke deur jul pa’s
se nerfaf hard gewerkte hande
ek onthou julle misbruiktes
en die blikkerige medaljes vir die dapperes van Suid-Afrika

al julle wat dood verwonde
lewens lei(y)
al julle wat maar net kon traai en traai
julle met die beperkte harte
en die knetterende onthoukamers
vol beendere
en
ofkos die glansswart kraai
van die haan

almal het vergeet van julle
wie se blaserige voete nooit gewas word nie
wie se vergifnis in die dag steeds verhandelbaar is
onthou ek jou nog
jong soldaat
van die oos vrystaat rante

(c) Johan Horn

die berg wat die gespartel effe ligter maak

Ek het ‘n ruk terug besluit dat Namsan net die regte medisyne is vir daardie ekstra paar kilo’s wat ek vanaf Suid-Afrika saamkarwei het terug Ooste toe. Dit was my plan om die berg te stap voor die volheid van die somer-humiditeit toeslaan, want ‘n masochis is ek nou ook nie. Dus het ek vroeg op ‘n bewolkte Saterdagoggend hierdie historiese berg suid van Gyeongju (my tuisstad, vir die wat nie weet nie) aangedurf, opsoek na nog eeu-oue Boeddhistiese kultuurskatte.

S7300998

Die sagte misreen het gelukkig gou gewyk en dit was die perfekte dag vir hierdie tipe oefening, maar weliswaar nie sulke goeie weer vir foto’s nie. Daar is duidelike waarskuwings teen slange, maar ongelukkig was ek nie so bevoorreg om een van hierdie pragtige pootlose reptiele raak te loop nie.

S7300995S7300993S7301029

By ‘n vorige geleentheid het ek die Samneunggok-vallei gestap. Hierdie keer het ek besluit om die pagoda van Yongjangsa op te spoor. Die pagoda staan op die plek waar historici vermoed die Yongjangsa tempel eeue terug was. Die pagoda is ‘n bekende landmerk in Namsan en maak ‘n legkaartprentjie waar dit fier en regop troon, steeds in een stuk na eeue. Dit is ongeveer 4.5 m hoog en is vermoedelik tussen die jare 700 en 900 gebou.

S7301001

‘n Entjie ondertoe met ‘n baie klipperige paadjie en met die hulp van ‘n klimtou hier en daar, tref mens ‘n interessante Boeddha-beeld aan op ‘n rondeklip-voetstuk – ‘n vorm wat nie dikwels gesien word nie. Die beeld is die van ‘n Maitreya (toekomstige) Boeddha en dit word gedateer na die begin van die 8ste eeu.

S7301015S7301012

Hoe presies die Boeddha sy kop verloor het, weet niemand nie, maar daar word bespiegel dat dit moontlik die werk kon wees van ekstreme Neo-Confucianiste tydens die Joseon -dinastie (1392-1910). Naas die beeld is daar ook ‘n relief in rots waar menige stappers hulle munte los met die hoop op goeie geluk.

S7301027

Vir ‘n wyle het ek vir ‘n lafenis gestop by die pawiljoen bo-op die berg en toe die lang paadjie afwaarts gevat. Aan die voet van die berg het ek afgekom op Koning Ilseong se heuwelgraf. Ilseong was die 7de koning van die Silla-dinastie (57-935vC) en het geheers in die jare tussen 134 en 154. Hy word onthou vir sy bydrae om landbou binne die koninkryk uit te brei. Tydens sy heerskappy het hy ook die bestaande klassestruktuur van die samelewing versterk deur die dra van juwele gemaak van goud, silwer, perels of jade deur nie-adellikes, te verbied.

S7301031

Behalwe vir die goeie oefening, is die hierdie berg altyd net wat ek nodig het om bietjie perspektief te kry. Die somergroen woude, inseklewe, voels, vergesigte en die soet smaak van helder bergwater kombineer as ‘n onvervangbare tonikum om die gewoonheid van die alledaagse gespartel effe ligter te maak.

 

Vrydagaand-song XV

Johnny Clegg & Savuka – The Crossing – Osiyeza (for Dudu)

Vir ‘n Vrydagnag en Saterdagoggend hier in die Ooste, een van Johnny se bestes!

Londen – Parys – Calitzdorp – New York

S7300149

Ek het op ‘n stadium Calitzdorp aangedui as een van my tien gunsteling bestemmings in Suid-Afrika. Met my onlangse besoek aan die Suidland het ek weer eens besef hoekom hierdie klein dorpie so tot my hart spreek. Eintlik is dit moeilik om my vinger presies te plaas op dit van Calitzdorp wat my so aantrek. Miskien is dit ‘n kombinasie van velerlei faktore of miskien is dit net een van daardie plekke met ‘n uiteindelik ondefinieerbare aantrekkingskrag.

S7300839S7300883

Calitzdorp is net eenvoudig vir my sonderling en rustig. Dis ‘n plekkie wat na my oordeel so gestroop is van die hedendaagse gejaagde materialisme dat dit pretensieloos nederig vertoon, daar waar dit tussen die Rooiberge en Swartberge nestel. Dis asof ‘n mens nog hier werklik kan asemhaal en weer waarlik mens kan wees. Hier, waar almal vir almal groet en die daaglikse omgang in winkels, restaurante en snuisteryplekke nie beperk word tot bloot ‘n kille transaksie nie. Dis asof die mense hier nog hart het.

S7300880S7300882

Die natuur hier in die Klein Karoo vertel ook sy eie, outentieke verhaal. Die riviere vol vis, die bokmakierie se luide roep wat bly eggo, die talle interessante vetplante wat jou gratis en ongerep met verwondering vul, die swerms tarentale wat alomteenwoordig blyk te wees…die algehele rustigheid en ongelooflike stilte saans wanneer die son oulaas buig. Daarom dan seker ook hoekom so baie kunstenaars en ander eksentriekes ‘n holte vir hulle voete vind hier, waar die blote woordjie “vrede” opnuut betekenis kry. Want dis hier waar die spinnerakke en besoedeling in jou kop tot nuwe klaarheid skoongewas word.

S7300856S7300868

Ebenhart Botha is reeds lank bekend vir sy pragtige handgemaakte pype. Maar wat my werklik beindruk het, is die handgemaakte kitare wat die vakmanskap en kreatiwiteit van Bertus Jordaan weerspieel. Ek is die eerste wat ruiterlik sal erken dat ek nie veel van musiekinstrumente weet nie, maar hierdie kitare was vir my kunswerke met pragtige klanke. Uit die aard van die saak sal mens sekerlik goedkoper fabrieksgemonteerde kitare uit die Ooste kan kry, maar kunswerke is dit nie.

S7300912S7300924

Wanneer mens Calitzdorp besoek, moet mens ook by die talle interessante winkeltjies en koffieplekke inloer. Aanskou die pragtige steenkerk, eet volstruisbiltong en klim Jakkalskop uit vanwaar jy vergesigte oor die dorp en omgewing kan inadem. Stap die pragtige Rooibergpoort en gaan maak lyn nat in die Gamka of Calitzdorpdam, waar die visarende nog roep. En laastens, maar definitief nie die minste nie, gaan proe die beste port in Suid-Afrika by die plaaslike wynkelders.

S7300156

Elke mens het seker sy eie spesiale plek waar hy asiel vind en kan anker gooi. Calitzdorp sal altyd die plek wees waar ek weer my hart voel klop en waar my siel opnuut suurstof vind.

Aanvaar dit nou! (’n selfgesprek)

Toe ek verneem dat my suster en haar man pistool-in-die-gesig voor hulle huis in Somerset-Wes gekaap is, was ek nie heeltemal so verontwaardig of woedend soos ek gedink het ek sal wees nie. Ek was eerder dankbaar. Dankbaar dat hulle gespaar is en slegs ‘n motor verloor het. Buitendien is dit nie die eerste keer wat geliefdes van my aan geweldsmisdaad blootgestel word nie en sal dit ook seker nie die laaste keer wees nie. Ek het gewonder oor my gebrek aan woede en toe tref dit my: aanvaarding. Ek besef dat dit waarteen ek nou al so lank predik, nl. dat Suid-Afrikaners nie die pandemie van geweldsmisdaad bloot as normale lewensgang moet aanvaar nie , ‘n uitgediende argument is. Want sien, behalwe vir emigrasie, het Suid-Afrikaners werklik geen ander opsie nie. Om woede uit die hart te weer en om geestesgesondheid te behou, moet Suid-Afrikaners begin vrede maak met die situasie in Suid-Afrika.

  • Aanvaar dat gewapende rooftogte, moorde en motorkapings so eg Suid-Afrikaans is soos biltong, boerewors en braaivleis. Dis deel van die lewe in Suid-Afrika. Soos met sekere siektes (bv. kanker) kan jy versigtig wees en baie voorsorgmaatreels tref. Maar as dit die dag met jou gebeur, dan gebeur dit maar net en jy kan dit nie keer nie.
  • Aanvaar dat meeste misdadigers in Suid-Afrika wegkom met moord, nooit aangekeer word nie en selde die binnekant van ‘n tronk sien.
  • Aanvaar dat die president, kabinetsministers en senior staatsamptenare nie intellektuele reuse is nie.
  • Aanvaar dat staatsdepartemente geskoei is op die onderbou van onbevoegdheid.
  • Aanvaar dat logiese denke ‘n skaars kommoditeit binne regeringskringe is en besef dat jou sin vir humor jou hierdie feit hanteerbaar kan maak.
  • Aanvaar dat die SABC die spreekbuis van die regering was, steeds is en moontlik altyd sal wees.
  • Aanvaar dat baie Suid-Afrikaanse paaie besonder geskik is vir viertrek-voertuie en dat die land moontlik nooit Duitse autobahns sal he nie.
  • Aanvaar dat Eskom geen verband kan sien tussen kundigheid en kragvoorsiening nie. Waardeer die romantiek gekoppel aan kerse in die donker.
  • Aanvaar dat velkleur en politieke affiliasie in Suid-Afrika altyd boustene sal wees vir diskriminasie, nepotisme en bevoordeling.
  • Aanvaar dat die regering nooit tevrede sal wees met die demografiese samestelling van sportspanne nie (sokker uitgesluit).
  • Aanvaar die heersende strewe na middelmatigheid. Ten minste is daar ‘n strewe.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika se buitelandse beleid nou nie heeltemal is wat Madiba oorspronklik in gedagte gehad het nie.
  • Aanvaar dat onwettige immigrante altyd waardering sal toon vir die regering se lakse grensbeheer.
  • Aanvaar die pornografiese materialisme wat deurlopend skaamteloos tentoongestel word aan die groot meerderheid burgers wat in moedelose armoede leef.
  • Aanvaar dat die woordeboek se definisie van dienslewering nie geldig is in Suid-Afrika nie.
  • Aanvaar dat die name van stede en dorpe simbolies belangriker is as hoe daardie dorpe of stede bestuur word.
  • Aanvaar dat min Suid-Afrikaners ooit ‘n studie gedoen het van post-koloniale politiek in Afrika. Gun dus diegene wat steeds glo dat Suid-Afrika ‘n eldorado in wording is, hul verbeeldingsvlugte.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika ‘n Afrika-staat is en nie aan Westerse standaarde gemeet behoort te word nie.

My lysie het nou leeggeloop, maar ek dink die boodskap is duidelik: Aanvaar Suid-Afrika soos hy is . Ten spyte van vele menings, illusies, stemme en scenarios, gaan nie ek, jy of enige ander apologeet, idealis, denker of dromer enige noemenswaardige verskil maak nie.

This is as good as it’s gonna get .

Hou op kerm.

Hou op kla.

Hou op stribbel.

Hou op stry.

Hou op om jou siel te versaak.

Hou op raas.

Hou op rou.

Dis die lewe.

Dis soos dit is.

Dis Suid-Afrika.

Aanvaar dit nou!

Meesleurende Singapoer

S7300124

S7300251

S7300123

Waar kan ek nou begin om in enkele, eenvoudige woorde die oorrompelende, meesleurende ervaring, genaamd Singapoer, oor te dra? Dis inderdaad ‘n uitdaging om in blote woorde reg te laat geskied aan hierdie eiland-stadstaat.

S7300396S7300480S7300365

Miskien moet ek begin by dit wat vir my die mees opvallende kenmerk van Singapoer was. Dis die mees multi-etniese mengelmoes van mense wat ek in ‘n lang tyd raakgeloop het. Suid-Afrika het ook sy diversiteit, maar dis nie saamgedruk binne 700 of wat vierkante km nie (die stadstaat het die tweede hoogste bevolkingsdigtheid in die wereld). Maar Singapoer kan met reg ook aanspraak maak op die reenboog, al het die stad slegs 4 amptelike tale (Engels, Sjinees, Tamil en Maleis). Wat egter opvallend is, is dat dit nie bloot lippediens is nie, maar dat al vier tale in die praktyk gebruik word.

S7300380S7300411

Die diversiteit van Singapoer word veral weerspieel deur die verskillende godsdienste wat ‘n duidelike teenwoordigheid het. Dis glad nie vreemd om letterlik in dieselfde straatblok ‘n vergulde Boeddhistiese tempel, ‘n oorweldigend versierde Hindoe-tempel, ‘n minimalistiese Sikh-tempel, ‘n tipiese moskee en ‘n moderne Metodistekerk, te sien nie.

S7300439S7300516

Die tweede aspek wat Singapoer se ryke diversiteit vertoon, is die verskillende kosse . Singapoer is enige (avontuurlike) smulpaap se droom. As jy ooit Oosterse cuisine wil probeer, maar jy kan net een land besoek, dan is Singapoer jou logiese keuse. Hier kan jy 24-uur lank kies en keur wat jy wil eet en daarna sal jy nog steeds langgesig wees oor alles wat jy NIE kon probeer nie. Die Sjinese invloed op die cuisine is die grootste, synde dat Sjinese ook die meerderheid van die bevolking uitmaak. Dan is daar ‘n wye verskeidenheid Maleise kosse (kapenaars sal tuis voel), Indiese kosse, Thai, Koreaans, Nepalees, Tibetaans, Indonesies, Vietnamees ens. Natuurlik is daar ook westerse restaurante, indien jy terughunker na meer identifiseerbare disse. Ek dink die prentjie is duidelik.

S7300455S7300318S7300323S7300356

Met hierdie ryk verskeidenheid invloede was dit vir my effe vreemd dat een van die gewildste disse viskop-kerriesop is en, in dieselfde liga, kerrie-krap. Krap is natuurlik ook baie gewild in Korea (minus die kerrie), maar dit was nog nooit een van my gunstelinge nie. Ek het ook S7300311by verskeie restaurante paddas, vasgevang in klein hokkies, gewaar. Ek het nie vrae gevra nie en wou ook nie S7300354 noodwendig antwoorde he nie. Ek was heel tevrede met oa heerlike Laksa, Keoy Tow en ‘n skaapvleis-masala, gepaar met chappati . Natuurlik sal geen maaltyd in Singapoer afgerond wees, as jy dit nie afsluk met Singapoer se bekende Tiger-bier nie. En so van drinkgoed gepraat, jy kan op straat, byna oral waar jy gaan die lekkerste en varsste vrugtesap koop teen ‘n derde van die Tiger se prys. Dis hemels en word daar op die plek gemaak. Jy moet net kies uit die wye verskeidenheid vrugte wat beskikbaar is, insluitend vreemde vrugte wat ek van geen kant af ken nie en wat lyk of dit van ‘n ander planeet af kom. Later leer jy dat hierdie spesifieke vrugte doerian en pitaja (draakvrug) heet.

S7300213S7300596

Singapoer is duidelik Oosters, maar die Britse koloniale invloede hier is steeds baie sterk. Baie strate is vernoem na Britse adellikes en vele geboue is vernoem na die persoon wat gesien word as die stigter van Singapoer, naamlik Sir Stamford Raffles. Die beroemde Raffles-hotel is die bekendste van hierdie plekke. Hoewel Singapoer minder Oosters as bv. Seoul of Tokio is, le die stad se aantrekkingskrag juis in die samevloeing, van die Weste, die Indiese sub-kontinent, Suidoos-Asie en die Verre Ooste in ‘n multi-kulturele prutpot.

S7300534S7300322

Op straat word die etnisiteit daagliks uitgestal, waar jy die verskeidenheid mense kan waarneem. Jy loop interessante karakters raak, soos Yevgeni wat op die skepe werk (Singapoer is die besigste hawe in die wereld). Hy is van Letland en het my in gebroke Engels met kleur en geur vertel dat Letland se kos slegs is en die vrouens lelik! Nie so die petite Sjinese meisies wat by ‘n oorvloed massering-en refleksologie-salonne werk nie. Jy kan relatief goedkoop wegkom en die masserings is iets uit ‘n ander wereld.

S7300172

Die argitektuur in Singapoer word gekenmerk deur kontras. Baie meer so as wat ek al in ander wereldstede ervaar het. Die stadsgedeelte wat met duiselingswekkende hoogtes oor die waterfront (genaamd Marinabaai) waak (en waar ontwikkelinge steeds voortgaan) is in kontras met die ou-wereldse en kleurvolle koloniale styl skakelhuise, wat die “ou” stad verteenwoordig.

S7300310S7300308S7300518S7300307

Hierdie ouer dele van die stad het ‘n onmiskenbare sjarme en deur daar te wandel, voel dit soms asof dit De Waterkant of die Bo-Kaap kon gewees het. Om die waarheid te se, met die kombinasie van boustyle, maleise kosse, die hawe, die kosmopolitaanse gevoel en die kuierplekke langs die Marinabaai , het Singapoer bepaalde eggo’s van Kaapstad.

S7300177S7300191

Marinabaai word gedefinieer deur die bekende Esplanade (dit behuis oa winkels, restaurante, teaters en kunsgallerye) wat soos ‘n reuse geskutte S7300296 ondier boggelrug tussen die palmbome rus. Die ander landmerk in Marinabaai is die sogenaamde MeerleeuS7300299 (”Merlion”) wat aan die voet van die wolkekrabbers spierwit en trots staan en water spuit. Die verhaal van die leeu is ook die verhaal van hoe Singapoer sy naam gekry het. Singapoer was lank terug bekend as die eiland van Temasek (”sea town”), maar legende lui dat Maleise reisigers op die eiland ‘n driekleur leeu (komende uit Hindoe-mitologie) ontdek het en die eiland toe herdoop het na Singa (leeu)pura (stad). ‘n Meer verklaarbare verhaal het dit dat die naam verander is om bloot ‘n meer kleurryke naam te gee vir die stad waar die Maleise Sultan se kroon gesetel was.

S7300288

Aan die oorkant van Marinabaai is die reuse waarnemingswiel – die Singapore Flyer - onmiskenbaar. Die Flyer het in 2008 oopgemaak en Londen se Londen Eye vervang as die hoogste waarnemingswiel in die wereld (165m). Hierdie wiel draai baie stadig in die rondte en bied jou ‘n pragtige panoramiese uitsig oor die stad, wat jy andersins nie sou kon kry nie. Die indrukwekkende wolkekrabbers, die honderde en honderde skepe wat die seestrate vol le, Sentosa -eiland bekend vir sy vermaak en op ‘n helder dag, suidelike Maleisie en die noordelike eilande van Indonesie.

S7300287S7300220

Natuurlik is Singapoer is veral ook bekend vir sy streng wette en lae misdaadsyfers . Sommer met die intrapslag word dit duidelik in jou kop ingeprent wat jou voorland is as jy dit sou waag om dwelms die land binne te bring. Gevolglik het Singapoer byna geen dwelmprobleem nie en ‘n afwesigheid van ernstige misdaad (wie’t nou weerS7300471 S7300204gese die doodstraf is nie ‘n afskrikmiddel nie?). Ander wette sluit in baie streng strawwe vir oa rommelstrooi, rook waar jy nie mag nie, kougom spoeg en selfs indien jy sou nalaat om na gebruik ‘n openbare toilet te spoel! Hierdie wette (of sal ek nou eerder se die konsekwente toepassing daarvan) maak van Singapoer ‘n verfrissende skoon en veilige stad om te besoek. In sommige kringe word Singapoer van outokrasie beskuldig, maar mens kan eerlik nie ‘n sweempie van ‘n outoritere atmosfeer bespeur nie. Om die waarheid te se, meeste inwoners lyk baie gelukkig en is verseker trots op hulle stad.

S7300237S7300241

Maar moenie bang wees nie, jou grootste vrees in Singapoer is verseker nie die streng wette nie, maar eerder die stad se reputasie as ‘n inkopie-paradys . As jy perdalks Pagodastraat in Singapoer se Chinatown besoek (daar is ook Little India en die Arab Quarter), gaan jy heel moontlik bankkrot anderkant uitkom. Dis ‘n reuse deurloopmark met baie goedkoop klere en ‘n swetterjoel ander snuisterye en kosse wat ‘n aanslag op jou beursie loods. En nou noem ek nie eers die geweldige klomp uiters moderne en avant garde winkelsentrums wat regoor Singapoer le nie. By hierdie winkelsentrums kan jy enigiets koop waaraan jy kan dink, hoewel die pryse nie deurentyd die goedkoopste in die Ooste is nie.

S7300452S7300359

Klimaatsgewys is Singapoer egter geen stad waar ek myself permanent of selfs tydelik sou wou vestig nie. Ek is nou maar eenmaal nie aanmekaar gesit vir hitte nie en die tropiese humiditeit in Singapoer is dreinerend. Af en toe is daar ‘n paar spatsels reen, maar dit koel nie juis enigiets af nie. Om alles te kroon bly hierdie temperatuur dieselfde regdeur die jaar.

S7300583S7300504S7300514S7300430

Daar is nog soveel meer te doen in Singapoer waarvoor hier nie die nodige spasie is nie. Daar is Sentosa -eiland, ‘n fantastiese ondersee-akwarium, ‘n dieretuin wat beskou word as die beste in die wereld, die beroemde Jurung Voelpark en verskeie klein eilandjies en strande rondom Singapoer.

S7300328S7300458S7300326

Kortom, Singapoer is ‘n meesleurende ervaring wat glad nie teleurstel nie en ‘n land wat die moeite werd is om tyd en geld op te spandeer.

 

Selfmoord-spyskaart?

blogfoto

Miskien ‘n beter opsie as om jouself van ‘n krans af te werp…

« Previous entries Next Page » Next Page »